DIE “ROETE NA RAMPSPOED”

Mandela is in Junie 1999 as president opgevolg deur Thabo Mbeki met Jacob Zuma as adjunkpresident. Mbeki is in 2008 in sy tweede ampstermyn as ANC-leier vervang deur Jacob Zuma, wat in 2009 president van die land geword het. In 2016 was daar bewerings van ’n openlike en korrupte verhouding tussen die skatryk Gupta-familie van Indië en Zuma, sy familie en vooraanstaande lede van die ANC. Die term staatskaping verwys na korrupsie waarin private belange die staat se besluitneming beïnvloed tot hul eie voordeel. In 2017 het ’n voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, die koste van staatskaping op byna R250 miljard beraam. In 2017 is Cyril Ramaphosa tot president van die ANC gekies en hy het in 2018 president van die land geword.

Flip Buys konstateer op 24 November 2020 op Netwerk24: “Die harde werklikheid is […] dat die ANC nie ’n moderne land kan regeer nie.” En ook: “Die land is te kompleks om met ’n simplistiese meerderheidstelsel in ’n sentralistiese eenheidstaat geregeer te word.” Die kommentator RW Johnson verklaar dat opeenvolgende ANC-regerings net geleidelik swakker, meer verdeeld, minder bekwaam en slegter geword (Rapport, 27 Desember 2020).

Groot staatsondernemings het miljarde rande skuld gehad: Eskom, Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en ander. Munisipale dienste het op veral kleiner plekke ineengestort.

Talle publikasies beskryf wydverspreide korrupsie. Pieter-Louis Myburgh, doen dit in The republic of Gupta en Gangster State. Uncovering Ace Magashule’s web of capture. Magashule was premier van die Vrystaat in die Zuma-era. Heinrich Matthee het sedert 2014 in die South African Monitor ’n raamwerk vir veral buitelandse ontleding geskep om nuwe gebeure te begryp: die eenparty-dominante ANC in ’n orde wat berus op demokratiese en ondemokratiese prosesse en gedrag, wat baie burgers en groepe nie goed beskerm nie, en wat ’n klein binnekring bevoordeel te midde van sosio-ekonomiese wanbestuur.

Van RW Johnson het verskeie opsienbarende boeke verskyn, soos Fighting for the dream. Uittreksels uit laasgenoemde het op 7 April 2019 in Rapport verskyn onder die opskrif “’n Land se roete na rampspoed”. Die verrotting het volgens Johnson reeds by Mandela begin. Dit is aan hom te wyte dat Jacob Zuma so ’n groot rol in die land sou speel. Hy het by Thabo Mbeki daarop aangedring dat Zuma adjunkpresident word. Dit was ’n noodlottige keuse, want Zuma sou andersins geen hoop gehad het om president te word nie. Later, toe Zuma ’n politieke veldtog teen Mbeki gevoer het, het Mandela aan Zuma R1 miljoen gegee. “In hierdie sin was Mandela indirek verantwoordelik vir die ramp van die Zuma-era.”

Vroeg in die ANC-bewind het Suid-Afrika een van die middelinkomstelande geword wat die meeste bestee het aan salarisse vir staatsamptenare. Daar was groot druk van binne die ANC vir meer staatsdiensposte en elke ANC-regering het onder hierdie druk geswig. Die kaders het verwag om goed beloon te word. Die Mandela-era se skadelikste nalatenskap is ’n “oorgroot oorbetaalde burokrasie met ernstige vaardigheidstekorte. In werklikheid is die ou staatsdiens vernietig en die regering is ontneem van die sleutel-instrumente waarmee beleid geïmplementeer kan word.”

’n Dilemma het die ANC-regering in die gesig gestaar. Aan die een kant het hulle ’n uiters ambisieuse program van sosiale en ekonomiese verandering opgestel wat die dienste van die mees vaardige en ervare staatsdiens moontlik geverg het. Aan die ander kant was daar swaar druk vanuit eie geledere om die staatsdiens so veel moontlik te afrikaniseer. “Daar was nooit twyfel dat die ANC laasgenoemde sou kies nie, veral aangesien hulle gevoed is met paranoïese vrese dat die ou staatsdiens doelbewus die nuwe regering sal saboteer.

“Dit was deel van ’n groter gebrek aan selfvertroue. In wese het die ANC homself so suksesvol oortuig van die bose aard van sy nasionalistiese teenstanders dat hulle dit moeilik gevind het om te glo dat FW de Klerk werklik die nasionale belang bo dié van sy party gestel en die ANC die mag op ’n skinkbord aangebied het. Dit was te goed om te glo en baie energie is vermors op soek na verborge vangplekke en, nog meer, die bose aktiwiteite van ’n geheimsinnige ‘derde mag’.

“Die verwoestende afrikanisering van die staatsdiens was ’n noodlottige stap, want nie alleen het dit gelei tot ’n wydverspreide verlies aan vaardighede nie, maar ook tot ’n verlies van institusionele geheue sodat die meeste van die nuwe staatsamptenare geen idee gehad het van hoe hul departemente histories bedryf is nie, watter slaggate om te vermy en so meer.”

Johnson skryf ook oor die goed gevestigde kultuur van slagofferskap in Suid-Afrika. Politici beweer selfs dat die swart mense in slawerny geleef het – wat eenvoudig onwaar is. Ook sê hulle dat swart armoede hier uniek is. In werklikheid is honderde miljoene in die res van Afrika en Asië veel armer as die gemiddelde Suid-Afrikaner. Apartheid was ’n onmenslike en vernederende stelsel, maar dit was ver van slawerny af. Wes- en Oos-Afrikane wat werklik slawerny verduur het, sal kan verduidelik hoeveel erger ware slawerny is as enigiets wat mense onder apartheid verduur het. Ironies genoeg het die Oos- en Wes-Afrikane wat vandag na Suid-Afrika stroom, nie dieselfde gevoel van slagofferskap nie en merk hulle op hoe eienaardig die eienskap van slagofferskap onder swart Suid-Afrikaners is. Tot sovêr Johnson.

Die ANC het rassisme beveg, maar sedert dit die bewind oorgeneem het, meer as 100 wette aangeneem waarin tussen verskillende rasse gedifferensieer word. Regeringsleiers, onder andere Thabo Mbeki en Jacob Zuma, en ander politici soos Julius Malema, maak dikwels vyandige uitlatings oor wit mense. Uitsprake en dreigemente van veral leiers van die Economic Freedom Fighters (EFF) grens dikwels aan haatspraak. Verskeie intellektuele waarsku dat die EFF se optrede soms aan die Nazi’s s’n herinner. Malema maak geen geheim van sy haat vir wit mense, Afrikaners en Afrikaans nie. Dit is ontstellend dat die ANC en EFF soms (byvoorbeeld in metro-munisipaliteite) as vennote optree.