’N ONBEVREDIGENDE GRONDWETLIKE ARTIKEL OOR TALE

Die ANC het Afrikaneronderhandelaars in die 1990’s “bewustelik mislei” en wou nooit die regte in die 1996-Grondwet eerbiedig nie. Dít het FW de Klerk op 21 Januarie 2018 in Rapport betoog in reaksie op die Konstitusionele Hof se uitspraak wat die verengelsing van die Universiteit van die Vrystaat as grondwetlik beskou het. Die opskrif van De Klerk se artikel is veelseggend: “Hof versaak minderhede”. Die hof het op 29 Desember 2017 die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal aan dié universiteit verbied omdat dit kwansuis ’n vorm van rassisme sou wees.

Naas oorgerustheid en onkunde het ander faktore ’n rol gespeel in die onderhandelinge oor die taalklousule van die huidige Grondwet. Ten eerste was Afrikaans die slagoffer van die teenstand teen apartheid. Teen die moontlikheid het talle intellektuele jare lank gewaarsku. Die tweede was die verdeeldheid in die taalgemeenskap. Daar was teenstellings tussen wit en bruin, en ook die Afrikaners was verdeeld. Kort ná 2 Februarie 1990 het ’n lang polemiek in die Afrikaanse media begin oor die vraag of Afrikaans in ’n nuwe Suid-Afrika een van die amptelike tale moes wees. Invloedryke skrywers soos André P Brink het gemeen dis onnodig, maar ’n hele aantal het gepleit vir die behoud van Afrikaans.

Hennie Aucamp het geskryf: “Wie die siel van ’n volk of groep wil vernietig, begin by sy taal. Verdiskonteer ’n man se geestesbesit en hy begin vervreem raak van homself. Dat talentvolle skrywers hul eie taal wil verraai, grens aan selfmoord. Geen kunstenaar doen tog vrywillig afstand van sy medium nie? Wat is hier in die spel: misplaaste idealisme, masochisme, opportunisme, blinde haat (teen wie?). Watter dank en respek verwag diegene wat Afrikaans as boetoffer na vreemde gode aandra?”

’n Derde faktor teen Afrikaans was dat ’n groot deel van die elite afstand gedoen het van Afrikanernasionalisme. Die Afrikaanse nasionalisme het soos alle bewegings dikwels van oogmerke en middele verander, maar een element het konstant gebly: taaltrots en sorg vir die taal. Die verswakking van Afrikaanse nasionalisme het ook ’n afname in taalgetrouheid meegebring. Ná 1992 het die prominente NP-ministers in die openbaar oor taal geswyg. Tot dan het veral dr. Gerrit Viljoen die behoud van die status van Afrikaans sterk verdedig. Viljoen moes hom egter in 1992 aan die openbare lewe onttrek weens Parkinson se siekte. Die stem van die vernaamste verdediger van Afrikaans in die politiek het stil geword.

Ten slotte was daar nog één belangrike faktor teen Afrikaans. Dit is die feit dat die ANC, ’n amptelik Engels-eentalige Suid-Afrika wou hê, terwyl dit seker was dat dié organisasie die seggenskap sou hê in die soort staat wat deur die “Declaration of intent” van Kodesa in die vooruitsig gestel is, naamlik “an undivided South Africa with one nation”. Vir Nelson Mandela en ander swart leiers was algemene stemreg op gesamentlike kieserslyste in ’n eenheidstaat die ononderhandelbare voorwaarde vir onderhandelinge.

Afrikaners wou nie die amptelike status van Afrikaans prysgee nie. Die NP-regering se plan was dat Afrikaans en Engels amptelik bly, maar dat enige streekowerheid deur spesiale wetgewing een of meer van die ander tale kan byvoeg. Dit was vir die ANC onaanneemlik: “As ons net Afrikaans en Engels as ampstale aanvaar, kan ’n mens vra wat doen ons hier en waaroor gaan die proses?”

Op 10 November 1993 het die ANC sy sin met ’n omweg verkry – deur aan elf tale landwye amptelike status te gee: Afrikaans, Engels, isiNdebele, Sesotho sa Leboa, Sesotho, siSwati, Xitsonga, Setswana, Tshivenda, isiXhosa en isiZulu. Die gevolg van so ’n besluit was te voorsien. Dit was dat net die polities oorheersende taal, Engels, hieruit voordeel sou trek. Die verteenwoordiger van die Washington Post was van mening die besluit gee die regering die geleentheid om die elf te reduseer tot een. “Hulle raak klaarblyklik op onregstreekse wyse van Afrikaans ontslae – wat die slimste manier is om dit te doen.”

Ander bepalings het betrekking gehad op die nie-vermindering van bestaande taalregte en status; die uitbreiding van die regte en status van tale wat beperk is tot streke en die reg vir alle mense, waar prakties moontlik, om enige van die nasionale en provinsiale amptelike tale te gebruik.

Die finale Grondwet is op 8 Mei 1996 deur die Grondwetgewende Vergadering goedgekeur; die taalklousule op 30 April nadat “belanghebbendes by taalsake buite die grondwetlike proses” aldus n koerantberig geraadpleeg is en “die nuwe klousule wye aanvaarding gevind het”. Die ANC het botweg geweier om weer die bepaling insake die nie-inkorting van die bestaande taalregte en -status op te neem. Dit is vreemd dat die Afrikaanssprekende onderhandelaars genoeë kon neem met hierdie weiering en dat die belangrikste kultuurleiers en akademici in die openbaar baie positief op die klousule gereageer het. Hulle het klaarblyklik nie die gevolge van die weglating insake die nie-inkorting van status voorsien nie. In werklikheid het hulle hiermee afstand gedoen van die belangrikste riglyn in die Afrikaanse taalpolitiek, naamlik gelyke regte vir Afrikaans en Engels. Engels is nou die enigste taal waarin alle wette gepubliseer word. Afrikaans en die ander tale word afgewissel. Talle belangrike wette is nie in Afrikaans beskikbaar nie. Dit het die onderhandelaars nie gehinder dat die 1996-Grondwet weggedoen het met die beginsel van die gelyke behandeling van die amptelike tale nie. In die plek daarvan kom die vae beginsel van gelykheid van aansien en billike behandeling. Soos die geskiedenis aangetoon het, was dit leë woorde.

Die diskresionêre aard van die taalartikel het dit maklik gemaak om dit te ignoreer. Dit maak nie voorsiening vir streng voorskrifte van hoe die tale behandel moet word nie. Soos ’n regsgeleerde, Koos Malan, betoog, is die voorskrifte van die taalbepalings vaag en vestig hulle ’n betreklik breë diskresie en interpretasie-ruimte vir hoe wetgewers, die uitvoerende gesag en ander staatsorgane teenoor hierdie tale mag optree. Watter betekenis moet geheg word aan frases soos gelykheid van aansien en billike behandeling?

Verskeie taalkenners het die taalklousule gekritiseer en hul vrese is gou bewaarheid. Engels het in die praktyk die enigste amptelike taal geword. Die gouste kon die publiek daarvan kennis neem toe Afrikaans drasties afgeskaal is oor die SAUK se televisiediens. Daar was selfs ’n plan om vir die nuusuitsending slegs Engels te gebruik, maar deur die toedoen van groot adverteerders het dié plan skipbreuk gely. Amptelik het dit die SABC geword met Engels as ankertaal.