DR. HF VERWOERD NEEM OOR

Dr. HF Verwoerd was die opvolger van premier JG (Hans) Strijdom, wat in 1958 oorlede is. Strydom het in 1954 as eerste minister by dr. DF Malan oorgeneem. Verwoerd was die seun van Nederlandse immigrante en het sy vroeë onderwys in Rhodesië geniet. Daarna is die familie na Brandfort, maar ondanks ’n verandering in sy onderwysmedium het die jong Verwoerd in 1919 die eerste gestaan in die Vrystaat en vyfde in die land in die matriekeksamen. Daarna is hy na Stellenbosch, het ook in Duitsland gestudeer en die eerste professor in sosiologie aan die Universiteit van Stellenbosch geword. In 1937 het hy die akademie verruil vir die koerantwese en die eerste redakteur geword van Die Transvaler. In 1948 was hy kandidaat, maar het die verkiesingstryd verloor, senator geword en in 1950 minister van naturellesake. In dié hoedanigheid was hy opvolger van die gematigde dr. EG Jansen, wat Goewerneur-generaal geword het. Jansen was ’n baie bekwame Speaker, ’n groot kultuurman en nie ’n sterk ondersteuner van apartheid nie.

Verwoerd, daarenteen, was ’n man met dryfkrag. Sir John Maud, Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, het in dié tyd, nadat hy die ministers almal ontmoet het, vir Piet Cillié, redakteur van Die Burger, gesê hy weet nie waarom daar ’n stryd was oor die leierskap nie: “Dr. Verwoerd is so obviously the Prime Minister.”

Hermann Giliomee gee in Die laaste Afrikaner-leiers (2012) ’n ewewigtige beskrywing van Verwoerd se idees. In talle toesprake het Verwoerd die waarskynlike roete van integrasie uitgespel – “en wanneer ’n mens van 2012 af terugkyk, kan jy toegee dat sommige van sy voorspellings heel skerpsinnig was”. Apartheid het volgens Verwoerd ’n beter toekoms gebied vir sowel die wit mense as die ander gemeenskappe. As finale stadium van apartheid het hy ’n “gemenebes” van “nasies” en “state” in die vooruitsig gestel, met leiers wat voortdurend met mekaar beraadslaag en saamwerk. Hy het ’n stelsel van massa-openbare onderwys vir swart en bruin leerlinge ingestel wat primêre onderwys met die oog op basiese vaardighede beklemtoon het. In daardie stadium het die arbeidsmark ongeskoolde en halfgeskoolde swart arbeid vereis, eerder as goed opgeleide skoolverlaters wat witboordjiewerk sou verwag, sê Giliomee.

’n Belangwekkende aspek van sy Wet op Bantoe-onderwys van 1953 was dat die moedertaal sover moontlik as voertaal moes dien. Een rede vir die bittere stryd teen die wet was juis die beleid van moedertaalonderrig. Swart ouers wou onderwys deur Engels hê.

In 1954 het Verwoerd die Wet op die Hervestiging van Naturelle laat aanneem om die woontoestande van swart mense binne die apartheidsraamwerk te verbeter. Dit het die opruiming van “swart kolle” in wit stede ingehou. Daar was heelwat protes teen die verskuiwing van swartes uit Sophiatown; party het daar eiendomsreg gehad. Anders as verwag, was daar geen verset nie, en selfs vreugdebetoon toe die eerste vragmotors die mense vervoer het na Meadowlands, tans deel van Soweto. Die naam is ’n afkorting van South-Western Townships.

Kritiek op apartheid het voortgeduur. Dawie, rubriekskrywer van Die Burger, het in 1959 klein apartheid gekritiseer – “maatreëls wat irriteer sonder om iets behalwe ergernis te bereik”. Hy het verwys na ’n dreigement om subsidie vir ’n Pietermaritzburgse uitvoering van Händel se Die Messias op te skort as dertig “nie-blankes” dit bywoon.

Baie Afrikaners het klein apartheid in al hoe groter mate verwerp, selfs, of veral, as hulle ondersteuners van groot apartheid was – die beleid van afsonderlike ontwikkeling. In 1956 is die verslag van ’n kommissie onder prof. FR Tomlinson oor die ontwikkeling van die swart gebiede gepubliseer. Die kommissie het afsonderlike ontwikkeling in plaas van integrasie van swart en wit aanbeveel, asook die ontwikkeling van die swart gebiede. Die regering het die meeste Tomlinson-aanbevelings aanvaar. Verwoerd was egter daarteen dat wit sakemanne geld in die tuislande moet belê vir die ontwikkeling van nywerhede. Hy het gemeen wit nyweraars sou die swartes ontneem van wat hul eie is. Pleks daarvan is in 1959 die Bantoe-ontwikkelingskorporasie gestig.