
SANTAM EN SANLAM KOM TOT STAND
Die Helpmekaar en advertensieboikotte teen De Burger en De Volkstem het Afrikanernasionaliste ook ekonomies bewus gemaak. Veral die boikotbeweging teen De Burger het die solidariteitsgevoel en offervaardigheid versterk. Verontwaardigde lesers het kolomme vol daaroor geskryf. ’n Vrou het na die koerantkantoor gekom met al haar en haar man se spaargeld as bydrae om die boikot te bestry. De Burger kon standhou en in September 1917 het die Nasionale Pers Het Volksblad oorgeneem. Die boikot het gevolg op ’n skerp kritiese hoofartikel oor die Geallieerdes.
Die sukses van die Helpmekaar het Afrikaners laat besef dat hulle ondanks die algemene armoede heelwat geld het. A MacDowell, ’n gebore Skot met ’n Afrikaanse vrou, het met sy kennis van die bank- en versekeringswese die moontlike sukses vir ’n Afrikaanse versekeringsmaatskappy in 1917 ingesien en met Afrikaners daaroor gepraat. Die plan was om dit buite die politiek te hou, maar genl. Botha het botweg geweier om iets daarmee te doen te hê. Net Kaapse Nasionaliste het toe voortgegaan. In November het CG Fichardt, FH Dormehl, AFJ Benning, WA Hofmeyr, CR Louw, PA Malan en MacDowell in Kaapstad ’n Afrikaanse versekeringsmaatskappy gestig. Op 21 Januarie 1918 het die voorlopige direksie die naam Suid-Afrikaanse Nasionale Trust en Assuransie Maatskappy (Santam) aanvaar. Dit is op 21 Maart 1918 geregistreer.
Santam sou behalwe trustwerk alle soorte versekering onderneem, maar het besef dat so iets tot probleme kan lei. Daarom is die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewensassuransie-Maatskappy (Sanlam) op 8 Junie 1918 geregistreer met ’n uitgereikte kapitaal van £25 000. Twee maande daarna het die direksie besluit om lewensversekering van industriële versekering te skei. Sanlam, wat maar £20 000 aan opbetaalde kapitaal beskik het, het die aandele van die African Homes Trust and Assurance Company vir £150 000 oorgeneem. Laasgenoemde se direksie het daartoe ingestem om ’n oorname deur die Johannesburgse geldbaas IW Schlesinger af te weer.
Die oorname van Homes Trust het tot ’n bittere veldtog van twee Kaapse Engelse weekblaaie teen Sanlam gelei. Omdat Fred Dormehl, die bestuurder, en ander direkteure ook Nasionaliste was, is politieke aanvalle op hulle gedoen. Daar was ook ’n hardnekkige opvatting dat die Afrikaner geen sakeman is en in die sakewêreld niks kan uitrig nie. WA Hofmeyer en ’n paar ander se Afrikaanse Handelshuis was juis ’n mislukking.
Maar Sanlam het goed gevorder en in 1920 £62 000 se aandele in die Vrystaatse Eksekuteurskamer gekoop. Dié is egter in 1922 gelikwideer, waardeur Sanlam 60% van sy kapitaal verloor het. Bankrotskap het onvermydelik gelyk. ’n Afvaardiging van die direksie het gaan praat met die hoofbestuurder van die Standard Bank, John Jeffrey. Hulle het verduidelik wat gebeur het, en sonder veel hoop sy hulp gevra. Tot hul verbasing het hy sy vertroue in Sanlam uitgespreek en onderneem om goed te staan vir watter bedrag hulle ook nodig mag hê. Die vertroue is nie beskaam nie en op 30 September 1923 was die skuld aan die bank ten volle gedelg en was daar ’n krediet van £18 200.