13 MAART – SWART MIGRASIES IN SUIDER-AFRIKA
Die Groot Trek is makliker gemaak deur ’n reeks massiewe volksverhuisings wat aan die gang gesit is deur die Zoeloeleier Shaka nadat hy omstreeks 1816 opperhoof geword het. Oor die oorsake van hierdie verhuisings is daar verskil van mening, maar wat dit ook al was, die gevolge was ingrypend. Al sy swart bure moes swig vir sy gedissiplineerde krygers met hul steek-assegaaie. Diegene wat nie gedood of in die Zoeloeryk ingelyf is nie, het na die noorde, weste en suide uitgewyk. Dit het ingewikkelde volksbewegings meegebring. Toe een van Shaka se aanvoerders, Mzilikazi, oor die Drakensberg padgee om ’n eie ryk te bou, het hy tot in die Kalahari migrasies aan die gang gesit. Een van die gevolge daarvan was die ontvolking van uitgestrekte dele van Suider-Afrika. Aan die een kant was daar meer onbewoonde grond vir die wit emigrante beskikbaar, maar aan die ander kant kon die nuwe Zoeloe- en Matebele-despote makliker weerstand bied teen hul koms. ’n Tweede gevolg van die verhuisings was dat lede van verbrokkelde stamme die Kaapse grensdistrikte ingestroom en die lewe verder ontwrig het.
Onder die talle stamme wat die meeste gely het onder die opkoms van die Zoeloeryk op die Hoëveld het die migrasie as die Difaqane bekend geraak. Dit was nie alleen ’n massaverhuising nie, maar ook ’n revolusie, sê CFJ Muller. In enkele jare is die binneland oor tienduisende vierkante kilometer onherkenbaar verander. ’n Onberekenbare aantal stamme, klein en groot, is uitgemoor. Tienduisende vlugtelinge wat nie buitengewone skuilplekke kon uitsoek of buitengewone afstande, soos dié na die Kaapkolonie kon aflê nie, moes onder die blote hemel rondswerf. Verwilderde, desperate mense het soms uit nood, later uit voorkeur, begin om saam met roofdiere mense te jag. Van hulle het versot geraak op mensvleis.
Maar veral die groter roofdiere soos leeus en luiperds het gefloreer deur die jag van relatief onbeskermde vlugtelinge. In die huidige Noordwes het verkenningsekspedisies swart mense aangetref wat in groot bome en op pale vaste skuilplekke opgerig het. Oor hoeveel mense dood is, is daar verskil van mening. Een historikus meen dat sowat 300 000 deur ander opgeëet is. Die historikus GM Theal skat die totale lewensverlies op nader aan twee as een miljoen. Die getalle van die roofdiere en wild het toegeneem en vir wit en swart jagters het dit ’n paradys geword. In ieder geval het die getalsterkte van die swart mense afgeneem.
CFJ Muller skryf in Die oorsprong van die Groot Trek: “Jagters, ontdekkingsreisigers, handelaars, trekboere en sendelinge se wawiele het soms krakend oor mensegeraamtes gerol.” Wit mense, Griekwas, Korannas, Basters en sterker swart groepe wat na hierdie streke aangetrek is, is dikwels deur die gedemoraliseerde oorblyfsels van stamme as redders verwelkom. Vreesbevange vlugtelinge het ’n paar mans te perd met vuurwapens as potensiële beskermhere aangesien. Baie swart mense was bereid om met trekboere en Voortrekkers om beskerming te onderhandel. Bloot om beskerming, of met vleis en graan, sou baie bereid wees om tydelik in hul diens te tree. In hierdie jare van revolusie was baie swart mense soos klei in die hande van wit mense, Griekwas, Basters en swart leiers wat sekuriteit belowe het, skryf Muller.