AFRIKAANS KRY OORWELDIGENDE STEUN
Nadat Preller sy reeks gepubliseer het in De Volksstem (De Volksstem het op 1 Januarie 1905 een -s verloor maar eers op 1 Januarie 1927 Die Volkstem geword), het hy dit as geheel in pamfletvorm uitgegee. Ander koerante het dit oorgeneem. Die reaksie was oorweldigend positief.
Gerespekteerde leiers soos pres. Steyn, genl. De Wet en genl. Louis Botha, asook joernaliste, predikante en regsgeleerdes het aan De Volkstem laat weet dat hulle saamstem met die strekking van Preller se artikels. Groot indruk het dit veral gemaak dat pres. Steyn, “die grote man van ons volk”, die beweging gesteun het, skryf ’n leser op 31 Desember 1908 in Ons Land. Ander wat instemming met Preller betuig het, was prof. Lion Cachet en ds. JD du Toit van Potchefstroom, Nico Hofmeyr van die Normaalkollege, Pretoria, adv. Eugène Marais van Pretoria, adv. JHH de Waal van Kaapstad, adv. NJ de Wet van Pretoria, die redaksies van De Vriend des Volks (Bloemfontein), De Afrikaner (Pietermaritzburg), Land en Volk (Pretoria), De Transvaler (Johannesburg), De Goede Hoop (Kaapstad) en De Volkstem (Pretoria), asook die dosente en studente van die Potchefstroomse teologiese skool.
Toe Preller se betoog in 1905 as brosjure verskyn (Laat ’t ons toch ernst wezen! Gedachten over Afrikaanse schrijftaal), het Engelenburg die voorwoord geskryf. Hy het gesê dat Frederik die Grote nooit ’n geheim gemaak het van sy oortuiging dat die taal van die volk (Duits) nie vir beskaafde doeleindes deug nie en tuis hoort in kaserne en bediendekamer. Vir hom was Frans die taal van die beskaafde mense. En terwyl die geniale koning dit gedink het, was “Goethe mooi op pad om deur middel van die veragte Duits vir homself naam te maak!”
Belangwekkend was dit dat die meeste Afrikanerkoerante, op Ons Land na, simpatiek gestaan het teenoor Afrikaans, hoewel hulle aanvanklik hoofsaaklik Nederlands gebruik het. Ons Land het gemeen dat Engels sal seëvier indien die Afrikaners in ’n pro-Afrikaanse en pro-Nederlandse faksie sou verdeel en onder mekaar veg.
Preller het besef dat betoë net ’n deel van die stryd vorm. Noodsaaklik is taal- en spelreëls, maar veral ’n literatuur, geskiedkundige en wetenskaplike werke. ’n Nasionale letterkunde kan die enigste bolwerk wees teen die mag van Engels wat so veld wen. Dit het die Nederlandse taalkundige DC Hesseling gesê. Dit is nie alleen rasionale argumente nie, maar ook die gevoel wat ’n invloed het op die keuse van ’n kultuurtaal. Die woorde van die digter, dus die woorde wat uit die hart kom – daarin lê die werklike oortuigingskrag.
Teenstanders van Afrikaans het altyd betoog dat Afrikaans net vir grappige goedjies gebruik word, nie vir ernstige sake nie. Maar ná die oorlog het digters verse begin skryf wat uit die hart kom. NP van Wyk Louw het van C Louis Leipoldt gesê dat die dit gelyk het of die Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog finaal verneder en reddeloos verlore was, en as volk sou ondergaan sonder dat iemand iets van ons sou weet. “Toe het Leipoldt gepraat, woorde gegee aan ons smart.”
Ook ander digters het gedigte geskryf. ’n Geniale maar onwaarskynlike figuur het die Afrikaanse poësie van die 20ste eeu ingelui: die digter van “Winternag”.