BLOEDRIVIER

Teen dagbreek op 16 Desember 1838 het die mis opgeklaar. Sowat 10 000 Zoeloekrygers onder Dambuza (Nzobo) en Mhlela het herhaaldelik op die Voortrekkerlaer afgestorm. Die trekkers kon telkens die aanvalle stuit. Pretorius het sy broer, ’n tolk en ’n paar vrywilligers gestuur om die Zoeloes uit te daag om te kom veg – nie soos voorheen teen weerlose vroue en kinders nie, maar teen manne. Dit het geen uitwerking gehad nie; daarop is met die kanon Grietjie op hulle losgebrand. Nadat die geveg ongeveer twee uur geduur het, beveel Pretorius dat die hekke van die laer oopgegooi word, en perderuiters die vyand bestorm. Die ruiters is twee keer teruggedryf, maar die derde keer het die vyand op die vlug geslaan. Tydens die agtervolging raak Pretorius gewikkel in ’n worsteling met ’n Zoeloe en doen hy so ’n pynlike assegaaisteek in die linkerhand op dat hy na die laer moes teruggaan. Teen twaalfuur keer ook die ander terug. Na ’n ruspouse stuur Pretorius weer ’n sterk kommando uit, maar hulle kon die vlugtende Zoeloes nie inhaal nie.

In die slag is drie trekkers lig gewond. Rondom die laer is die volgende dag meer as 3000 Zoeloegesneuweldes getel. Die water van die Ncome was rooi van die bloed van krygers wat in die rivier gewond of gedood is – en is daarna Bloedrivier genoem. Word die lewensverlies in ag geneem, is dit die grootste enkele geveg op Suid-Afrikaanse bodem.

Vir baie Afrikaners was daar ’n verband tussen die gelofte en die oorwinning. Die oorwinning was van God, het hulle geglo. Immers, soos die verteller in DJ Opperman se Joernaal van Jorik sê: “Hy was met ons die nag by Bloedrivier / toe lang sweepstokke met lanterns swaai.” Die gebeurtenisse van 1838, onder meer die Slag van Bloedrivier, vorm die agtergrond vir FA Venter se Groot Trek-romans Offerland (1963) en Gelofteland (1966).

Die militêre mag van Dingane was nog nie gebreek nie. Pretorius het sy kommando, nou bekend as die Wenkommando, verder laat trek na die Zoeloehoofstad Umgungundhlovo, ongeveer 70 km suidoos van Bloedrivier. Hulle tref die stad op 20 Desember 1838 verlate en aan die brand aan. Op Hlomo Amabutho was Retief se erg verweerde leertas met die nog leesbare traktaat van die Dingane-Retief-grondskenking. Afskrifte is in later jare daarvan gemaak, maar die oorspronklike traktaat het in die Anglo-Boereoorlog verlore geraak.

Omdat Pretorius soveel las van sy beseerde hand gehad het, het ’n kommando van 300 onder Karel Landman uitgetrek. Maar op 27 Desember het die Zoeloes dié kommando in ’n hinderlaag gelok en is vyf trekkers, Alexander Biggar van Port Natal en 75 van sy swart vegters gedood – ook 2000 Zoeloes. Dingane se jonger broer Mpande het hom met 17 000 volgelinge by die trekkers aangesluit. Op 15 Maart 1839 het Pretorius en verteenwoordigers van Dingane ooreengekom dat die Zoeloes alle geroofde vee en goedere sou teruggee. Dingane het dit nie gedoen nie, en in 1840 is ’n nuwe kommando uitgestuur. Een van Mpande se kapteins het twee regimente van Dingane verslaan en hy het uitgewyk oor die Pongola, die noordgrens van sy gewese ryk. Op 10 Februarie 1840 het Pretorius Mpande tot koning van die Zoeloes uitgeroep. Die kommando het 42 000 beeste teruggebring en die naam “die beeskommando” gekry.