14 FEBRUARIE – OPSTAND IN GRAAFF-REINET
Die bewindhebbers aan die Kaap was geneig om op ’n ander manier na die swart mense te kyk as die grensbewoners. Onder invloed van die Franse filosoof Jean Jacques Rousseau het die mense van Europa aan die einde van die 18de eeu begin dweep met sy idee van die “edele barbaar” in wie al die menslike deugde en voortreflikhede ongeskonde bewaar gebly het. Die Afrikaners was erfgenaam van die opvattings waarmee hul voorsate in die 17de eeu na Suid-Afrika gekom het. Die opvattings, wat in stryd was met dié van Rousseau, is versterk deur kontak met die swart mense. Die veranderde sienings van die 18de eeu het die Afrikaners nie beïnvloed nie.
Die verskil in opvattings was veral akuut in Graaff-Reinet – genoem na goewerneur J van de Graaff en sy vrou – wat in 1785 tot distrik geproklameer is. Mense soos Honoratius Maynier (wat soontoe gestuur is om landdros Moritz HO Woeke by te staan) was geneig om die meeste skuld vir alles wat aan die grens verkeerd geloop het, op die skouers van die wit mense te pak. Tog was hy ten gunste daarvan dat daar so min kontak as moontlik tussen wit en swart moes wees, en dat die Visrivier die definitiewe grens moes bly. Maar oor die toepassing van so ’n beleid was daar verskil. Die boere, wat blootgestel was aan die rooftogte van anderkant die grens, wou ’n ferme optrede hê, terwyl Maynier ’n vreedsame beleid van mooipraat en geskenke uitdeel wou volg. Hy het in sy brief aan die goewerneur artikels soos krale, messe, spieëls, koperdraad vir armringe, tabak, tonteldose, yster en vuurstene gevra om dit onder die swart mense uit te deel.
Al wat die grensboere wou hê, was behoorlike beskerming teen hul aanvallers. Maar hulle het al hoe meer besef dat daar van die afgeleefde ou Kompanjie geen heil te wagte was nie. Buitendien het een stuk nuus uit Europa op hulle indruk gemaak: die Franse Revolusie. Die grensboere het waarskynlik geredeneer dat as ander volke die reg het om van onpopulêre regerings ontslae te raak soos in Frankryk gebeur het, ook hulle daardie reg het. Buitendien het die wanbestuur veral een saak geraak waaroor elke volk en enkeling sterk voel, naamlik die beskerming van private eiendom.
In 1794 het die ontevredenheid, bitterheid en opstandigheid in Graaff-Reinet groter geword. Op 29 Januarie 1795 het ’n aantal burgers onder Adriaan van Jaarsveld naby Graaff-Reinet bymekaar gekom en ’n dokument opgestel waarin hulle verklaar het dat dit Maynier se oogmerk was om “het volk” die “spaanschen juk weder op te setten”. Dit was ’n verwysing na hul Nederlandse voorsate wat nie bereid was om onder die Spaanse juk te staan nie. Hulle het geëis dat Maynier en “zijn ontaarde cabale” van hul gesag sou afstand doen en padgee. Op 6 Februarie het die ondertekenaars die eis aan Maynier bekend gemaak, en is hy na die Kaap, terwyl die administrasie deur sy sekretaris voortgesit is.
Die antwoord wat die Graaff-Reinetters van die Kaap gekry het, het hulle nie tevrede gestel nie, en op 16 Junie 1795 het sowat 200 gewapende manne voor die landdroshof verskyn en die bestuur oorgeneem. Die Graaff-Reinetters het egter nie die eerste Afrikaanse “republiek” gestig, soos soms in later jare beweer is nie. Hulle wou nie onder die gesag van die Kompanjie staan nie, wel van Nederland.