JOHANNA BRANDT (1876-1964)
Johanna, die jongste dogter van ds. NJ van Warmelo en sy vrou, Maria Maré, is op 18 November 1876 in Heidelberg, Transvaal, gebore en het in Kaapstad skoolgegaan. Ná haar vader se dood het sy saam met haar moeder na Pretoria verhuis, waar hulle met pres. Paul Kruger, genl. Piet Joubert en die staatsekretaris, dr. WJ Leyds bevriend geraak het. In 1897 het sy in Duitsland musiek gaan studeer en net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het sy na Transvaal teruggekeer.
Ná die Britse oorname van Pretoria, het Johanna en haar moeder by spioenasie-bedrywighede vir Transvaal betrokke geraak. Hoewel hulle huis, Harmonie, omring was deur huise wat deur die Britse militêre owerheid beset is, was dit die skuilplek van Boerespioene en die plek waarvandaan inligting na pres. Kruger in Europa deurgesmokkel is, met die hulp van die Nederlandse ambassade-personeel.
Johanna het ook kontak gehad met haar ouer suster, Christina Cloete, wat getroud was met Henry Cloete, ’n wetsagent in Britse diens wat in Kaapstad gewoon het. Die Cloetes het gereeld besoek van hoë Britse offisiere ontvang, onder andere ook genls. Roberts en Kitchener. Tydens hierdie besoeke het Christina na hulle gesprekke geluister en só inligting bekom en aan haar suster in Pretoria gestuur. Die susters het ’n geheime skrif gebruik deur met onsigbare suurlemoensap te skryf, wat onder ’n warm strykyster verskyn het.
Johanna en haar moeder, wat as vrywillige verpleegsters in die Irene-konsentrasiekamp gewerk het, het verslae van die haglike toestande in dié kamp na ’n goedgesinde Britse joernalis, WT Stead, in Engeland uitgesmokkel. Hy het dit deur sy tydskrif, Review of Reviews, bekendgestel. Sy beskryf haar oorlogservaringe in twee boeke, naamlik The Irene concentration camp (1904) en Die Kappiekommando of Boerenvrouwen in geheime dienst. Johanna Brand was ’n merkwaardige vrou wat ná die oorlog ook op ander terreine uitgeblink het.
deur Petronel Fourie