18 FEBRUARIE – LADY ANNE BARNARD BESOEK DIE BOERE

John Barrow se tydgenoot, lady Anne Barnard, het heelwat in Suid-Afrika gereis. Aangesien lady Macartney nie met haar eggenoot, die goewerneur, saamgekom het Kaap toe nie, is die amptelike gesellighede in lady Anne se woonplek gehou. Sy was weetgierig en reislustig, en het met allerlei mense in aanraking gekom.

In haar briewe skets lady Anne ’n mooi beeld van die 18de-eeuse lewe in Kaapstad en omgewing. Die historikus Anna Böeseken gee in Drie Eeue deel 2 ’n samevatting van haar wedervarings en waarnemings. Só beskryf lady Anne die manne wat die eed van trou kom aflê het: Kaapse burgers met mooi gepoeierde hare en swart klere, en plattelanders met klere van blou lakense stof en hoë platrandhoede. Sy vertel van ossewaens met botter, wyn, huide, vere, lemoene en graan wat uit die buitedistrikte deur die poort van die Kasteel ry. Die manne met die swepe langs die spanne van sestien osse is gespierd en fris gebou, maar hul gesigte is vriendelik en daar is niks luidrugtigs of ongemanierds in hul optrede nie.

In Stellenbosch kom sy die eerste keer in aanraking met mense wat nie Engels of Frans ken nie. Aangesien sy nie Afrikaans of Hollands ken nie, word party gesprekke in gebaretaal gevoer. Baie amptenare en burgers kan egter ook in Engels met haar praat. Daar was omtrent 70 huise, maar min jong mense; die Kompanjie het geen nywerhede toegelaat nie en byna al die jong mense moes gaan boer.

In Wagenmakersvallei was sy by ’n boer wat reeds 26 waens, elk belaai met 6000 lemoene, Kaap toe gestuur het. Daar was egter nog net soveel vrugte as blare aan die bome. Die middagmaal het bestaan uit ham en wildsvleis, gevolg deur eend en hoender met kerrie, goed gekookte rys, groen ertjies en boontjies, kool, aartappels en slaai, gekookte eiers, eierpoeding, gebak en vrugte – met agterna nog ’n groot bak aarbeie. Die volgende dag was sy en haar geselskap by die Lategans, hoër op in die vallei. Daar was lemoenbome wat glo tot 20 meter hoog was en soms drie meter in omtrek was.

In 1798 het Andrew Barnard en sy vrou met ’n agtperdewa na Swellendam gery. Die dorp het toe sowat twintig wonings gehad. Op die plaas van Jacob van Reenen, oos van die dorp, is hulle hartlik ontvang. Die maaltyd van koffie, melk, wit brood, vars botter en bontebokboud wat hulle negeuur die aand geniet het, het lady Anne beskryf as die beste wat sy ooit gehad het. Tydens die kuier by die Van Reenens het hulle een dag by die mond van die Breërivier gaan visvang. Die vars vis is oor die kole gebraai en genuttig met sout, peper, bottersous, suurlemoen en pittige Oosterse speserye.

Met die terugreis, het hulle ’n diens van ds. JH von Manger bygewoon wat ook baie kinders gedoop het. Die seuntjies het almal slaapmussies opgehad soos hul vaders binnenshuis gedra het. Hulle is oor die Roodezandpas terug na die Kasteel. Daar het lady Anne aan haar vriende geskryf dat die boerebevolking van ’n baie beter inbors is as die meeste Kapenaars, wat “gierig, lui en kwaadpraterig is” en hulle gedra soos kleinstadse handelaars in Engeland. Verder as Swellendam het sy die binneland nie leer ken nie; van die moeilikhede van die grensboere het sy geen benul gehad nie.

Lady Anne onthul in haar dagboeke en briewe hoe Britse amptenare by ’n komplot van korrupsie en bedrog betrokke was om op elke moontlike manier, maar vernaamlik met die slawehandel, geld vir eie gewin bymekaar te maak. Volgens Marthinus van Bart (Kaap van slawe) bestaan daar vandag danksy haar ’n betreklik volledige inventaris van wie tussen 1799 en 1800 by die slawebedryf betrokke was. Met die Britse oorname van die Kaap was daar 16 789 slawe, in 1799 25 754 en in 1803 30 129.

Die digter Antjie Krog gebruik in Lady Anne – wat deur JC Kannemeyer as een van die groot digbundels in Afrikaans beskou word – lady Anne as werktuig in ’n epos wat die politieke aktualiteit van die 1980’s as hooftema het.