1916: DIE HUISGENOOT VERSKYN; PRES. STEYN OORLEDE

Afrikaanssprekendes kan die jaar 1916 om veral twee redes onthou: die begin van Die Huisgenoot en die heengaan van pres. Steyn, die onversetlike yweraar vir gelyke taalregte vir Afrikaans- en Engelssprekendes.

Een van die Nasionale Pers se eerste oogmerke was die oprigting van ’n tydskrif. Dié het die eerste keer in Mei 1916 verskyn: De Huisgenoot, vanaf Desember 1917 Die Huisgenoot, wat steeds die grootste Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) tydskrif is.

Ons Moedertaal, spreekbuis van die Afrikaanse Taalvereniging, is daarin opgeneem. Dié blad is in 1914 opgerig met prof. JJ Smith, Tobie Muller en Gordon Tomlinson in die redaksie. Die drie redaksielede het aggressief vir Afrikaans geveg en nie vooraanstaande mense soos die Stellenbosse proff. PJG de Vos en GG Cillié ontsien nie. De Vos se raad: “Haast u langzaam!” in die taalkwessie beteken eintlik: “Blij vinnig stilstaan!” het hulle geskryf. Dié raad deug nie “vir ’n jeugdige Afrikanerdom wat die lewe in elke polsslag voel en wat die toekoms entoesiasties tegemoet sien”.

De Huisgenoot het in sy eerste twee jaar twee redakteurs gehad: Smith en CJL Ruysch van Dugteren, daarna net Smith. Die redakteurs moes rekening hou met die konserwatiewe oueres, en die blad het dus aanvanklik heelwat Nederlands bevat. Teen die einde van die jaar het dit ’n sirkulasie van naby 3000 gehad. Een van die rubrieke was “Taalnuws” – brokkies oor die vordering van Afrikaans. In Junie 1916 is berig dat die Vrystaate Sinode van die NG Kerk Afrikaans naas Nederlands op die kansel erken het, in Julie dat staatsamptenare die reg gekry het om briewe in Afrikaans te skryf. In ’n wedstryd wat die blad in 1936 uitgeskryf het, het van die eerste lesers getuig hoe Die Huisgenoot hulle vir Afrikaans gewin het. Iemand het vertel dat die vervolgverhaal van Sangiro, Die lotgevalle van ’n leeufamilie, hom help bekeer het. Die blad het Afrikaans “in ’n beskaafde taal omgeskep,” het ’n ander gesê. Op 23 November 1923 het Die Huisgenoot ’n weekblad geword. HG Viljoen was toe redakteur. Ander tydskrifte was Die Boerevrou (1919) in Pretoria vir vroue en Die Landbouweekblad (1919) in Bloemfontein vir boere.

Smith het pres. Steyn ’n paar maande ná die oprigting van Die Huisgenoot gevra om die verhaal te vertel van sy ontsnapping op Reitz in die Anglo-Boereoorlog. Hy het dit gedoen, en die stuk, in Nederlands, het in Desember 1916 verskyn. (Kyk by 11 Julie.)

In dieselfde nommer moes Die Huisgenoot helaas ook die dood van die President op 28 November 1916 aankondig. Sy agterkleinseun, adv. Colin Steyn, het honderd jaar daarna op ’n herdenking van sy dood vertel wat dié dag gebeur het. Op die dag van sy afsterwe het hy vir sy skoonma op Onze Rust gesê: “Daar gaan iets besonders vandag gebeur. Kyk, my vrou sit al in ons Model T40 en wag vir my.”

Pres. Steyn het sy vrou die oggend beloof dat, as sy optrede voor die vroue enige nadelige gevolge het, hy sou afsien van sy beoogde optrede op Senekal. Daar sou hy op 16 Desember die Dingaansdagrede voer. “Hy het fris en gesond gevoel na ’n geruste nag”, konstateer een van sy biograwe. Mev. Steyn het van die huis van ’n skoonseun, Everard Fichardt, af dié skrywer (NJ van der Merwe) gebel en gesê: “Pappie voel vanmôre baie fris. Ek vrees niks sal hom nou van Senekal hou nie.” Terwyl hulle nog praat, klink die forse stem van die President, wat nooit ’n minuut laat wou wees nie: “Kom vrou, dit is tyd.” Ondanks die betreklik gesonde voorkoms dié oggend was hy ’n baie swak man weens die skade wat hy tydens die oorlog opgedoen het weens al die spanning en die swak eet.

Die Gedenksaal was stampvol. Daar sou hy die kongres van die Oranje-Vrouevereniging open. Al die ou vriende was daar, ook die lede van sy oorlogstaf wat in die nabyheid van Bloemfontein woonagtig was. Adv. Steyn sê die president het met ’n sterk en helder stem gepraat, maar “skielik het hy sy twee vingers gehou teen sy voorhoof waar ’n aar in sy kop gebars het toe hy ’n trombose-aanval gekry het. Hy het voor die vroue inmekaargesak.” Dr. Otto Krause was die eerste geneesheer wat hom kon help, en het die nuus bekend gemaak: “Die President is dood”. Hy was 59 jaar.

Die begrafnis was op Sondag 3 Desember. Spontaan het meer as een mens op die gedagte gekom om hom te begrawe aan die voet van die Nasionale Vrouemonument, waarvoor hy hom so beywer het. Die roudiens is gehou deur ds. JD Kestell oor die teksvers “De kroon onzes Hoofds is afgevallen”.

Jan FE Celliers, wat in verskeie gedigte volksfigure en nasionale gebeurtenisse uitgebeeld het, verwoord die president se sterftoneel en verbind sy begrafnis met die monument waarvoor hy hom so beywer het:

President Steyn

Dis skoon vir ’n held om te val

aan die voete van wie hy gedien het,

skoon vir sy skeidende gees

dat moeders die laaste mog wees

wat sy sterwende oog gesien het.

Maak hom ’n graf op die grond

wat sy liefde gewy en geseën het:

dis skoon vir ’n held om te rus

aan die voete van wie hy beween het.

Later is nog drie mense aan die voet van die monument begrawe: genl. CR de Wet, ds. JD Kestell en mev. Tibbie Steyn, terwyl ook die as van Emily Hobhouse daar weggelê is. Haar as is hoofsaaklik op voorstel van mev. Steyn na Suid-Afrika gebring. Oor die roerende plegtigheid op 27 Oktober 1926 het Smuts aan haar vriende laat weet: “Ons het haar soos ’n prinses begrawe”.