NP VAN WYK LOUW

NPvan Wyk Louw het gou die sentrale figuur in die Afrikaanse letterkunde en kultuurlewe geword. Die skrywer en historikus Karel Schoeman noem Louw “Suid-Afrika se grootste digter en een van die min figure van wêreldformaat wat die land nog opgelewer het.” Die Engelse skrywer Guy Butler sou hom beskou as “the greatest poet our complex society has yet produced; and one of the most sensitive and conscientious thinkers on such key issues as the relationship between language, culture and nationalism.”

Louw is op 11 Junie 1906 gebore op Sutherland waar sy vader prokureur was. In 1920 is die Louws na Kaapstad, waar Louw sy opleiding aan die South African College School en die Universiteit van Kaapstad gekry het. In 1929 was hy tydelike dosent en van 1930 tot 1949 lektor in opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het bekend geword met sy digbundels Alleenspraak en Die halwe kring (1937). Die Nederlandse digter-literator, HA Mulder, was van mening dat Louw met laasgenoemde bundel die Nederlandse poësie ewenaar, wat in dié tyd tot die beste ter wêreld gereken is.

In ’n aantal gedigte in Die halwe kring verwoord hy die vasbeslote, uitdagende Afrikaanse weerstand van die Anglo-Boereoorlog en die taalstryd daarna. In die 21ste eeu is die gedig “Miskien ook sal ons sterwe” aangebring by ’n gedenkmuur van gesneuwelde ABO-burgers op die terrein van die Vrouemonument. Die laaste strofe lui: “dat ons nie kon gebuig word / soos hul geweld dit wou, / en dat ons hoog kon lewe / net aan ons bloed getrou”. (By die gedenkmuur is hoog vervang deur vry; dit was immers ’n vryheidsoorlog.)

Louw se artikel “Die rigting van die Afrikaanse letterkunde” (1936) word beskou as ’n manifes van die Dertigers. Die eise wat ’n mens aan die literatuur stel, sluit in “eerlike, strenge, deur-dink van die lewe”, die gebruik van “die rykste verskeidenheid” woorde en beelde uit die hele lewe, woord- en vorm-suiwerheid en “onmiddellikheid voor God”. Die skrywer se woorde moet so eerlik wees as sterfbedwoorde; “alles, maar ook alles wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of sy smart maak, moet in ons literatuur sy neerslag kry”.

Afrikaanse nasionalisme impliseer “’n vurige meeleef met alles wat in die volk omgaan; dis ’n liefde vir die dinge wat die volk trotser en bewuster maak, wat hom stoflik ook sterker maak; dis ’n medelye met swaarkry en stryd teen dié wat hom laat swaar kry; dit is bitter haat teen alles wat kleinlik in die volk is en alles wat sy trots aantas en hom kleineer. Dit is die vaste wil om na eie kragte en buite alle loon om iets te doen wat die geestelike besit van die volk sal verryk.”

Vir hom was die politiek net “’n tegniese middel om ’n gestelde doel te bereik, maar dit is die kultuurskepper wat reg aan die doel, en dus aan die beweging, gee. Kultuur en politiek moet saamwerk soos oog en hand; sonder die politieke beweging is die kultuur soms nie by magte om sy pad te baan nie, maar sonder die kultuur is die politieke beweging altyd bloot ’n blinde gryp na mag.”

In ’n stuk oor die kunstenaar se angs, vertwyfeling en fanatisme formuleer hy een van die bestaansvoorwaardes van klein tale: die strewe om ’n volk met ’n eie taal te bly, kan net geregverdig word “deur die rykdom van onvervangbare waardes wat ons in dié taal voortbring”. Dat Louw as die grootste digter van sy tyd “onherroeplik verbind” was met “dié ding wat ons ’n ‘volk’ noem” (sy eie woorde in later jare), het help verseker dat Afrikanerintellektuele lojaal gebly het aan hul gemeenskap.

Sy eerste opstelle is in 1939 gebundel in Berigte te velde en Lojale verset. Laasgenoemde bevat die bekende leuse: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan” Dié boeke het ’n groot invloed op die intellektuele lewe van die Afrikaners gehad. Albei is later opgeneem in Versamelde prosa 1.