“DIS ONCHRISTELIK OM ’N VLUGTENDE VYAND TE AGTERVOLG!”

Dis is onmoontlik om in hierdie “dagboek” ’n volledige beeld van die oorlog te gee. Hier word dus gekonsentreer op ’n paar belangrike gebeurtenisse en interessante momente. Die vollediger geskiedenisse is te vinde in boeke soos Oorlog-Beeld: nuusblad oor die stryd tussen Boer en Brit deur Jackie Grobler, Die Anglo-Boereoorlog 1899–1902 deur Fransjohan Pretorius, en Die Tweede Vryheidsoorlog 1899–1902 deur GD Scholtz, Waarom die Boere die oorlog verloor het deur Leopold Scholtz, die waardevolle naslaanwerk The A to Z of the Anglo-Boer War deur Fransjohan Pretorius en nog talle ander. Grobler beskryf die oorlog in die vorm van koerantberigte, wat die verloop van die oorlog spannend weergee. Soos dit uit hierdie titels blyk, is daar verskeie benamings: ’n tyd lank was Tweede Vryheidsoorlog die algemeenste, later Anglo-Boereoorlog en deesdae polities korrekter Suid-Afrikaanse Oorlog.

Die Transvaalse kommando’s aan die wesfront was onder genl. PA Cronjé, wat Jameson gevang het. Dit sou vir hom betreklik maklik gewees het om met sy perdekommando’s Mafeking (tans Mahiken) te bestorm en te verower, maar hy het verkies om die plek te beleër. Die aand van 13 Oktober was Mafeking deur Boeremagte ingesluit en van die buitewêreld afgesny. Die besluit was ’n groot fout. Baie burgers is nutteloos daar vasgehou, terwyl die Britse bevelhebber daar, kol. RS Baden-Powell, vasbeslote was om eerder die beleg te verduur as om oor te gee. Ook Kimberley is kort daarna deur ’n Vrystaats-Transvaalse mag ingesluit. Dit was eweneens ’n ernstige fout. Die republikeinse kommando’s het digby hul eie grense gebly en het selfs versuim om die spoorwegbrug oor die Oranjerivier in besit te neem.

Rhodes het in Oktober in Kimberley aangekom en was tydens die hele beleg daar. Hy het openlik met die Britse bevelvoerder, kol. RG Kekewich, oor die verdediging getwis, en het De Beers se middele tot beskikking gestel om te help. So is die kanon “Long Cecil” vervaardig.

Ook aan die Natalse front is ’n nuttelose beleg aangepak. Daar het die Boere die eerste twee groot veldslae verloor: die slag van Dundee op 20 Oktober 1899 en dié van Elandslaagte op 21 Oktober. In laasgenoemde slag was die mag van Boere, Hollanders en Duitsers onder leiding van genl. JHM Kock hopeloos in die minderheid. Hoewel die Boere dwarsdeur die dag hul stellings behou het, was hul verlies aan dooies en gewondes so swaar dat hulle teen die aand verplig was om die stryd gewonne te gee en te vlug met wat nog gered kan word. Genl. Kock het swaar gewond in die reën op die slagveld bly lê. Hy is enkele dae daarna oorlede.

Dit was net ’n paar dae ná die neerlae van Dundee en Elandslaagte dat die Britse magte op Maandag 30 Oktober die Boere by Modderspruit en Nicholsonsnek gestorm het. Aan Boerekant het twee betreklik onbekende jong offisiere hulle onderskei – by Modderspruit was dit later die bekende genl. Louis Botha en by Nicholsonsnek die latere genl. Christiaan de Wet. Die Engelse aanval was ’n mislukking en die verslane en gedemoraliseerde soldate het na Ladysmith teruggestroom. Die Britse pers het dié dag “Mournful Monday” genoem.

Maar die oorwinning kon groter gewees het as die Transvaalse kommandant-generaal, Piet Joubert, die oorwinning opgevolg en die vlugtende voetsoldate deur sy perderuiters laat agtervolg het. Joubert het die Britte ongehinderd na Ladysmith laat aftrek waar hulle hulle onmiddellik begin ingrawe het. Die aand ná die slag het Louis Botha die kommandant-generaal gevra waarom hy ’n bevel gegee het dat die Krugersdorpers nie die vlugtende vyand moes agtervolg nie. Hierop was die generaal se antwoord: “Dis onchristelik om ’n vlugtende vyand te agtervolg!”

Op 1 November het ’n krygsraad besluit om Ladysmith te beleër. Dié besluit was ’n flater. Etlike duisende burgers wat vir ’n inval in Natal gebruik kon word, is deur ’n nuttelose beleg vasgehou.

Vir ’n paar Vrystaatse skoolmeisies het die beleg van Kimberley darem ’n bietjie pret besorg. Aan die seminary van Bethlehem was daar ’n miss Dodson, “’n pienk, stywe Engelse vrou, reg uit Engeland”, vertel Petronella van Heerden in Kerssnuitsels. “Sy was ‘die vyand’ en ons moes haar uitoorlê. Eendag vra sy vir ene Bessie: ‘What is Kimberley surrounded by?’, en tot ons groot plesier sê Bessie: ‘By Boers’.”