19 FEBRUARIE – BOER EN BRIT: VERSOENING EN VERSET
Die meerderheid Kapenaars was in 1795 afsydig van die Engelse. Een van die Britse gesagvoerders, JH Craig, skryf op 22 September 1795 dat, behalwe ’n halfdosyn of wat van die handelaars en hoë amptenare van die kolonie, byna elkeen die vyand van die Britte is. Hy het gesê dat, as daar ’n vyandelike mag na die Kaap sou kom, niemand die Engelse sou help nie. Dit was in elk geval waar van die Graaff-Reinetters, wat hulp van Batavia ontbied het. Maar die skip wat die hulp sou bring, Het Haasje, is in Saldanhabaai deur die Engelse gevang en die troepe moes hulle oorgee.
Die mislukte poging om die Kaap te herower, het demoraliserend op die meeste Afrikaners ingewerk. Die meerderheid het hulle rustig gedra. Macartney het op 28 Mei 1797 bepaal dat elke burger ’n eed van getrouheid aan Brittanje moes aflê. Soveel burgers het die eed nie afgelê nie, dat hy op 28 Junie ’n tweede proklamasie uitgevaardig het: dié wat dit voor 10 Julie nie doen nie, sou uit die kolonie verban word. Die meeste het daarna die eed onwillig afgelê, maar sommige weieraars is verban.
Die owerheid het ’n beleid van versoening nagestreef wat deur ’n aansienlike groep koloniste aanvaar is. Dié faktor was alreeds werksaam onder party van die hoë amptenare uit die Hollandse tyd wat hul betrekkings teruggekry het. Hulle het daagliks met die Engelse amptenare saamgewerk en hulle so gou as moontlik by die nuwe omstandighede aangepas. Sommige van hulle was van die begin af simpatiek teenoor die Engelse, en het gou hul lewensbeskouing aanvaar en die Engelse lewenswyse aangeneem. Onder hulle was die fiskaal, Willem S van Ryneveld.
Die sosiale afstand tussen Afrikaans- en Engelssprekendes het kleiner geword omdat hulle meer met mekaar omgegaan het. Die Engelse het in 1796 perdewedrenne ingevoer. Die Afrikaners het dit ondersteun, omdat sommige van hulle perdetelers was. Lady Anne Barnard het deur haar innemendheid mense gewin deur hulle saam te neem na die perdewedrenne asook na die danspartye wat sy gereeld gehou het. “En so onder die bekoorlike musiek van die dansbaan en die opgewondenheid van die renbaan is van meer as een Kaapse Afrikaner waarskynlik ’n oortuigde Angloman gemaak,” skryf GD Scholtz. Lady Anne Barnard het dus help verseker dat die sosiale lewe van die Afrikaner, wat voorheen sterk onder Franse invloed gestaan het, ’n Engelse karakter kry. Lady Anne het in 1798 met genoegdoening geskryf dat die Engelse offisiere “at a great rate” trou met die “Dutch vrows”. Tog was daar ook ander Engelse wat die “Dutch” met minagting behandel het, meld sy in ’n brief in 1797.
Volgens ’n memorandum wat in 1801 opgestel is, was daar vier groepe Afrikaners. Hulle was die Britsgesindes of “Anglomanne”, ten tweede die aanhangers van die Huis van Oranje, wat met die Britsgesindes saamgewerk het, maar nie hul landgenote vervolg het nie, in die derde plek die “gemodereerde partij” wat aan Nederland getrou wou bly en ongetwyfeld die meerderheid Afrikaners omvat het, en ten slotte ’n groep wat onder die invloed van die heersende Frans-revolusionêre denkbeelde was.
Die Swellendammers het die gedwonge eed van getrouheid aan die Britte gou afgelê, al was baie ontevrede omdat die Engelse twee van hul leiers verban het. Een van hulle was Louis Almero Pisani, wat die opstandigste deel van die Swellendamse burgers in die Britse aanval teen die Kasteel aangevoer het. Die ander man was die gewese kommandant Petrus Delport, wat met sy Swellendammers dapper teen die Engelse geveg en geweier het om die eed van trou af te lê. Sy medeburgers was ontevrede omdat hy sonder verhoor verban is. Tog was die distrik gou rustig.
In Graaff-Reinet was dit moeiliker om die rus te herstel. Die Engelse het Frans Reinhard Bresler tot landdros benoem. Toe Bresler op 22 Februarie 1796 die Britse vlag by die drosdy van Graaff-Reinet laat hys, het ’n groep opgewonde grensbewoners dit neergehaal en almal het geweier om die eed van getrouheid aan Engeland af te lê. Op ’n vergadering op 21 Maart het Adriaan van Jaarsveld verduidelik dat hulle weier om die eed af te lê omdat hulle trou bly aan die State-Generaal van Nederland. Drie dae later is Bresler en ds. Von Manger na die Kaap. Die dominee kon hom nie met sy mense se strewe vereenselwig nie.
Die Graaff-Reinetters het gehoop om hulp van die Bataafse Republiek te kry, maar dié planne het misluk en noodgedwonge moes hulle Bresler aanvaar. Die Britte het die boere streng verbied om gesteelde vee oorkant die grens te gaan haal.
Die algemene ontevredenheid het uitgebars met die arrestasie van die 57-jarige Adriaan van Jaarsveld op 17 Januarie 1798 op aanklag van vervalsing van ’n kwitansie, waarop hy glo 1791 na 1794 verander het. By sy inhegtenisneming het hy die landdros gewaarsku dat daar moeilikheid gaan kom as hulle hom Kaap toe neem, maar hy is tog sonder voorlopige verhoor daarheen gestuur. Die agterdogtige grensboere was bevrees dat dit net ’n voorwendsel was om hom soos Petrus Delport te verban.
Van Jaarsveld het ’n deeglike skoolopleiding gehad, en was volgens JJ Badenhorst ’n vernuftige leier in die stryd teen die San en Xhosas aan die grens. Later het hy al hoe raaiselagtiger opgetree vanweë ’n neiging “om alle gesag te verwerp en die rustelose ontevredenheid en onbeheerstheid van sy natuur”. Op 21 Januarie het ’n groep boere onder Marthinus Prinsloo die wa ingehaal waarmee Van Jaarsveld na die Kaap vervoer is, en hom bevry. Aanvanklik het hy gesê dat dit beter sou wees as hy Kaapstad toe gaan, maar gou het hy die verset gesteun en planne beraam om in die naam van “Het Algemeene Volkstem” “de Colonie weer tot sig te neemen”.
Die bewind, wat ’n paaibeleid teenoor die Xhosa gevolg het, het nou hardhandig teenoor die Boere opgetree. Van Jaarsveld en sy oudste seun Zacharias is gevang, en moes saam met 16 ander opstandelinge in Kaapstad teregstaan. Hulle is meer as 15 maande in besonder streng omstandighede in die kasteel aangehou voor die verhoor in Augustus 1800. Van Jaarsveld en Prinsloo is albei ter dood veroordeel, maar begenadig en amnestie is aan almal toegestaan. Van Jaarsveld is op 29 Junie 1801 oorlede voor sy vrylating. Dit was ’n opstand waarin daar geen skoot geskiet is nie.