18 NOVEMBER
GEBEURE
1497 – Vasco da Gama seil om die Kaap
Manoël I, Koning van Portugal, het Vasco da Gama aangesel as die opperbevelhebber van die ekspedisie wat Dias se werk moes voltooi, naamlik die ontdekking van die seeroete na Indië. Na ’n seereis van ’n raps meer as vier maande, seil Vasco da Gama op 22 November 1497 met vier skepe om die Kaap. Op 25 Desember bereik hy die kus van Pondoland wat hy Terra do Natal (verwysende na Kersfees), noem. Op 20 Mei 1498 kom Da Gama en sy bemanning in Kalikoet, Indië aan – die seeroete na Indië is uiteindelik bemeester en word ’n belangrike handelsroete vir speserye en ander ware. Een van die ernstige nadele van hierdie lang reise was die groot aantal sterftes ter see onder die bemanning en passasiers veral vanweë skeurbuik. Na baie wedervaringe word Da Gama teen die einde van Augustus 1499 as held in Lissabon terug verwelkom. Vanweë hierdie epiese ontdekkingsvaart is die Islamitiese monopolie van die speseryhandel van die Ooste verbreek. Vir die Portugese vorstehuis het dit groter rykdom en mag beteken, en dit sou ook aanleiding gee tot Europese oorheersing in die Ooste. Da Gama was ook verantwoordelik vir die naamgewing van St. Helenabaai en van Natal. Ook het van sy ekspedisielede die eerste volledige waarneming van Suid-Afrika se inheemse inwoners gedoen.
1899 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Tuli, Rhodesië
1900 – Anglo-Boereoorlog: Genl. Christiaan de Wet val ’n Britse garnisoen onder maj. G.W. Massy by Dewetsdorp aan
1901 – Anglo-Boereoorlog: Witskrif oor konsentrasiekampe
Die Britse regering publiseer ’n witskrif wat die noodsaaklikheid van konsentrasiekampe in Suid-Afrika uiteensit.
1914 – Afrikanerrebellie
Jan Kemp en sy rebellekommando bereik die Oranjerivier by Kheis, waar hulle nogmaals met regeringsmagte bots.
Jan Smuts verwerp namens die regering president Steyn se versoek vir ’n vrygeleide vir Christiaan de Wet omrede daar reeds te veel bloed gevloei het.
1916 – Afrikanerrebellie
Jan Kemp word uit die gevangenis vrygelaat.
GEBOORTES
1859 – Jacobus Toerien, verslaggewer en skrywer (†1930)
Jacobus Toerien was ’n verslaggewer en die skrywer van die Afrikaanse woorde van die eerste vers van die liedjie wat bekend geword het as “Sarie Marais”, hoewel dit oorspronklik “Sarie Maré” geheet het, genoem na sy vrou, Sarie Maré. Sarie het Jacobus, ’n verslaggewer van Die Patriot van die Paarl, ontmoet toe sy 16 jaar oud was. Hulle is op 19 Desember 1884 getroud en het op Potchefstroom gaan woon. Hy was destyds in Pretoria om ’n onderhoud met haar vader te voer. Hy het onder die skuilnaam Jepete in Ons Kleintji geskryf in sy hoedanigheid as subredakteur (volgens die bronne, maar waarskynlik “adjunk-redakteur”) van Die Afrikaanse Patriot. Hulle het 16 kinders gehad, van wie net agt grootgeword het. Ná Jacobus se dood in 1930 het Sarie by haar dogters in Bloemfontein gaan woon. Sy is op 22 Desember 1939 in die ouderdom van 73 jaar in armoede oorlede en in ’n nederige ongemerkte graf in die Memoriam-begraafplaas naby die Nasionale Vrouemonument begrawe. Op 10 Oktober 1995 is ’n grafsteen opgesit vir die vrou wie se naam nog deur die wêreld gehoor word. ’n Doringboom is ook op die graf geplant om mense te herinner dat Sarie eens op ’n tyd langs so ’n boom daar onder by die mielies aan die Mooirivier gewoon het.
1876 – Johanna Brandt, Afrikaanse skrywer en spioen gedurende die Anglo-Boereoorlog († 13 Januarie 1964)
Johanna Brandt, die jongste dogter van dminee NJ van Warmelo, is op Heidelberg gebore, waar sy ook haar kinderjare deurgebring het. Tydens die Anglo-Boereoorlog het sy en haar moeder hulle in Pretoria bevind, waar hulle na die besetting van die hoofstad deur die vyandelike magte, gehelp het om die Boerespioenasiediens aan die gang te hou. Van haar ondervindinge in hierdie tyd het Johanna Brandt ’n dagboek gehou, wat sy later verwerk het in haar bekende boek, Die Kappiekommando, wat in 1913 verskyn het. Tydens die oorlog was sy ook verpleegster in die Irene-konsentrasiekamp. Die smart en ontberings van die vroue en kinders het haar so aangegryp dat sy The Irene concentration camp in 1904 geskryf het. Na die oorlog is sy met dominee LE Brandt, ’n Nederlandse predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk, wat hom in Transvaal kom vestig het, getroud. Johanna Brandt het ’n lewende belangstelling in die openbare lewe gehad. Onder haar leiding word op 21 Julie 1915 in Johannesburg die “Vrouwen Nationale Party” gestig, wat spoedig landwyd uitgebrei het. In 1916 dien sy in die hoofbestuur van die Nasionale Vroueparty, en sy ontvang in hierdie jaar ook die ere-presidentskap van die party. Sy het verskeie ander boeke geskryf, onder meer oor natuurgenesing, waarin sy ’n besondere belangstelling gehad het, en ook twee romans. Sy is op 29 Januarie 1964 op 88-jarige ouderdom in Kaapstad oorlede.
1879 – JHFERC Gey van Pittius, advokaat († 26 Junie 1931)
Jan Hendrik Frederik Eduard Rudolf Claudius Gey van Pittius is op Ventersdorp gebore. Hy praktiseer as advokaat in Pretoria en is saam met advokaat AS van Hees, in Desember 1914 vir die verdediging van Jopie Fourie verantwoordelik. As rebel was Jopie Fourie deur ’n spesiale krygsraad verhoor. Fourie is egter ter dood veroordeel, maar Gey van Pittius wend saam met doktor DF Malan, dominee HS Bosman en ander ’n vergeefse poging aan om ’n persoonlike versoekskrif ter begenadiging van Fourie aan die Minister van Verdediging, generaal JC Smuts, te oorhandig. Daarna verdedig Gey van Pittius talle ander Rebellegevangenes kosteloos. Hy was ’n aktiewe lid van die Nasionale Party sedert die stigting van die party in 1914, en op versoek van generaal JBM Hertzog tree hy, met groot bekwaamheid, op as sekretaris van die Vryheidsdeputasie van 1919 na Europa. Advokaat Gey van Pittius is op 26 Junie 1931 in Pretoria oorlede.
1914 – Bettie Cilliers-Barnard, kunsskilder († 15 September 2010)
Bettie Cilliers-Barnard was ‘n gevierde skilder en grafiese kunstenaar. Sy is tot haar dood as die doyenne van plaaslike kunstenaars beskou. Buiten in haar geboorteland het sy ook in Parys, Switserland, die VSA en die Verenigde Koninkryk gestudeer. Sy het haar as ‘n figuratiewe kunstenaar met die sirkelmotief en simboliek as kenmerke van haar werk onderskei.
1935 – Andries Cornelissen, radio-omroeper en skrywer (* 18 Januarie 1993)
STERFTES
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.