ANDRIES HENDRIK POTGIETER (1792-1852)
A
ndries Hendrik Potgieter was die leier van die tweede groot geselskap wat aan die Groot Trek deelgeneem het.
Hy is op 19 Desember 1792 in die distrik Graaff-Reinet gebore as seun van Hermanus Potgieter en Petronella Margaretha Kruger. Hy het later in die Tarka-distrik gewoon en hier is hy as ’n man van aansien beskou.
Potgieter se trek het voor die winter van 1836 in die omgewing van die Vetrivier aangekom en hier het hy van Makwana ’n groot deel van die Vrystaat geruil. In Mei daardie jaar het hy ’n tog na die Soutpansberg onderneem en vir Louis Trichardt opgesoek terwyl hy ’n deel van die Portugese pad na die kus verken. Hy het besluit om hom in Transvaal te vestig en die tog na die kus onderneem om voorlopige skikkings te tref met die oog op toekomstige handelsmoontlikhede. In Augustus was hy terug by sy laer maar die Matabeles het intussen die voorposte van sy trekgeselskap aangeval en ’n aantal mense is vermoor. Die Matabeles is by ’n tweede aanval by die Slag van Vegkop verslaan, maar die Trekkers het al hul vee verloor. Dit was algemeen bekend dat Potgieter saam met Gerrit Maritz ’n strafekspedisie teen Silkaats georganiseer het; hulle het sy krale by Mosega in Wes-Transvaal in sy afwesigheid oorrompel en ’n groot deel van die buit teruggeneem. Potgieter en Maritz het egter só erg oor die verdeling van die buit rusie gemaak dat hulle daarna kwaaivriende was.
Intussen het Piet Retief se trek by die ander aangekom. Sy persoonlikheid het dié van die ander oorskadu en toe daar in die winter nuwe leiers gekies is, is Potgieter oor die hoof gesien, hoewel hy intussen naam gemaak het deur sy skitterende geslaagde ekspedisie teen Silkaats. Daar is gesê dat Potgieter homself nie verkiesbaar wou stel nie omdat hy hom in Transvaal wou vestig. Hoe ook al; die trek se eenheid was iets van die verlede; Retief en Maritz het na Natal getrek terwyl Potgieter in die Vrystaat agtergebly het. Potgieter wou eers met Silkaats afreken. In November 1837 het Potgieter ’n tweede strafekspedisie teen die Matabele-koning uitgestuur. Na ’n reeks gevegte wat nege dae geduur het, is Silkaats se leer verjaag en die hele Matabele-stam is verplig om oor die Limpoporivier te vlug. Potgieter se kommando van omtrent 360 manne het daarin geslaag om die Matabele-leër van 20 000 man te verdryf. Wat die Slag van Bloedrivier en die daaropvolgende geveg aan die Wit-Umfolozi vir Natal beteken het, het Potgieter se oorwinning aan die Marico vir Transvaal beteken en die gebied is oopgestel vir die blanke beskawing. Natal was daarna nog net ’n paar jaar in die hande van die Voortrekkers terwyl die twee Boererepublieke uit die gebied wat Potgieter geruil en verower het, verrys het.
Potgieter het meestal die skuld gekry vir die mislukking van die ekspedisie wat hy en Piet Uys teen Dingaan gelei het. Die veldtog teen Silkaats was ’n bewys dat Potgieter nie ’n lafaard was nie, en ook nie ’n onbekwame leier nie, al het hy as mens en as leier nie dieselfde vertroue as Piet Retief ingeboesem nie. Terwyl Piet Uys en sy mense blindelings gestorm het tydens die Slag van Italeni, het Potgieter meer versigtig opgetree. As hy halsoorkop gehandel het, sou hy dalk as ’n held beskou word, maar die lewensverlies sou soveel groter gewees het. Hy is daarvan beskuldig dat hy sy landgenote in Natal in die steek gelaat het toe daar groot gevaar gedreig het.
