AFRIKANERREBELLE WORD TEREGGESTEL

Weens Boere-invalle in die Kaapkolonie is krygswet na al hoe meer distrikte uitgebrei totdat dit op 17 Januarie 1901 oor die hele Kolonie van krag was behalwe in die hawestede, in Wynberg en in die swart gebiede. Die Britse militêre owerheid het alle gesag gehad en van ’n normale lewe kon daar geen sprake meer wees nie. Mense moes mooi oppas wat hulle sê, want ’n onversigtige uitlating kon lei tot aanklagte van sedisie of selfs hoogverraad. Mense is gearresteer sonder dat hulle ooit aangekla is. Verkeer tussen die verskillende dele van die Kolonie is omtrent heeltemal lam gelê. Die militêre owerheid het dikwels op Afrikaners se besittings soos vee, perde, karre en waens beslag gelê sonder om hulle te vergoed. Armoede en ellende was die gevolg.

Honderde Afrikaners het voor militêre howe verskyn op aanklag dat hulle die een of ander vorm van rebellie gepleeg het. Baie het inderdaad die wapen opgeneem teen die owerheid. Vir hulle was daar ’n botsing tussen lojaliteit aan die wettige staatsgesag en getrouheid aan die volk. Die Afrikaners was reeds ’n geestelike eenheid, en ’n Afrikanerindividu het gevoel dat wat ’n volksgenoot aangedoen word, ook hom of haar raak. Aan die volk was die Afrikaners geestelik en liggaamlik verbonde, terwyl die owerheid so dikwels vreemd teenoor hulle gestaan het. Daarom het trou aan die volk vir duisende Afrikaners die deurslag gegee. Hulle het die morele wette hoër geag as die landswette.

Die militêre howe het 1012 mense tot gevangenisstraf veroordeel en 34 Afrikaners tereggestel. Sommige van hierdie Afrikaners is onskuldig veroordeel. Op 19 Augustus 1901 is PJ Fourie byvoorbeeld in Graaff-Reinet tereggestel op aanklagte van aansluiting by die republikeinse magte, poging tot moord, plundering en brandstigting. ’n Brit, FW Folwer, wat Fourie as ’n saggeaarde man geken het, het geskryf: “The blood of those simple farmers will cry to the Almighty for vengeance, and the mills of God, if slow, are sure.”

’n Kleinseun van Andrew Murray is ook tereggestel. Veldkornet Willie Louw is op 23 Januarie 1901 op Colesberg gefusilleer omdat hy ’n rebel was. Sy ma was ’n dogter van Murray en sy pa die later bekende ds. AA Louw. Willie Louw het saam met sy kommando vir pres. Steyn op die lang en gevaarlike tog na Waterval-Boven vergesel om met pres. Kruger te praat voordat hy na Europa vertrek het.

Die politikus John X. Merriman was ’n tyd onder huisarres. Drie redakteurs (FS Malan van Ons Land, J de Jongh van The Worcester Advertiser en JA Vosloo van Het Oosten) moes tronk toe omdat hulle genl. French sou belaster het, terwyl Albert Cartwright van The South African News moes tronkstraf uitdien omdat hy Kitchener sou belaster het. Malan en Cartwright was twaalf maande in die gevangenis, die ander twee ses. Malan het, soos reeds vermeld, in 1895 op 24 jaar ná ’n aanbod van Onze Jan Hofmeyr redakteur geword. Hy was een van die skerpste aanvallers van Rhodes ná die Jameson-inval en het al meer na vore getree as toekomstige leier van die Afrikanerbond.

Die oorlog het dus nie net Vrystaters en Transvalers geraak nie, maar ook Kaapse en Natalse Afrikaners. So het die oorlog een van die kragtigste faktore geword wat die eenheidsgevoel onder Afrikaners in alle dele van die land versterk en ’n gees van nasionalisme aangewakker het. Die lot van tereggesteldes het ’n groot indruk gemaak en later die tema geword van letterkundige werke soos C Louis Leipoldt se groot gedig “Oom Gert vertel” en DF Malherbe se eerste roman Vergeet nie.