’N “NUWE SUID-AFRIKA” IN ’N NUWE WÊRELD; MANDELA VERRAS BAIE

Die “Nuwe Suid-Afrika” het ná 1994 ’n algemene benaming geword – soos trouens met die totstandkoming van die Unie in 1910. Die Nuwe Suid-Afrika het gekom in ’n wêreld wat ook ingrypend verander het deur die internet en die selfoon en alles wat daarop gevolg het. Dit het globalisering – en verengelsing – bevorder. In die 1980’s al was die woordverwerker en die faksmasjien voorlopers van die persoonlike rekenaar en die e-pos. Kommunikasie per e-pos SMS en WhatsApp het die telegram en brief vervang. Mettertyd het digitale koerante en sosiale media naas gedrukte koerante begin floreer en soms hul plek ingeneem. Nuwe eise is ook aan tale gestel. In die vroeë jare van die rekenaar was daar klagtes dat Afrikaans nie vir die rekenaar-era deug nie. Dit herinner aan klagtes oor die Afrikaanse spelling met kappies en deeltekens aan die begin van die tikmasjien-era en die standaardisering van Afrikaans. Speltoetsers het vele van die probleme opgelos. In sommige opsigte het kleiner tale wel ’n agterstand. Hoewel individue hard aan die Afrikaanse Wikipedia werk, is dit verreweg nie so volledig as die Engelse Wikipedia nie.

Ook die Nuwe Suid-Afrika het nie sonder slag of stoot gekom nie. Voor die verkiesing op 26 en 27 April 1994 het militêre leiers soos genl. Constand Viljoen ’n opstand beplan waaraan meer as 150 000 man sou deelneem. Die doel was nie om die regering omver te werp nie, maar om ’n stuk van die land te beset en te probeer behou. Op die laaste oomblik is die plan laat vaar nadat die regering en die ANC op 23 April ’n akkoord oor selfbeskikking onderteken het. Artikel 235 van die Grondwet maak voorsiening vir selfbeskikking van ’n gemeenskap met ’n gemeenskaplike taal en kultuur “binne ’n territoriale entiteit”. Maar daar was geen grense vir die beplande volkstaat nie; die uitvoerende raad van die Afrikaner-Volksfront was nie gereed om grense te trek nie en het geen grondwet vir so ’n volkstaat gehad nie.

Nie deel van die versetplan nie was ’n inval in Bophuthatswana om die premier, Lucas Mangope by te staan, wie se regering deur ’n staatsgreep bedreig was. Die operasie het misluk toe die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) betrokke geraak het. ’n Bophuthatswana-soldaat het twee gewonde AWB’s voor internasionale TV-kameras doodgeskiet. Dit het die prestige van en steun vir regse groepe help ondermyn.

Sowat 19,5 miljoen mense het gestem, en die ANC het 62,6% van die stemme gekry, die NP 20,4%. Die ANC het 252 lede in die parlement gekry, die NP 82, Inkhata 43, die Vryheidsfront 9, die DP 7, die PAC 5 en die ACDP 2. Die inhuldiging van Nelson Mandela as president was op Dinsdag 10 Mei nadat hy die vorige dag onbestrede in die Parlement tot president verkies is.

Mandela het verskeie kere versekerings aan Afrikaners gegee dat Afrikaans nie afgeskaal gaan word nie. Op 26 Augustus 1994 was hy eregas op ’n banket van die Pretoriase stadsraad en het hy sy hele toespraak in Afrikaans gelewer. Hy kom elke dag “meer onder die indruk van die bereidwilligheid van Afrikaners, jonk en oud, om aktief deel te word van die nuwe Suid-Afrika,” het hy gesê. Afrikaans het niks te vrees in hierdie nuwe Suid-Afrika nie. “Om egter van Afrikaans, of enige ander taal, ’n politieke voetbal te maak, kan net u eie saak benadeel.” Onder meer weens sy bevordering van ’n gesindheid van versoening en sy houding teenoor Afrikaans het mnr. Mandela hoë aansien onder Afrikaners verwerf. Op die Algemene Sinode van die NG Kerk in Oktober 1994 is hy na ’n toespraak staande toegejuig en met Laat Heer U seën op hom daal toegesing.

Mandela het die Afrikaners inderdaad “verras en selfs betower”, sê Giliomee in Die Afrikaners. Die hoogtepunt was sy optrede by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Johannesburg op 24 Junie 1995. Hy het daarop aangedring dat die span die Springbokembleem dra, al het dit so lank apartheid in sport versinnebeeld. Voor ’n skare van 70 000 het hy op die veld verskyn met die Springboktrui van die kaptein, Francois Pienaar, om die spelers die beste toe te wens. Teen alle verwagting in het hulle die All Blacks 15-12 in die eindstryd geklop. Hans Strydom, slot van die span, sê van Mandela: “Hy het ’n nuwe patriotisme in Suid-Afrika help vestig en met sy betrokkenheid by ons wêreldbeker-veldtog het hy baie Suid-Afrikaners se persepsies oor mekaar verander.”