
18 AUGUSTUS
GEBEURE
1665 – Eerste NG gemeente in Suid-Afrika
Die eerste Nederduitse Gereformeerde gemeente in Suid-Afrika gestig (1665) met die landing van ds. Johannes van Arckel as eerste leraar van die NG gemeente Kaapstad.
1859 – Hoeksteenlegging van New Somerset-hospitaal in Groenpunt
Die hoeksteen van die New Somerset-hospitaal in Groenpunt, Kaapstad, is op 18 Augustus 1859 deur sir George Gray, goewerneur van die Kaap, gelê. Die oorspronklike hospitaal wat in 1819 opgerig is, is in 1855 ernstig beskadig en die nuwe hospitaal se bouwerk het vier later begin. Die hospitaal is in 1818 deur dr. Samuel Bailey as die eerste publieke hospitaal in Kaapstad gestig en vernoem na goewerneur Lord Charles Somerset wat die grond geskenk het. Verpleegsters is destyds gewerf van die Florence Nightingale fakulteit vir Verpleging by die St. Thomas-hospitaal in Londen. Onder hulle was die verpleegsuster Helen Bowden wat in 1877 die eerste gekwalifiseerde matrone by die hospitaal geword het. Tussen 1918 en 1937, toe Groote Schuur geopen is, was dit die hoof- akademiese hospitaal van die Universiteit van Kaapstad.
1863 – Die eerste Transvaalse Staatskoerant in Pretoria gedruk
1964 – Suid-Afrika word geskors
Weens apartheid word Suid-Afrika uit die Olimpiese beweging geskors.
GEBOORTES
1861 – Pieter Daniel (Piet) de Wet, Boeregeneraal († 27 Februarie 1929)
Pieter Daniël de Wet is die broer van genl. Christiaan de Wet en was ook ’n Boeregeneraal in die Anglo-Boereoorlog. De Wet het onder meer deelgeneem aan die Slag van Poplar Grove, die Slag van Sannaspos en die skermutseling by Lindley.
1870 – Sarel Johannes Eloff, Boere-kommandant van die ZAR († 17 Maart 1944)
Kmdt. Sarel Eloff was ’n onverskrokke Boere-kommandant van die ZAR en ’n kleinseun van pres. Paul Kruger en sy tweede vrou, Gezina. Van hom sou Nienaber ná sy dood skryf: “Sy openbare lewe was gekenmerk deur ’n blanke opregtheid en ’n innige liefde vir sy land en volk. Hy was ’n man wat in eenvoud sy God, sy volk en sy land gedien het. In die dae van die Transvaalse Republiek het hy ’n belangrike rol gespeel.”
1908 – Minnie Postma, skrywer († 4 November 1989)
1927 – Victor Edouard d’Assonville († 25 Augustus 2022)
Prof. Victor d’Assonville was ’n Suid-Afrikaanse teoloog, skrywer, historikus en professor aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO).
1933 – Izak David (ID) Lamprecht, skrywer († 9 Augustus 2017)
STERFTES
1793 – Joachim van Plettenberg, goewerneur van die Kaapkolonie van 1771-1785 (* 8 Maart 1739)
Joachim Ammena van Plettenberg is op 8 Maart 1739 in Friesland gebore. Hy was goewerneur aan die Kaap van 18 Mei 1774 tot 14 Februarie 1785. Van besondere betekenis is sy reis na die verafgeleë grensdistrikte. Dit het ’n jaar en twee maande geduur (September 1778 tot November 1779). Op 4 Oktober 1778 het hy naby die huidige dorp Colesberg ’n baken opgerig waarop die monogram van die Kompanjie verskyn. Hierdie Plettenbergsbaken was die amptelike noordoostelike grens van die Kolonie. Met sy besoek aan die oosgrens in 1778, het Van Plettenberg die boloop van die Groot Visrivier en die Boesmansrivier as grenslyn tussen die Xhosas en die blankes verklaar. Dit was die begin van die beleid van territoriale segregasie of gebiedskeiding. Op sy terugreis het hy ook ’n baken by Plettenbergbaai opgerig en is die baai na hom genoem. Hy keer in 1785 na Nederland terug, waar hy hom in Zwolle vestig tot met sy dood in 1793.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.