
AFRIKANER-BROEDERBOND GESTIG
Die eerste Afrikaanse ondernemings het in die Kaap tot stand gekom. Aan die Rand was so iets onmoontlik; die Afrikaners daar was te arm. In dié omstandighede is na ’n ander uitweg gesoek om mekaar te help – in ’n soort teenhanger van pro-Engelse organisasies. Carroll Quigley skryf in Tragedy and Hope dat daar ’n “international Anglophile network” van “Round table”-groepe bestaan het met die oogmerk “to coordinate the international activities and outlooks of all the English-speaking world into one”. Volgens Quigley, wat die netwerk simpatiekgesind was, was die geld afkomstig uit die Rhodes Trust en Abe Bailey Trust. Die netwerk was lank ’n groot mag in die Engelse wêreld.
In die tyd van vyandigheid teen die Afrikaners het HW van der Merwe op Sondag 14 April 1918 sy boesemvriend Henning Klopper besoek by Boksburg-stasie waar hy gewerk het. Hulle het besluit dat hulle iets moes doen om jong mense te organiseer. Van der Merwe, Klopper en Danie (DCH) du Plessis het mekaar later die dag weer ontmoet in die pastorie van ds. JF Naudé in Malvern. Naudé het in 1902 by Vereeniging teen die vredesvoorwaardes gestem en was ’n onvermoeide kampvegter vir moedertaalonderwys en die gebruik van Afrikaans as kanseltaal. Hy het onderneem om die ander drie met hul beplanning van ’n nuwe organisasie te help.
Aanvanklik is ’n “loge” Jong Suid-Afrika oorweeg, wat dui op ’n Vrymesselaaragtige beweging. Op 5 Junie 1918 is die eerste vergadering van Jong Suid-Afrika in Danie du Plessis se huis gehou. Veertien jong manne uit die hele Rand het dit bygewoon. Klopper en Du Plessis is tot voorsitter en sekretaris gekies. Die voorlopige bestuur het die grondreëls aan ’n ander bekende Randse predikant, ds. William Nicol, voorgelê. Hy het skaafwerk daaraan gedoen en ook aangesluit. Op die tweede ledevergadering op 2 Julie 1918 het ds. Naudé hulle toegespreek en is hy gekies tot “president” daarvan. Die vergadering het op aanbeveling van die bestuur die benaming Afrikaner-Broederbond aanvaar. LT Erasmus was gou as organiserende sekretaris betrokke. Vir die AB-lede was dit van betekenis dat die bond juis in Johannesburg gestig is – want hier in die middelpunt van alles wat anti-Afrikaans is, moet die Afrikaner of met die stroom meegevoer word, of vastrap en stroomop koersvat. Die Broederbond, en veral Erasmus, het hul invloed gebruik om Afrikaanse kultuurorganisasies tot stand te bring, soos die Afrikaanse Kunsvereniging in 1923.
Aanvanklik was dit nie ’n vertroulike organisasie nie (later wel), en die AB het selfs in die SAP-koerant, De Volkstem, inligting verstrek oor sy doel. Erasmus skryf op 17 Mei 1921 in De Burger: “As die Vrymesselaars in byna elke dorp hulle eie geboue kan oprig, dan is daar geen rede waarom nie ook die Broederbond dit kan doen nie. En waar sulke fabelagtige rentes deur geldsmouse ge-in word van mense wat in die meeste gevalle daardeur van die wal in die sloot gehelp word, daar is dit by uitstek ’n ‘Broederbond’ wat op waardige en meer humane wyse hulp kan en behoort te verleen.”
Die Bond het gestreef na ’n gesonde vooruitstrewende eensgesindheid onder Afrikaners, die opwekking van nasionale selfbewussyn, asook liefde vir taal, godsdiens en tradisies. Aanvanklik was dit veral sterk aan die Rand maar dit het mettertyd oor die hele land uitgebrei en omstrede geraak. Kritiek is van links, later ook van regs gelewer.