“WINTERNAG”

Een kort gedig het die vroeë welslae van die taalbeweging verseker: “Winternag” van Eugène Marais. Hy was in die dae van die Transvaalse republiek baie krities teenoor pres. Kruger en sy beleid. Carel van der Merwe onthul in Donker stroom dat Marais in die Anglo-Boereoorlog in Engeland ’n Britse burger geword het. In 1901 wou hy na Sint Helena en Ceylon gaan om die krygsgevangenes daar te oortuig om die eed van getrouheid aan koning Eduard VII te onderteken. Terug in Suid-Afrika ná die oorlog raak Marais baie goed bevriend met Milner. Hy skryf selfs ’n reeks artikels in sy koerant Land en volk om Milner se verengelsing van die skole in Transvaal te propageer. Al is sy taal vir hom baie kosbaar, bly ’n opvoeding in Engels die beste ding wat jy vir jou kind kan gee. In dié opsig was hy ’n tradisionalis. In die 19de eeu het ouers gesê: die kind moet Engels leer, want Hollands kom vanself. Marais was erg gekant teen die Boeregeneraals en teen die CNO-skole.

Maar in Land en Volk van 23 Junie 1905 plaas hy ’n gedig van homself onder ’n skuilnaam – ’n gedig wat nog nooit sy trefkrag en skoonheid verloor het nie en wat aan Preller se betoog die nodige oortuigingskrag sou gee. In De Volkstem van 5 Julie 1905 betoog Preller:

“Ons praat teunswoordig banje van Afrikaans, en die molikheid om dit aan te neem as onze schrijftaal, en iets wat die voorstanders daarvan sterk, is die o’ertuiging dat dit ’n taal is wat hom net zo goed leen aan die fijnste uitdrukking van onze gedachtes as enige taal onder die son – ver die Afrikaner bepaald meer as enige andere.”

In die vorige uitgawe het iemand oor die twyfelagtige moontlikhede van die taal gepraat en daar is smalend gerep van die eentonigheid daarvan. Vir die mense wat so smalend praat, skryf Preller, plaas hy ’n vers uit Land en Volk.

Koud is die windjie,

en schraal!

En blink in die doflig

en kaal –

zó wijd as die Heer se genade –

die velde in sterlig en schade.

En hoog op die rande,

verspreid in die brande,

is die gras-zaad aan’t roere zo’s wenkende hande.

 

O! treurig die wijsie

op d’ooswind se maat,

zo’s die stem van ’n meisie,

in haar liefde verlaat!

In elke gras-blaar se vouw

blink ’n druppel van douw,

en vinnig verbleek dit tot rijp in die kou.

Die gedig het verskyn met die skuilnaam Klaas Vakie. Dit was die eerste strofe van ’n epiese gedig, “Nagwag” wat Marais wou skryf oor die gewaarwordinge van ’n brandwag op kommando. Weens baie werk en malaria-aanvalle kon hy nie verder as die eerste gedig kom nie. “Winternag” (later hier en daar gewysig) verdien sy ereplek in Afrikaans. Dit “kondigde al in 1905 de poëtische stem van de komende eeuw aan”, skryf die Nederlandse digter Gerrit Komrij in 1998. Hy was ’n kenner van die Afrikaanse poësie en het in 1999 vir Nederland ’n bloemlesing uitgegee wat in Suid-Afrika onder die titel Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte bemark is. In die bloemlesing Die gewildste Afrikaanse gedigte van 2013 (gekies deur lede van die boekklub Leserskring) was “Winternag” die gedig wat die meeste stemme gekry het.