![](https://afrikanergeskiedenis.co.za/wp-content/uploads/2023/07/14-Nov1.jpg)
VERNUWENDE EN OMSTREDE DIGTERS
Die letterkundige toneel is in die vyftigerjare oorheers deur NP van Wyk Louw en DJ Opperman. Byna elke jaar het daar ’n groot werk van een van hulle of van albei verskyn. In 1954 was dit byvoorbeeld Louw se Nuwe Verse en Opperman se drama Periandros van Korinte.
Vanuit Amsterdam, waar hy van 1950 tot 1958 professor in Afrikaans was, het Louw vir Die Huisgenoot ’n reeks essays geskryf oor literêre en algemeen kulturele aangeleenthede insluitende nasionalisme en die krisisse waarin klein volke kan beland. Veral laasgenoemde het gou ’n belangrike rol in die politieke lewe gespeel (kyk by 1, 6, 14 en 24 Desember).
Kort ná sy aankoms in Nederland het hy ’n liefdesverhouding aangeknoop met die digteres Sheila Cussons. Hy is in Suid-Afrika en Nederland daaroor gekritiseer, maar dit was ’n nuwe kreatiewe impuls vir sy werk. Die digter Daniel Hugo skryf: “Sonder Sheila Cussons sou heelwat van die gedigte in Nuwe Verse (1954) en Tristia (1962) nooit tot stand gekom het nie. Sonder Van Wyk Louw sou Cussons nie van haar mooiste gedigte geskryf het nie.” Hy gee in “Klipwerk” in Nuwe verse ’n beeld van die Rôeveldse wêreld en taal van sy jeug. Dit is “soms kru; vol seksuele verwysings en maskerings; obsene dinge; wreedheid; droewighede; vrolikheid; bygeloof; liefdesjaloesie; haat; spot; elementêre leef binne sensasies. As ons taalgebruik die soepelheid, konkreetheid, soms felheid van daardie ou taal verloor; as ons alleen die gladde, abstrakte, ‘beskaafde’ taal van die koerant en dokument gebruik – ’n taal waar die Engelse ribbetjies maar té sigbaar is onder die dun velletjie Afrikaans – dan sal ons werklik een van ons bestaansredes as volk verloor het.”
Die volkspoësie van “Klipwerk” was ’n teken van ’n nuwe toon en vormgewing. “Klipwerk” het opnuut belangstelling in die volkspoësie gebring. Die duidelikste blyk dit by die digter Boerneef wat aan Louw gesê het dat hy van “Klipwerk” niks hou nie, maar ná enkele jare poësie geskryf het wat verwant was aan Louw se werk.
In die vyftigs het ’n nuwe geslag letterkundiges op die voorgrond getree; Elize Botha, TT Cloete, Philip Grobler, E Lindenberg, Merwe Scholtz en FIJ van Rensburg, wat almal in Louw se tyd in Amsterdam was. ’n Groot en invloedryke kritikus was AP Grové, eggenote van die prosaskrywer er en dramaturg Henriette Grové Die gebore Vlaming Rob Antonissen was ’n belangrike kritikus vir Standpunte.
Afrikaanssprekendes was trots op hul digters. In watter mate hulle Suid-Afrika vereenselwig het met die Afrikaner, blyk uit ’n Saterdag-hoofartikel in Die Burger (31 Julie 1954; soos die destydse gebruik was, is dit waarskynlik geskryf deur ’n letterkundige medewerker van buite die koerant): “Suid-Afrika kan alleen Suid-Afrika bly as hy deur alles heen trou bly aan sy taal en die Afrikaanse poësie … en dit as die siel van die volk erken.”
’n Hele paar nuwe digters soos PJ Philander en Barend Toerien het begin publiseer. GA Watermeyer het baie lesers bekoor met verse soos: “Ek kelk die sonlig in my keel/ en rym die rondebessie ryp”. In 1954 het Ina Rousseau met Die verlate tuin gedebuteer. Teen die einde van die eeu was sy egter nog een van die mees onderskatte digters. ’n Kultusfiguur (maar skrywer van ’n aantal pragtige verse soos “Bitterbessie dagbreek/ bitterbessie son”) was Ingrid Jonker, dogter van die skrywer en politikus Abraham Jonker. Sy het ’n liefdesverhouding gehad met ’n ander skrywer, André P Brink. In Julie 1965 het sy selfmoord gepleeg deur die see by Drieankerbaai binne te stap. Nuwe inligting oor haar word verskaf in Ingrid Jonker – ’n biografie deur Petrovna Metelerkamp (2018). Soms was daar kwaai kritiek en polemiek. Peter Blum het in sy sterk debuutbundel Steenbok tot poolsee party lesers geskok met “Oor monnemente gepraat” weens sy siening van die Voortrekkermonument. Oor Opperman se “Kersliedjie”, waarin Christus “God se klong” is, is heelwat geskryf.
Volgens die uitgewer JJ (Koos) Human was die belangrikste rede vir die goeie verkope van digbundels in die 1950’s die gebrek aan goeie “middelklas-literatuur”. Die Afrikaanse digbundel is die enigste boek wat die behandeling kry wat elke belangrike uitgawe verdien. “Dit word nuus, dit word prominent bespreek; mense praat daaroor en baie koop dit óf omdat dit mode is óf omdat hulle darem ’n paar Afrikaanse boeke op die rak wil hê en voorkeur gee aan dié waaraan heelwat status verbonde is.” Politici, digters, skrywers, joernaliste, en dergelike vorm in die groot stede saam ’n intellektuele kring waarin die meeste taamlik dikwels kontak met mekaar het. Poësie word gereeld bespreek en die poësiekritiek is betroubaar.
Onder belangwekkende prosawerk was Die uur van verlange van WA de Klerk. Van die wêreldbekende dierkundige Con de Villiers was daar bundels bekoorlike sketse oor die Overberg. Hy het talle boeke uit die Skandinawiese tale in Afrikaans vertaal en die musieklewe op Stellenbosch gestimuleer. Onder die nuwe skryfsters was Elsa Joubert, Anna M Louw, Dot Serfontein, Elise Muller, Alba Bouwer en veral Audrey Blignault. Haar boeke soos In klein maat (1956), Die vrolike lied (1957), Met ligte tred (1962) is in duisendtalle verkoop. Audrey Blignault het sedert 1947 gereeld boekprogramme oor die radio aangebied en haar gewilde praatjies het bygedra tot Afrikaanse vroue se belangstelling in die letterkunde.