14 MEI – SIEKTES EN MEDISYNE: EERSTE HOMEOPATIESE MIDDELS

Hoewel die meeste Afrikanergesinne groot was, het siektes soms talle lewens geëis, ook van kinders. Doodsberigte in die Kerkbode is soms aangrypend: ’n egpaar Smit maak op 12 Februarie 1859 bekend dat vyf van hul kinders binne ses weke oorlede is aan witseerkeel. Aan dieselfde siekte het ’n weduwee van Warrenton in die 1880erjare vier kinders in agt dae afgestaan, ’n egpaar van Colesberg vier kinders binne twintig dae; ’n egpaar van Cradock eweneens vier kinders in enkele weke, ’n egpaar van Jacobsdal “vier van ons dierbare kinderen, niet één overgebleven tot troost voor ons, ouders”. Die egpaar Paulsen van Fraserburg maak in 1885 bekend dat nege van hul kinders tussen 1873 en 1885 dood is. Die ergste is die aankondiging in 1890 deur ’n egpaar Du Plessis van Uniondale: “In ons 25-jarige huweliksverbintenis het ons nou 16 van ons kinders na die graf gedra. Ons swyg en vertrou op die Herder wat lammers in Sy arms vergader.”

In meer as een gesin het die kinders die siekte by mekaar aangesteek, soms nie. Petronella van Heerden, eerste Afrikanervrou wat dokter geword het, vertel in Kerssnuitsels dat ’n kind van Philippolis aan die einde van die 19de eeu witseerkeel gekry het. Die kind was amper dood, maar “die dokter het ’n gat in sy gorrel gemaak en ’n instrumentjie daarin gesit waardeur hy kon asemhaal.” Af en toe is dit skoongemaak, deur die “goed wat daar opgehoop het” met ’n buisie uit te suig. Die kinders het almal aan die buisie gesuig en heeldag by die kind gekuier. Waarom die hele dorp se kinders nie witseerkeel opgedoen het nie, is ’n raaisel, skryf sy.

In 1857 het Hugh Eaton begin om homeopatiese middels in Suid-Afrika in te voer, en in 1858 is ’n Nederlandse vertaling van die gids gepubliseer. Hoewel party dokters daarteen was, het dit gou oor die hele land versprei. Daarby het siekes soms allerlei sogenaamde “Boererate” gevolg. Party het gehelp, ander het geen skade gedoen nie, maar minstens een keer, in 1860 op Robertson, het dit ’n ramp veroorsaak. In dié tyd het ’n maselepidemie op verskeie plekke in die Kolonie gewoed. ’n Jong meisie het van die plaas af dorp toe gegaan om spesiale eredienste by te woon, moontlik van die opwekkingsdienste wat toe so gewild was. Sy was onbewus daarvan dat sy masels gehad het en het saam met haar verloofde kerk toe gegaan en verskeie mense aangesteek.

Die siekte is toe gedokter met “’n goeie raad” – ’n bokmis-aftreksel. ’n Ou bruin vrou is laat kom omdat sy geweet het hoe om die middel voor te berei. Tot almal se ontsteltenis het ’n verskriklike “koors”-epidemie uitgebreek. Dit was ’n skok toe die plaaslike geneesheer, ’n gebore Duitser, bevind het dat die bokmis met dodelike kieme besmet was. Hy het die publiek toegesnou: “Jullie kryg die koors van die goed wat jullie vir die masels gesuip het!” In die klein gemeenskap is 79 wit mense uit ’n bevolking van 700 dood. Die publiek het die pa van die verloofde dogter die skuld gegee. Haar verloofde het boonop die verlowing verbreek.

In die republieke was daar min dokters. Die eerste gekwalifiseerde dokter in Bloemfontein, dr. BO Kellner, het in 1863 daar begin praktiseer. Voor hom het sy swaer, CJG Krause, opgelei as sendeling van die Berlynse Sendinggenootskap, hom in 1854 as apteker op dié dorp gevestig. Hy het in Berlyn ook lesings in geneeskunde gevolg en het as dokter opgetree. In 1856 is hy amptelik as sodanig toegelaat. Lank was hy die enigste arts in Bloemfontein en feitlik die hele Vrystaat. Onder Engelssprekendes was hy nie so gewild nie, want hy het hom geskaar by die pro-republikeinse Nederlandse groep in Bloemfontein. Twee van sy seuns, OCH en JW Krause, het dokters in die Vrystaat geword.