DIE DERTIGERS: ’N DEBUUTBUNDEL WORD “GEDOOP”

Op 29 Maart 1934 het ’n merkwaardige klein seremonie by die huis van NP van Wyk Louw en sy vrou Joan in Kaapstad plaasgevind. Sy jonger broer, WEG Louw se eerste digbunbdel, Die ryke dwaas, is “gedoop”. Die digter en ’n mooi jong joernalis, Truida Pohl, het die boek soos twee doopouers vasgehou en sjampanje daaroor gesprinkel. Teenwoordig by die “doop” in die huis was ook ander skrywers: Izak van der Merwe, wat as Boerneef bekend sou raak, en Hettie Smit, wie se boek Sy kom met die sekelmaan (1937), net so ’n gebeurtenis in die letterkundige wêreld sou wees. Ander aanwesiges was Fred le Roux, ’n bekwame joernalis en in 1949 die eerste redakteur van Sarie Marais, en Truida se suster, Anna Neethling-Pohl, later ’n groot figuur as aktrise en regisseuse in die Afrikaanse toneelwêreld. Sy was getroud met Chris Neethling, ’n jong patriotiese landbou-ekonoom (Van Wyk Louw het hom die “Christiaan de Wet-tipe” genoem). Veral die jong mense het WEG Louw se gedigte geesdriftig ontvang. Die Hertzogprys aan WEG Louw was ’n vroeë erkenning aan ’n groep opkomende jong digters, die Dertigers. Van Wyk Louw se eerste bundel het toe nog nie verskyn nie. Iemand aan wie hy sy gedigte voorgelê het, het hulle afgekeur. Sy jongste broer het wel die waarde daarvan ingesien en sy bundel Alleenspraak het in 1935 die lig gesien.

Die Louw-broers en ander jong skrywers het krities na die Afrikaanse letterkunde gekyk. Vir hulle het die Afrikaanse letterkunde agtergeraak by die moderne Afrikaner. Van Wyk Louw het geskryf. “Ons staan nou voor ’n onverbiddelike keuse”: óf die ou motiewe tot in die oneindige herhaal, “óf ons letterkunde oopstel vir alle winde van die gees, dat alles wat die mense se hart vandag in beroering bring, ook daarin kan uiting kry”. Dit moet moontlik wees dat alles wat eerlik, sterk en mooi in ’n volk gedink en gesê kan word, ook in die volksliteratuur sy neerslag kan vind; “dit gaan om die geestelike status van die volk en die onafhanklike voortbestaan van sy letterkunde”.

Een van die jongeres, Abraham Jonker, het in ’n radiopraatjie gesê dat die jong Afrikaanse skrywers werk wil lewer wat “ons met trots sal kan opstapel langs die beste van Europa en Amerika, werke wat Afrikaans met ’n vaart na bowe sal haal”. Dit “sal my glad nie verbaas as daar in later jare in ons letterkundige geskiedenis gepraat sal word van die Manne van die Dertiger, Veertiger Jare, soos ons vandag praat van die Manne van Tagtig in Holland nie”. Jonker het gelyk gehad: dit het gebruiklik geword om na die Dertigers te verwys. Jonker, skrywer van kortverhale en romans, later koerantredakteur en omstrede politikus, was die vader van die digter Ingrid Jonker. Hy was anti-Nazi en ’n kampvegter vir die Jode wat in Nazi-Duitsland vervolg is.

As voorlopers van die Dertigers word beskou ID du Plessis en CM van den Heever. Eersgenoemde was lektor aan die Universiteit van Kaapstad, oudjoernalis en een van die skeppers van Afrikaanse sportterme. Du Plessis het ’n hele paar studies oor die Kaapse Maleiers gepubliseer. Sy proefskrif is uitgegee onder die titel “Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied” (1935). Van den Heever was ook ’n belangrike romanskrywer en professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Van sy bekendste romans is Somer en Laat vrugte. Laasgenoemde is met die Hertzogprys bekroon. Van hulle albei is later vir televisie verfilm, net soos ’n ander belangrike roman van dié tyd, naamlik En ek is nog hy (later getitel Bart Nel) van J van Melle (sien 14 September).

Nog twee Dertigers was Elisabeth Eybers en Uys Krige. Krige was lank in Spanje; by sy terugkeer kon hy nie by die “Gesuiwerde” koerant Die Burger werk kry nie, en is toe na twee “Smelter”-dagblaaie, eers Die Vaderland, toe Die Suiderstem.