PRO-BOERS EN ANTI-BOERE

Olive Schreiner was nie die enigste Engelse skrywer wat teen die barbaarse metodes van die Britte geprotesteer het nie. Aan die einde van die oorlog het ’n bundel gedigte, Songs of the veld and other poems verskyn. Toe ’n besending daarvan in Suid-Afrika aankom, het die owerheid onmiddellik daarop beslag gelê, en dit is eers meer as ’n eeu daarna, in 2008, uitgegee deur Marthinus van Bart. Die Kaapse digters was C Louis Leipoldt, Anna Purcell en Albert Cartwright van die South African News, asook Betty Molteno, Alice Greene en Frederick Carl Kolbe.

Groot protesvergaderings is oral in Kaapland gehou en Engelssprekende, maar ook Afrikanervroue, het vir die eerste keer aktief deelgeneem aan die politiek deur op talle byeenkomste teen die oorlog te praat.

Maar talle Engelssprekendes was anti-Boer. Die gevolg was dat Engelse en Engelsgesinde ondernemings op party plekke geboikot is, soos op Stellenbosch. Die boikot het op verskeie dorpe in die Kaapkolonie ontstaan weens die vernederende maatreëls waaraan Afrikaners onderwerp is. Prof. CFJ Muller van die teologiese kweekskool (grootvader van die historikus met dieselfde voorletters en van) was die krag agter die boikot op dié dorp. Ander teologie-professore en predikante het Muller glo bygestaan. Britsgesinde “lojaliste” het beweer dat die raad van die Victoria-kollege – voorloper van die Universiteit van Stellenbosch – gekant was teen alles wat Engels is en die kollegesaal geweier het vir ’n konsert om geld vir siek en gewonde Britse soldate te in.

Die oorlog en die boikotbeweging het aan Afrikaners getoon watter agterstand hulle in die handel het. Die optrede van sekere Engelse handelaars het hulle so teen die bors gestuit dat hulle ’n hele paar Afrikaanse handelshuise en “Boerewinkels” opgerig het. Ook ’n paar trustmaatskappye is opgerig – die belangrikste die Paarlsche Afrikaansche Trust Maatschappij en die African Mutual Trust and Assurance Company van Malmesbury in 1900. Later sou hulle saam met die Stellenbosse Distriksbank ’n belangrike rol in die bankwese speel.

Een van die skrikwekkendste kenmerke van die oorlog in die Kaapkolonie was die bitterheid van die “lojaliste” en Boergesindes teenoor mekaar. Sommige lojaliste het deelgeneem aan ’n agitasie om die Kaapse grondwet op te hef. Sodoende kon die land volgens hulle ontslae raak van die invloed van die Afrikanerbond en die “vertroeteling” van ’n Afrikaanse kultuur. Ene LS de Wet en veertig ander van Worcester, asook ’n tweede groep van Worcester en ’n groep van Caledon, het ’n petisie met dié strekking aan die militêre owerheid gerig.

Hulle het beweer dat die Afrikanerbond ’n opleidingskool van “sedition-mongers” en rebelle was, en dat die Bond sy invloed op alle lewensterreine laat geld het. Die petisionarisse was veral beswaard omdat “the Taal” die kommunikasiemedium van die Bond was, en dat die organisasie geen spreker op ’n openbare vergadering geduld het as hy nie sy toespraak in Afrikaans gelewer het nie. Die Afrikanerbond en “the Taal” gaan hand aan hand en solank die Afrikanerbond bestaan, sal “the Taal” as ’n semi-amptelike taal gekoester word.

Die “moederland”, dus Brittanje, sal die hele vraagstuk kan oplos as hy die grondwet opskort en wette kan aanneem wat die gelykberegtiging van Engels en Hollands in die parlement, laer geregshowe en elders kon ophef. Terselfdertyd moet onderrig in Hollands verbied word. Die regering het die petisies verwerp.