17 DESEMBER
GEBEURE
1856 – De Republiek Lijdenburg word uitgeroep
De Republiek Lijdenburg in Zuid-Afrika is op hierdie dag uitgeroep as die Oos-Transvaalse pioniers se reaksie op die konstitusionele, administratiewe, kerklike twispunte en leiersbotsings binne die drie Oorvaalse regionaal-politieke groepe, wat uiteindelik op 4 April 1860 verenig het tot die Zuid-Afrikaansche Republiek.
1880 – Paul Kruger word president van die ZAR
1890 – Oopstel van die spoorlyn tussen Kaapstad en Bloemfontein
In Mei 1884 het die Zuid-Afrikaansche Republiek met Portugal ’n soort finale reëling oor ’n spoorlyn van Delagoabaai af na Pretoria bereik. Die ontdekking van goud aan die Rand in 1886 het so ’n spoorlyn gebiedend gemaak. Maar Natal wou ’n spoorlyn verder van Kimberley af na Johannesburg verleng. Spoorverbindings het dus ’n ekonomiese en politieke magsfaktor geword. Paul Kruger het verkies om met die Portugese saam te werk omdat hulle los was van Brittanje en omdat so ’n spoorlyn vir Transvaal groter voordele ingehou het. ’n Roete oor die Vrystaatse gebied het natuurlik vir mede-Afrikaners voordeel ingehou, maar was nog altyd ’n Britse-Kaapse spoorlyn. In 1887 het Kruger en pres. Brand tevergeefs gepoog om mekaar oor spoorroetes te vind. In 1888 het die Vrystaat toegestem dat die Kaapse spoorlyn tot by Bloemfontein verleng word; onder meer uit vrees dat die Vrystaat uiteindelik deur alle spoorroetes uitgeskakel sou word. In Maart 1889 het pres. Kruger en pres. Reitz egter saamgestem dat geen spoorlyn noord van Bloemfontein toegelaat sou word sonder die Vrystaat se goedkeuring nie. Die feestelikhede te Bloemfontein, toe die Kaapse spoorweg tot daar voltooi is, het dus met heelwat politiek-ekonomiese manipulasie vooraf en agter die skerms gepaard gegaan. Vir die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika was soveel staatshoofde en ander verteenwoordigers of hoogwaardigheidsbekleërs by ’n enkele geleentheid saam. Van hulle het bome ter herdenking van die geleentheid geplant, en dit staan vandag nog in die tuin van die ou Goewermentsgebou, wat later die tuiste van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum geword het.
1920 – Suidwes-Afrika is aan Suid-Afrika gegee om as ’n mandaat te bestuur
GEBOORTES
1898 – Christian Gustav Waldemar Schumann, baanbreker in ekonomie en sakelewe († 30 September 1980)
Christian Gustav Waldemar Schumann, gebore, in Klein-Drakenstein, is ’n ware baanbreker t.o.v. die opleiding van die Afrikaner in die ekonomie en die sakelewe. As dekaan van die eerste Afrikaanse Ekonomiese Fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch, het hy diep spore getrap. Hy het leiding gegee op die Ekonomiese Volkskongresse en was lid van die Ekonomiese Instituut van die FAK en hoofbestuurslid van die Afrikaanse Handelsinstituut vanaf sy stigting in 1942. Hy was medestigter van Federale Volksbeleggings in 1940 en het in verskeie direksies van die maatskappye van die Federale groep gedien. Heelwat publikasies het uit sy pen verskyn. Bekende ekonome soos dr. WB Coetzer en dr. Jan S Marais was van sy studente wat hy by die Federale groep betrek het. ’n Halfeeu lank was Christie Schumann die erkende outoriteit oor die rol en aandeel van die Afrikaner in die sakelewe – ’n onderwerp waaroor hy talle referate by kongresse gehou het.
1900 – Koos Strauss, leier van die Verenigde Party en kabinetsminister († 1990)
1929 – Petronella (Nellie) du Toit, operasangeres († 29 Julie 2018)
Nellie du Toit was ’n liriese sopraan. Sy is oorlede na sy ’n rukkie lank longontsteking gehad het. Van haar moeder, wat self baie musikaal was, het sy haar eerste onderrig in sang en musiek ontvang. Ná matriek het sy by die Suid-Afrikaanse Musiekkolege in Kaapstad ingeskryf en is verder deur Adelheid Armhold en Gregorio Fiasconaro onderrig.
STERFTES
1949 – Pieter Kuyper de Vos (PK) le Roux, pedagoog, konsertorrelis en skepper van Psalm- en Gesangemelodieë (* 16 September 1874)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.