AFRIKANERPROTES TEEN APARTHEID

Van vroeg af het party Afrikaners apartheid teengestaan, onder andere die teoloë proff. Ben Marais van Pretoria en BB Keet van Stellenbosch. Keet, ’n vooraanstaande figuur in die taalbeweging een van die vertalers van die Afrikaanse Bybel, het in 1955 in Suid-Afrika waarheen? betoog dat die beleid nie onbepaald gehandhaaf kon word nie. Gebiedskeiding is onprakties en selfs onchristelik omdat dit die ontworteling van miljoene sou meebring. Ander openlike kritici van apartheid of aspekte daarvan was (naas dié wat op 7 November genoem is) die filosowe DSC Oosthuizen van die UOVS en later Rhodes en JJ Degenaar van Stellenbosch, proff. DW Krüger, LJ du Plessis en JH Coetzee van Potchefstroom en die skrywers Uys Krige, WA de Klerk en Jan Rabie.

Die eerste groot openbare verset, in 1960, het van twee kante gekom – Afrikaners wat ongelukkig was oor die vervreemding van die bruin mense, asook kerkmanne. Die Burger, met Piet Cillié as redakteur, het op 4 April 1960 gewys op ’n opvallende verbetering in die gesindheid tussen Afrikaners en bruin mense. Baie Afrikaners het gemeen die beleid rakende bruin mense kan nie finaal wees nie. Ds. DP Botha van die NG Sendingkerk het op 12 April 1960 in Die Burger geskryf dat dit geen kapitulasie is nie om toe te gee dat die bruin mense organies deel van die Afrikaner is.

Ná dié brief het Koos Human en Leon Rousseau van die nuwe Kaapse uitgewery Human & Rousseau Botha gevra om ’n boek hieroor te skryf. NP van Wyk Louw is genader om ’n voorwoord. Louw het gesê dat hy Die opkoms van ons derde stand “met stygende opwinding” gelees het. Volgens hom het Afrikaner- en Suid-Afrikaanse nasionaliste spontaan gesê: “Ons het verkeerd gehandel teenoor die Bruin mense; ons het hulle verwaarloos en afgestoot”. Hy skryf hy het ’n “innige begeerte – nee, ’n hartstogtelike wil” dat “my volk, Blank en Bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan.”

Louw was ’n man met besondere statuur. Dat hy ten gunste van integrasie met die bruin mense was, het groot invloed op intellektuele gehad. Onafhanklik van Louw het ander, veral Cillié en ander redaksielede van Die Burger, die gedagte aan groter eenheid gesteun. In November en Desember 1960 het verskeie briewe in Die Burger verskyn waarin regstreekse verteenwoordiging van bruin mense in die Parlement bepleit is.

Dr. Verwoerd het egter die gedagte afgewys toe hy gereageer het op Botha se boek, asook ’n boek deur ’n aantal predikante van die Afrikaanse kerke, Vertraagde aksie – ’n “Christusgetuienis” teen apartheid uit die Afrikaanse kerke. Verwoerd het verklaar dat die regering en leiers “soos mure van graniet moet staan omdat die voortbestaan van die volk op die spel staan”. Hy het gemeen dat politieke integrasie van wit en bruin die weg sou open vir politieke integrasie met die swartes en dat dit tot die ondergang van die blankes sou lei.

In Desember 1960 het agt lidkerke van die Wêreldraad van Kerke (WRK), waaronder die Kaapse en Transvaalse NG Kerke en die Hervormde Kerk, verklaar dat daar geen beginselbesware kan wees teen die regstreekse verteenwoordiging van bruin mense in die Parlement nie. Ook is daar geen Skriftuurlike gronde vir ’n verbod op gemengde huwelike nie. Die kerke verklaar ook: “Dit is ons oortuiging dat die reg om grond te besit waar hy ook al gedomisilieer is en om deel te hê aan die regering van sy land, deel is van die waardigheid van die volwasse mens, en om hierdie rede kan ’n beleid wat aan nie-blankes permanent die reg tot medeseggenskap in die regering van die land waarvan hulle burgers is, ontsê, nie geregverdig word nie.” ’n Kwaai polemiek het losgebars, en die drie Afrikaanse lidkerke het gou hul lidmaatskap van die WRK opgesê en die verklaring verwerp.