
18 SEPTEMBER
GEBEURE
1837 – Gerrit Maritz groet Piet Retief voor sy vertrek na die binneland
1914 – Foster-bende pleeg selfdood
Drie dae nadat genl. Koos de la Rey in Langlaagte, Johannesburg, deur die polisie geskiet is wat na die berugte Fosterbende gesoek het, het die bendelede op 18 September 1914 selfdood gepleeg toe hulle vasgetrek is. Die bende het uit vier lede bestaan – die leier William Foster, sy vrou Peggy, John Maxim en Carl Mezar. Hulle het met hul roof- en moordtogte begin nadat Foster uit die tronk in Pretoria ontsnap het waar hy 12 jaar hardepad vir roof uitgedien het. Minstens nege mense is deur hulle doodgeskiet wat gelei het tot die grootste polisie-soektog in daardie stadium in Suid-Afrika.
1945 – Die grootste droogdok in die Suidelike Halfrond word in die Tafelbaaise hawe geopen
GEBOORTES
1898 – Frans Hendrik (FH) Odendaal, politikus en goewerneur van Transvaal († 8 Februarie 1966)
Frans Hendrik Odendaal (bekend as Fox Odendaal) was ’n Suid-Afrikaanse politikus, goewerneur van die Transvaal-provinsie, wat die beste onthou word vir die hoof van die kommissie wat onder sy van bekend geword het.
STERFTES
1761 – Joachim Nikolaus von Dessin, boekversamelaar (* 1704)
Dié boekversamelaar en onderkoopman uit die Duitse adel is in 1704 in Rostock, Duitsland, gebore en het later die beskermling van markgraaf Albrecht Friedrich von Brandenburg geword. In 1726 het hy as soldaat in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie getree. Hy het in 1727 na Kaapstad gekom. In 1730 het hy met Christina Ehlers getrou. Von Dessin het in 1735 ’n boekhouer geword en in 1737 is hy tot sekretaris van die Weeskamer bevorder. Vanweë sy onkreukbare karakter is hy in 1743 deur die kommissaris, baron Von Imhoff, tot onderkoopman bevorder. Deur huisvesting te verskaf en private handel te dryf, het hy ’n ryk man geword wat heelwat eiendomme besit het. Sy huis was op die hoek van Waal- en Koningin Victoriastraat. Von Dessin was by uitstek ’n boekversamelaar (hy het 3 856 boeke besit) en ’n versamelaar van skilderye. Sy boekery was die grootste in die agttiende eeu in Kaapstad. Hy het die boeke hoofsaaklik uit boedels gekoop (een hiervan was moontlik dié van ds. Wilhelm van Gendt). Hy het al sy boeke en skilderye en enkele ander waardevolle artikels aan die NG Kerk Kaapstad bemaak. Sy boeke is later na die openbare biblioteek gestuur waar dit vandag nog bewaar word. In sy versameling is ’n aantal manuskripte waarvan die Dagboek van Adam Tas die belangrikste is.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Frikkie Wallis Facebook