PIERNEEF, MOERDIJK EN ANDER KUNSTENAARS
Afrikaners het in toenemende mate ook die beeldende kuns beoefen. Onder die eerste skilders was Gregoire Boonzaier, WH Coetzer, Maggie Laubser, E Mayer, Hugo Naudé, JH Pierneef en Pieter Wenning.
Jacob Hendrik Pierneef (1886–1957) is in Pretoria gebore. Met die Britse besetting van die stad moes sy Nederlands-gebore vader, Gerrit Pierneef, kies tussen gevangenskap of deportasie. Die gesin het in April 1901 na Nederland verhuis, maar in 1902 weer na Suid-Afrika teruggekeer. Pierneef was die eerste Suid-Afrikaanse beeldende kunstenaar wat ’n heeltemal nuwe uitbeelding van die Suid-Afrikaanse landskap gebring het. Hierin is hy ’n ware pionier van die beeldende kunste. Van sy bekende werke is 32 skilderye vir ’n nuwe stasiegebou in Johannesburg in sy bekende “Pierneefstyl”. Dié opdrag het hy in 1929 gekry en die werk in 1932 afgehandel. Hierdie 32 werke beeld natuurtonele en geskiedkundige Suid-Afrikaanse plekke uit. Die panele kan vandag steeds in Graaff-Reinet besigtig word en word dikwels as van sy beste werke beskou.
Pierneef het onder andere les geneem by en is beïnvloed deur Frans Oerder (1867–1944), wat by die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog by die Boeremagte aangesluit en Suid-Afrika se eerste amptelike oorlogskunstenaar was. Sy sketse het ontstaan teen die agtergrond van die gevegte in Natal en die wesfront. Oerder is in 1908 om geldelike redes na Nederland maar het kontak met Suid-Afrika behou, en in 1938 teruggekeer.
Ook betrokke in die oorlog was Gerard Moerdijk (1890–1958). Terwyl sy vader op kommando was, was sy ma en die vyf kinders in die konsentrasiekamp op Standerton. Die jong Moerdijk het ’n deeglike opleiding in Londen gehad en as argitek ’n nuwe rigting in die kerkboukuns ingeslaan. Hy het talle kerke en ook die Voortrekkermonument ontwerp.
Die eerste groot opdrag van Anton van Wouw (1862–1945), reeds genoem as beeldhouer van die Vrouemonument, was aanvanklik ’n teleurstelling. Die magnaat Sammy Marks het in 1895 £10 000 aan die Transvaalse regering aangebied om ’n standbeeld vir pres. Kruger op te rig. Van Wouw se ontwerp is aanvaar. Nadat hy drie jaar lank in Italië gewerk het aan die beeld, omring deur vier burgers as troue wagte, breek die oorlog uit en die beelde het in Lourenço Marques bly lê. Kitchener het Marks oorgehaal om die vier Boerefigure aan hom te skenk en hy het hulle na Engeland gestuur. Die Krugerbeeld het in ’n skuur agtergebly. In 1913 is Kruger se eensame figuur in Prinsepark, Pretoria, geplaas. Op die ou end is die vier Boerefigure teruggekry. Weens politieke twiste is die Krugerbeeld en sy brandwagte eers op 10 Oktober 1954 in die middel van die Kerkplein, Pretoria, onthul. In 2015 is hulle weereens om politieke redes gevandaliseer.
Die grootste werk van Coert Steynberg (1905–1982) is die Bloedriviermonument op die Bloedrivierterrein in die distrik Utrecht. Dis tussen 1936 en 1938 ontwerp en in 1947 onthul. Hy het deur die jare talle buitelandse eerbewyse ontvang; in 1953 was sy werk een van die tien gekeurdes in ’n internasionale kompetisie vir ’n monument vir die onbekende politieke gevangene voor die Unescogebou in Parys. ’n Omstrede beeld van hom was die Vredesmonument by Vereeniging (1961) wat die geestelike herlewing van ’n oorwonne volk simboliseer.
Bekend vir onder meer sy uitbeelding van historiese gebeurtenisse en figure is die skilder WH Coetzer.
Die teenwoordigheid van soveel kunstenaars wat in Nederland gebore is, is ’n aanduiding van die groot betekenis wat Nederlanders veral tot met die Tweede Wêreldoorlog in die Afrikaanse kultuurlewe gespeel het. Onder hulle was ook skrywers soos J van Melle en Jochem van Bruggen, joernaliste soos Frederik Rompel, ’n uitgewer soos Jan van Schaik, akademici aan feitlik elke universiteit en dr. FV Engelenburg, wat jare lank die werk van die Akademie vir Taal, Lettere en Kuns behartig het. Dr. Gerard Moerdijk het aan ’n Afrikaanse joernalis, Jannie Kruger (later redakteur van Die Ruiter en Die Transvaler), vertel dat Engelenburg hom dikwels vergesel het wanneer hy “hemelse werk” as boumeester van kerke besoeke aan dorpe moes bring.
Engelenburg het met sy skraal gestalte en bokbaardjie baie na genl. Jan Smuts gelyk en mense het hom dikwels vir die generaal aangesien. Eendag terwyl die generaal in Skotland was, het hy Moerdijk na Kroonstad vergesel.
Terwyl Moerdijk besig was, het Engelenburg op die hotelstoep gesit. Daar kom toe ’n ouerige man aan wat Smuts in die Anglo-Boereoorlog laas gesien het. Hy mik-mik so na Engelenburg en stap op laas nader met die uitroep: “Allawêreld, Generaal en hoe gaan dit nog?”
“Helemaal wel”, antwoord Engelenburg onderwyl hy opstaan en buig, “maar ik ben nu niet hier, ik ben in Schotland”.