14 DESEMBER – 2 FEBRUARIE 1990

In November 1989 het die Berlynse muur, simbool van die Koue Oorlog tussen die Ooste en Weste geval. Dit was vir baie waarnemers die begin van die einde van die kommunisme. Die NP-regering kon nou aan sy kiesers sê dat die kommunisme nie langer ’n bedreiging is nie. Die klimaat vir ’n skikking het in elk geval in 1988 en 1989 dramaties verbeter, skryf Hermann Giliomee in Die laaste Afrikanerleiers. Die Sowjetunie se beleid om die Weste te verswak deur substansiële hulp aan bevrydingsbewegings in die ontwikkelende wêreld te gee, was op pad uit. Staatshoofde in Oos- en Midde-Afrika het toenemend druk op die ANC uitgeoefen om bevryding sonder geweld te oorweeg. Soms het die ANC-leier, Oliver Tambo, hom bloedig vererg vir sommige van hierdie leiers.

Die Afrikaners was verswak deur interne verdeeldheid oor die etiese krisis van “voortbestaan in geregtigheid”. “Ons is basies die likwidateurs van die firma”, het De Klerk volgens Giliomee in Desember 1989 aan Roelf Meyer gesê.

In dieselfde maand het die De Klerk-kabinet ’n bosberaad gehou oor hoe ’n nuwe verenigde Suid-Afrika daar moes uitsien: ’n land met gelyke regte en geleenthede vir almal en sonder bedreiging of verdrukking van die minderheidsgroepe. Die hele kabinet was gereed vir ’n “kwantumsprong”, sê De Klerk; hy moes ’n “paradigmaverskuiwing” maak. Die hele wêreld was verras oor alles wat hy op 2 Februarie 1990 by die opening van die parlement aangekondig het. Die eerste was om ’n verbod op te hef wat sedert 1960 bestaan het op die ANC, die PAC en sedert 1950 op die Kommunistiese Party. Verder sou Nelson Mandela en ander politieke gevangenes vrygelaat word. Mandela se vrylating was op 11 Februarie 1990. Oral ter wêreld is hy as held vereer. Alle oorblywende rasdiskriminerende wette is in 1990 en 1991 geskrap.

Dit het byna twee jaar geduur voordat onderhandelinge oor ’n nuwe grondwet kon begin op die eerste volle sitting van die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) op 20 en 21 Desember 1991 in die Wêreldhandelsentrum in Kemptonpark. Engels was die enigste onderhandelingstaal ondanks skerp kritiek hierop van Afrikanerkant. Die FAK het aangebied om ’n tolkdiens te reël. Dit was tevergeefs. Engels het die enigste taal gebly, en vir baie waarnemers was dit ’n onheilspellende teken.

Dit het vir baie mense gelyk asof die NP-regering op alle terreine ingee onder druk van die ANC. Op 19 Februarie 1992 het die KP in die kiesafdeling Potchefstroom ’n NP-meerderheid van 1583 in die 1989-verkiesing omgesit in ’n KP-meerderheid van 2140. Die volgende dag het De Klerk ’n referendum onder wit kiesers afgekondig. Dit is op 17 Maart 1992 gehou oor die vraag: “Ondersteun u voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat gerig is op ’n nuwe Grondwet deur onderhandeling?”

In een van die advertensies het die NP sy standpunt gestel: “As jy bang is vir meerderheidsregering stem Ja. Met ’n ‘ja’-stem kan ons doen wat die Rhodesiërs nie gedoen het nie – uit ’n posisie van krag onderhandel vir ’n demokratiese grondwet wat oorheersing sal verhoed en sekuriteit bied aan mense wat baie het om te verloor. ’n Grondwet wat jou reg op politieke vryheid sal beskerm, jou reg op jou eie godsdiens, jou eie waardes, jou eie taal, en ook jou reg op eiendom, spaargeld, beleggings, pensioene.”

Die ja-stem het die referendum met 1 924 186 stemme teenoor 875 619 gewen – ’n meerderheid van 1 048 567, oftewel 68,9 persent. Die Volksblad het die nuus aangekondig met die opskrifte: “’n JA-stoomroller/Boek van apartheid finaal toegemaak.” Maar ondanks die verwagting wat die advertensie geskep het, was Suid-Afrika op pad na ’n meerderheidsregering soos Namibië. Van ’n beloofde tweede referendum oor die finale grondwet is nooit weer iets gehoor nie.