DIE ONHEILSJAAR 1960: SHARPEVILLE
Die jaar 1960 was vir Suid-Afrika vol rampe en onheil. Dit het begin met ’n mynramp. Op 21 Januarie het ’n rotsstorting in die Coalbrook-steenkoolmyn 437 mynwerkers vasgekeer. Twee weke is geprobeer om die werkers te bevry. Alles tevergeefs.
Die besoekende Britse premier, Harold Macmillan, het 3 Februarie in die Parlement sy “winde van verandering”-toespraak gehou. Hy het verwys na die nuwe state in Afrika wat sal moet kies tussen Oos en Wes – en Brittanje kan nie Suid-Afrika steun as “party aspekte van u beleid” dié state van die Weste sou vervreem nie. “Ons word vir die wolwe gegooi”, het wit mense gevoel.
Macmillan het met sy toespraak waarskynlik die vlamme van swart verset aangeblaas. Net ’n paar weke daarna was daar geweld. Die ergste was ’n skietery op 21 Maart in Sharpeville, ’n swart buurt digby Vereeniging. Dit het gespruit uit ’n besluit van die Pan-African Congress (PAC) om ’n veldtog teen die dra van bewysboeke te voer. Hierdie militante beweging het die vorige jaar van die African National Congress (ANC) weggebreek. Die bewysboeke het die passe vervang wat swartes ter wille van instromingsbeheer moes dra. PAC-leiers het sonder bewysboeke by polisiekantore opgedaag en daarop aangedring dat hulle gearresteer word.
In Sharpeville was daar tussen 5000 en 7000 swart mense by die polisiekantoor. Die getal het gegroei en die spanning onder die swart en wit polisiemanne het gestyg. Sonder dat ’n offisier dit beveel het, is ’n skoot iets oor eenuur die middag gevuur, waarskynlik deur ’n senuweeagtige konstabel. Die ander het dit opgeneem as ’n bevel om te vuur en ‘n paar salvo’s is afgeskiet voordat die offisiere ’n einde daaraan kon maak. Tog, 67 mense was dood, 178 gewond, en twaalf polisiemanne beseer. Volgens die historikus THR Davenport, was die skietery geen “calculated massacre” nie, maar ’n paniekreaksie ná die moorde by Cato Manor in Durban. Daar het ’n swart skare nege polisiemanne, onder meer ’n paar swartes, vermoor.
’n Storm van woede teen Suid-Afrika het oor die wêreld losgebars, maar daar was geen storm nie toe die Franse polisie 19 maande ná Sharpeville, op 17 Oktober 1961, sowat 200 betogers in Parys doodgeskiet het. Duisende Algeryne het dié dag onafhanklikheid vir hul land geëis. Dié nuus is verswyg; eers in Oktober 2012 het die Franse president dit toegegee. Die historikus Gilles Manceron wyt die verswyging aan perssensuur, amptelike leuens en die publiek se onverskilligheid. Duisende mense kon sien hoe tientalle lyke in die Seine afdryf.
Die skietery in Sharpeville is gevolg deur ernstige onluste in Langa, by Kaapstad. Die regering het ’n noodtoestand afgekondig en ’n deel van die leër gemobiliseer. Die PAC en ANC is verbied. Baie mense het saamgestem met min. Paul Sauer: “Die ou boek van die SA geskiedenis is in Sharpeville afgesluit.” Heelparty wou hê Verwoerd moes bedank. “Verwoerd must go!”
Dit hét byna gebeur. Op 9 April het ’n Britse boer, David Pratt, op die Randse Paasskou tot by Verwoerd uitgekom en van baie naby twee skote met ’n ligte pistool op hom afgevuur. Hy is aan die wang en in die oor gewond, en die dokters wat hom behandel het, het gesê dat dit ’n wonderwerk is dat hy bly leef het. Die aanslag het volgens JJJ Scholtz ’n byna mistieke band tussen Verwoerd en die Afrikaners geskep. Pratt is van moord aangekla, maar geestelik versteurd verklaar en na die Oranje-hospitaal in Bloemfontein verwys. Daar het hy hom op 1 Oktober 1961 op sy 53ste verjaarsdag met ’n laken opgehang.