PRES. KRUGER BESLUIT OOR ’N KOERANT OP SONDAG
Soos mens kan verwag, is die nuus oor die veldslae gretig afgewag. Groot paniek het ná die Slag van Elandslaagte in Pretoria geheers. Onder die gesneuweldes was dr. Herman Coster, gewese staatsprokureur van Transvaal, en die Duitse graaf Zeppelin, vrywilliger aan Boerekant, en CG de Jonge. Laasgenoemde is op 12 September 1899 deur die Volksraad uit ’n hoë pos by die Transvaalse departement van onderwys afgedank op aandrang van NG predikante. De Jonge het hulle oor hul Engelsgesindheid gekritiseer. Daar was gerugte dat die hele Duitse korps en byna die hele Hollanderkorps gesneuwel het.
De Volksstem het egter in die nag van Saterdag 21 op Sondag 22 Oktober noukeurige berigte van sy frontkorrespondente ontvang, onder andere van dr. JC Kakebeeke, wat weggekom het. Dit het geblyk dat die toestand nie so ernstig was nie.
Frederik Rompel van De Volksstem is met dié telegrafiese verslag na die President, waar die landdros van Pretoria en ’n paar ander belangrike amptenare sprakeloos met verslae gesigte gesit het. Pres. Kruger was kalm, en het almal aangeraai om te wag vir betroubaarder berigte. Die eerste berigte was van vlugtelinge, en iemand wat vlug, sien ’n boom vir die duiwel aan. Hy het nooit die verhale van weghardlopers geglo nie, het Kruger gesê. Die nuwe feite het die President in die gelyk gestel. Dieselfde aand om elfuur het De Volksstem verskyn met ’n spesiale uitgawe wat bewys het dat die eerste berigte misdadig oordrewe was en dat, hoe tragies ook al, die slag van Elandslaagte ’n roemryke wapenfeit was.
Die redaksie van De Volksstem het gevoel dat dit nodig sou kon wees om ook op Sondag te verskyn om kwaadwillig veroorsaakte paniek te onderdruk. Die Transvaalse volk is ’n Christelike volk en De Volksstem wou nie graag die godsdienstige gevoelens van ander kwets nie, vertel Rompel. Hy het dus verlof gaan vra om op Sondag te verskyn as dit noodsaaklik moet wees. Staatsekretaris FW Reitz het geen beswaar daarteen gehad nie, maar hy wou dat Rompel ook president Kruger sou raadpleeg.
Weer het Rompel na die President gegaan – “die fanatieke Calvinis”, soos die Engelse hom so graag genoem het – en die saak aan hom verduidelik. Eers het hy Rompel die telegramme laat voorlees en toe gevra: “En wat wil jy nou maak, donker Hollandertjie?” Hy het Rompel altyd so aangespreek. Dié het geantwoord: “President, ek wil ’n spesiale uitgawe laat verskyn.” Kruger het gevra: “En hoekom maak jy dan nie so nie?” “Ek is bang dat die werk op Sondag as onchristelik bestempel sal word.”
“En is dit dan Christelik om die mense op Sondag in angs en benoudheid te laat?”, vra die President. Hierop was net een antwoord: “Dankie, President – ek weet nou wat ek moet doen.” Toe Rompel die vertrek verlaat, roep Kruger hom terug. “Kyk hier, donker Hollandertjie, laat my die eerste afdruk van die spesiale uitgawe kry.” ’n Paar uur later was Rompel weer by die President met die buitengewone uitgawe, wat hy sorgvuldig gelees en met sy swaar bromstem goedgekeur het.