DANKFEES OOR DE WET-VRYLATING WORD VIERING VIR AFRIKAANS

Die Randse Afrikaners het van die vrylating van De Wet ’n groot volksbetoging gemaak – ook op 23 Desember 1915 toe De Wet en sy vrou per trein na sy tuisdistrik Vrede vertrek het. Sowat 1 200 platformkaartjies is aan belangstellendes verkoop. Die Vrystaatse en Transvaalse volksliedere is gesing en De Wet is skouerhoog rondgedra. Teenstanders wou ’n teenbetoging hou, maar wanneer hulle iets begin sing, het Afrikaners “hoera geroep. Toe die trein vertrek, het ’n klompie mans in kakie die oomblik gunstig geag om die generaal uit te jou. Hy het nog by die venster gestaan, en toe die geboe begin, het De Wet “met die groot gebaar van ’n natuurlike aristokraat” (𝘋𝘦 𝘉𝘶𝘳𝘨𝘦𝘳) sy hoed afgehaal en vir hulle gebuig. Meteens was alles doodstil, en onder die lawaaimakers kon ’n mens toe “bijna ’n speld hoor val”. Duisende mense het hom ook op Jeppe- en Germiston-stasie toegejuig.

Die regering het De Wet verlof toegestaan om Dewetsdorp te besoek waar sy skoonouers woonagtig was. Die Dewetsdorpers het hom soos ’n held ontvang. Twee vroue het sy perd aan die teuels geneem en tussen twee rye vroue deurgelei tot by ’n verhoog. Die skare het hom telkens luid toegejuig terwyl hy gepraat het. Hy het egter by ander geleenthede sy plaas sonder regeringsverlof verlaat, en so die vrylatingsvoorwaardes verbreek. Genl. Botha het hom vermaan en herinner aan nog ’n voorwaarde: dat hy nie openbare byeenkomste mag bywoon nie. Later, toe ’n klomp mense by ’n koffiehuis om hom saamdrom, het De Wet gevra: “Sê my dan, hoe moet ek maak as die vergadering mý bywoon?” Maar ná Botha se vermaning het hy weggebly van ’n groot dankfees wat Vrede vir 3 en 4 Februarie 1916 gereël het. Tussen 8000 en 10 000 mense het met die trein, 543 ossewaens, 786 perdekarre en 75 motors gekom.

Onder die aanwesiges was mevv. Joubert en Eloff-Kruger wat die klementiebeweging begin het met hulle brief in De Volkstem. Dit was een van mev. Joubert se laaste optredes – op 8 September 1916 is sy oorlede. Teenwoordig was ’n hele paar Volksraadslede, dr. DF Malan, redakteur van 𝘋𝘦 𝘉𝘶𝘳𝘨𝘦𝘳, dr. TB Muller, jong Stellenbosse taalstryder-predikant, en J Kamp, redakteur van 𝘖𝘯𝘴 𝘝𝘢𝘥𝘦𝘳𝘭𝘢𝘯𝘥, ’n nuwe nasionale blad.

Treffend was op die dankfees die propaganda vir Afrikaans. Sedert 1914 het dit ’n duidelike simbool van Afrikaanse nasionalisme geword. Tobie Muller het sy lesing gehou oor “Onse Taal” en gesê dat hy as Kolonialer byna bang is om op Vrede oor dié onderwerp te praat. “Ik weet u het ons taal lief (gejuig), omdat die Afrikaner met die taal saam opgegroei het. Ons droom ook in die taal (toejuiging). Ons mag die Hollandse taal nie verwerp nie maar, laat ons die twee tale vergelijk bij ’n weduwe en haar dogter. Na die dogter opgegroei is tot ’n mooi jong nooi, gaat elkeen liewers na haar vrij (toejuiging)” (𝘏𝘦𝘵 𝘝𝘰𝘭𝘬𝘴𝘣𝘭𝘢𝘥, 11 Februarie 1916).

Teen dié tyd het die Afrikaanse beweging reeds dekades die idee gepropageer dat die Afrikaner ’n volk is wat ’n eie taal as simbool van sy identiteit moet hê. Die woorde “Een ider nasie het syn TAAL” was al die woorde van “Die Afrikaanse Volkslied” van die GRA. Dr. Malan het in 1908 gesê: “Verhef die Afrikaanse taal tot skryftaal, maak dit die draer van ons kultuur, ons geskiedenis, ons nasionale ideale, en u verhef daarmee ook die volk, wat dit praat. Hou egter die volkstaal op die voet van ’n half beskaafde provinsiale dialek, en u hou daarmee ook die volk op die peil van ’n half beskaafde ongeletterde volksklas.”