
DIE TUISLANDBELEID IN DIE WEEGSKAAL
Die Russiese Nobelpryswenner Alexandrer Solzjenitsyn het in die 1970’s ’n paar keer in TV-onderhoude uitgevaar teen die Weste wat net besluite teen klein staatjies kan neem en niks sê teen die grotes soos die Sowjetunie nie. Hy kon gedink het aan die talle besluite wat die VN-liggame teen SA geneem het. Onder meer is apartheid op inisiatief van die Sowjetunie en ander Kommunistiese state tot misdaad teen die mensdom verklaar. Westerse lande soos die VSA het in 1973 geweier om dit te steun. Die VN-besluit was ’n groot oorwinning vir die ANC-in-ballingskap.
Dit het min wit Suid-Afrikaners oortuig dat regering deur ’n swart meerderheid wenslik is. Die chaotiese verloop van die vrywordingsproses van ander Afrikalande het dit op selfmoord laat lyk om dieselfde eksperiment met Suid-Afrika te herhaal.
Teen Januarie 1968 het Afrika 64 militêre staatsgrepe, pogings tot staatsgrepe en muiterye ondergaan. Saam met die politieke onstabiliteit en staatsgrepe het gekom korrupsie, wanbestuur asook dié soort praktyke waaroor Suid-Afrika gekritiseer is, en wat deur die Britse historikus Paul Johnson in Modern Times as vorme van sosiale manipulasie beskou is. Hy sê samevattend: “In any case, differences between Pretoria’s policy and those of most black African states were more theoretical than real. All African states practised racist policies. […] Throughout black Africa, the documentation of social control – work permits, internal and external passports, visa requirements, residence permits, expulsion orders – proliferated rapidly with independence.” In lande soos Uganda is onbeskryflike gruweldade gepleeg.
Baie Afrikaners was ook bang dat die ANC van Suid-Afrika ’n Kommunistiese satelliet sou maak. Party het opleiding in die Sowjetunie en die KGB gekry. Die oogmerk met die tuislandbeleid was om te probeer ontkom aan die wanbestuur en korrupsie wat bevryding elders in Afrika gebring het. Liewer agt swart tuislande as een swart tuisland – die hele Suid-Afrika – was die argument.
Die titel van ’n boek deur die historikus en redakteur GD Scholtz stel pertinent die vraag: ’n Swart Suid-Afrika? (1964). Sy waarskuwing was in die kol. Die getal swart mense het vinniger gegroei as wat amptelik geskat is. Akademici en joernaliste het gewaarsku dat stilstand in die ontwikkeling van die tuislande revolusie gaan bring. Volgens die 1970-sensus was daar 3 751 328 wit en 15 057 952 swart mense, 2 018 453 kleurlinge en 620 836 Asiate in die land.
Maar met die uitvoering van die tuislandbeleid het dit nie te goed gegaan nie. Die Sondagblad Die Beeld (2 Maart 1969) sê in ’n hoofartikel dat daar ’n gevaarlike poging is om vir die wit mense te vertel dat hulle hul beleid kan laat slaag sonder dat hulle die moeite hoef te doen om dit werklik uit te voer. “Dit is die diepe bedenking wat ons het teen die argument wat nou in alle erns aangevoer word dat vir ons Bantoebeleid getalle eintlik nie belangrik is nie. […] Vir die uitvoering van ons beleid is getalle so klaarblyklik van die allergrootste belang dat dit moeilik gaan om geduld te behou met mense wat hierdie feit wil kamoefleer.” Die basiese praktiese probleem, het Die Beeld geskryf, is die enorme getalle swartes wat op al hoe permanenter grondslag by die wit lewe betrek word. Geen argument, hoe spitsvondig ook, kan ’n jota of tittel verander aan die feit dat, as hierdie proses moet toeneem of maar net onveranderd moet voortduur, die beleid op skipbreuk afstuur nie. Die Beeld het geskryf dis “’n alte lekker geloof” om te verkondig dat skeiding nie so noodsaaklik is vir die sukses van die skeidingsbeleid nie.
Die tema is nog verskeie kere in die daaropvolgende paar jaar geopper. In die sewentigerjare het dit vir baie waarnemers gelyk of afsonderlike ontwikkeling gevaar loop om te misluk omdat die aanvanklike oogmerk nie gehaal kon word nie. Dit is om die swart mense op natuurlike wyse te laat terugtrek na die tuislande. Prof. FR Tomlinson, voorsitter van die Tomlinson-kommissie, het in Oktober 1974 gesê dat die pogings tot tuislandontwikkeling tot 1970 belangrik, maar fragmentaries en relatief kleinskaals was. In 1956 was daar geleentheid om groot geesdrif, idealisme en onderskraging by die wit mense aan te wakker. “Maar ek het menige dag gewonder of die owerheid en die bevolking nie by mekaar verbygekyk het nie, of die owerheid die bevolking se wil om groot aksie te steun, nie onderskat en die blanke bevolking die poging van die owerheid nie oorskat – en hom intussen maar met die insameling van rykdom besig gehou het nie. Blanke Suid-Afrika moet oppas dat toekomstige geslagte nie eendag verwyte teen hom slinger nie.”
Die beleid het veral misluk weens die geweldige groei van die swart bevolking en die snelle ekonomiese ontwikkeling wat swart mense na die stede getrek het. Wat konsolidasie en ontwikkeling van tuislande betref, steek daar dalk iets in ’n suggestie van ’n Israelse politikus. Hy het in 1960 aan Piet Cillié van Die Burger gevra: “My volk is ’n toegewyde volk. Kan u sê u volk is ook ’n toegewyde volk?”