VERLIES VAN SELFBESKIKKING
Prof. Peter de Lange, voorsitter van die Broederbond, het op 5 Oktober 1992 voor ’n gehoor gesê dat “magsprysgawe” ’n “gesuiwerde” staanplek aan wit mense sal gee. “Al sê die politici ook wat, blankes moet aanvaar dat hul magsprysgawe permanent sal wees.” Die Afrikaanse meningsvormers en ander intellektuele het die taal- en ander gevolge van so ’n magsprysgawe nooit ernstig bespreek in die Afrikaanse media nie. Die “regses” was meer realisties, maar was sonder mediasteun. Die KP wou ook nie aan die onderhandelinge deelneem nie. Die 875 000 nee-stemmers was dus onverteenwoordig en kon by Kodesa geen druk uitoefen nie.
’n Belangrike gebeurtenis in die proses van magsoorgawe was die moorde in ’n ANC-plakkerskamp Boipatong op 17 Julie 1992. Minstens 43 mense is in faksiegevegte dood. Die ANC het op 23 Junie 1992 sy onttrekking aan Kodesa aangekondig en massa-aksies begin. In die noodlottige twee maande daarna was De Klerk onwillig om sterk op te tree. Die onderhandelings is op 1 April 1993 hervat in ’n uiters vyandige atmosfeer terwyl die wêreldmedia alles dophou.
Die posisie van die NP en die regering is verswak deur die moord op Chris Hani, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party by sy huis op Saterdag 10 April 1993. Dis gepleeg deur ’n verbitterde anti-Kommunistiese Poolse immigrant, Janusz Walus. Clive Derby-Lewis, ’n prominente leier van die KP, was ook betrokke. In die wraakaanvalle wat op die moord gevolg het, is meer as tien mense vermoor, honderde beseer en miljoene rande se skade aangerig.
Mandela het met groeiende selfvertroue De Klerk se aandrang op formele magsdeling verwerp. Bowendien was die NP-onderhandelaars nie opgewasse teen mense soos Cyril Ramaphosa van die ANC nie. Ons het “kinders” gestuur om met ervare mense te onderhandel, het oudminister Hernus Kriel later gesê. Roelf Meyer van die NP het in elk geval meerderheidsregering gou aanvaar.
Frederik van Zyl Slabbert skryf in Duskant die geskiedenis dat Cyril Ramaphosa hom vertel het dat, toe Roelf Meyer namens die regering die beginsel van meerderheidsregering op ’n kritieke vergadering aanvaar het, hy ’n verdaging vir vyftien minute gevra het “sodat ons opsy kon gaan na ons eie kamer en uitbars van die lag”. Joe Slovo, leier van die Kommunistiese Party, het gekraai: “Hulle het oor alles ingegee!”
De Klerk het in 1997 bevestig dat die “reg tot nasionale soewereiniteit” prysgegee is. “Die reg tot die handhawing van nasionale soewereiniteit, van mense om hulleself te regeer, word in baie lande as ononderhandelbaar beskou. Die meeste nasies sal bereid wees om die risiko van ’n algehele oorlog en katastrofe te loop eerder as om dié reg prys te gee.” In 1993 kon die meerderheid wit kiesers nog nie glo dat De Klerk dié reg sou prysgee nie. Verset het wel onder ’n minderheid toegeneem, ook weens opruiende slagspreuke soos “Kill the Boer, kill the farmer!” en “One settler, one bullet”, wat straffeloos deur ANC- en PAC-ondersteuners op vergaderings uitgeroep is. In Mei 1993 is ’n regse organisasie, die Afrikaner-Volksfront, gestig. ’n Beplande veldtog van massa-aksie vir selfbeskikking het egter gou doodgeloop.