Na sy terugkeer van Natal af het Potgieter sy plan deurgevoer om na Transvaal te trek, en voor die einde van 1838 het hy Mooiriviersdorp, of Vryburg wat vandag Potchefstroom is, gestig. Die mure van Potgieter se huis, asook ’n paar vrugtebome wat hy geplant het, is vandag nog op die plaas Witstinkhoutboom te sien. Intussen is Dingaan deur Andries Pretorius onderwerp en in 1840 is ’n verstandhouding met Pretorius aangegaan dat die Adjunkraad van die Transvaalse Trekkers onder die oppergesag van die Natalse Volksraad sou staan. Hierdie feit dui aan dat Potgieter nie die eiegeregtige alleenheerser was waarvoor hy aangesien is nie. Toe Natal egter in 1843 ’n Britse kolonie geword het, het Potgieter kommissaris Cloete in kennis gestel dat hy en sy volgelinge hulle nie gebonde geag het deur die onderwerping van die Natalse Volksraad aan Britse gesag nie. In 1844 is die Drie-en-dertig Artikels deur die Burgerraad, wat sedert 1842 die plek van die ou Adjunkraad ingeneem het, opgestel. Van toe af was Transvaal ’n onafhanklike republiek.
Potgieter het Potchefstroom in 1845 verlaat en Andries Ohrigstad gestig. Die rede hiervoor was dat die emigrante hulle op raad van Smellekamp noord van die 26ste breedtegraad , wat as die uiterste grens van die Britse invloedsfeer beskou is, wou vestig. Potgieter was onverbiddelik daarteen gekant om enigiets met die Engelse te doen te hê, maar anders as Pretorius, wat wou onderhandel en traktate wou sluit, het Potgieter sy heil in trek gevind. As gevolg van die invloed van die nuwe trekkers, wat intussen uit Natal aangekom het, is ’n nuwe Volksraad as oppergesag naas Potgieter ingestel. Dit het byna tot ’n openlike stryd gelei, maar die partye is uiteindelik versoen en daar is in 1847 ooreengekom dat die twee partye onafhanklik langs mekaar sou bly voortbestaan. Die koms van soveel nuwe intrekkers vanuit Natal wat waarskynlik sy invloed sou ondermyn, maar ook die feit dat Potgieter na groener weivelde gesoek het, het gemaak dat hy in 1848 na die Soutpansberg getrek het en die dorp Schoemansdal daar op die mees noordelike punt van die Boerebeskawing gestig het. Potgieter wou hom, anders as Pretorius, nie met Warden of Sir Harry Smith bemoei nie, en Pretorius het gevoel dat gewelddadige teenstand teen die Britte moontlik die enigste weg na vryheid vir die Voortrekkers was. Die Slag van Boomplaats het op 29 Augustus 1848 plaasgevind, maar hoewel Pretorius en sy manne op die vlug moes slaan, was daar slegs sewe sterfgevalle aan die Voortrekkers se kant en 22 aan die Britse kant. Sir Harry Smith wou hê dat Potgieter hom aan die Engelse kant skaar, maar Potgieter het volstrek geweier.
Potgieter en Pretorius se uiteenlopende standpunte oor die Engelse het persoonlike verwydering tussen hulle veroorsaak. Dit het tweedrag tussen die volk laat ontstaan maar in Mei 1849 het daar by Derdepoort ’n vereniging van alle Transvaalse emigrante tot stand gekom en Pretorius en Potgieter het tot mekaar begin toenader. Die versoening het by Rustenburg plaasgevind, nadat Pretorius in 1852 onafhanklikheid vir Transvaal gekry het.
Potgieter is op 16 Desember 1852 in die ouderdom van sestig jaar oorlede. Hy was getroud met Elizabeth Helena Botha wat reeds in 1841 gebore is. Altesaam dertien kinders is uit die huwelik gebore, maar sommige is jonk dood. Die Afrikaanse sanger Andries Hendrik Potgieter, wat lid van die sangpaar DZL is, is ’n sewendegeslag-afstammeling van die Voortrekkerleier.
deur Daantjie Badenhorst