PRES. STEYN TWEE JAAR OP KOMMANDO

Ná die vertrek van pres. Kruger het pres. Steyn die groot krag onder die Afrikaners geword. Genl. Botha en ander het hom later “die siel van die vryheidstryd” genoem.

Hy het ná die smadelike oorgawe van genl. Marthinus Prinsloo op 30 Julie 1900 in die Brandwaterkom saam met sy regering by genl. De Wet se kommando gebly. Die regering was van toe af ’n regering-te-velde.

Dat hy in die daaropvolgende twee jaar uit die hande van die Britte kon bly, is een van die merkwaardigste prestasies van die oorlog. Een van Steyn se biograwe, MCE van Schoor, vertel boeiend van die president se wedervaringe en noue ontkomings. Met sy terugkeer uit Transvaal ná die ontmoeting met Kruger het ’n Britse mag die kommando slapende burgers naby Bothaville oorval. Steyn se perd was gelukkig byderhand en met die hulp van sy lyfwag, Cornelis du Preez, kon hy ongedeerd uitjaag.

Die president was saam met De Wet toe hy in Februarie 1901 ’n mislukte inval in die Kaapkolonie gedoen het. Kort daarvoor is hy, omdat sy dienstyd byna verstreke was, deur ’n vergadering van burgers tot president herkies. Voor die vernielde woning van genl. Andries Cronjé het hy onder ’n wilgerboom die plegtige eed as Staatspresident in die teenwoordigheid van meer as 2000 burgers afgelê.

Van die burgers was onwillig om op 10 Februarie 1901 digby Philippolis die Oranjerivier oor te steek en De Wet moes selfs sy karwats gebruik. Steyn was vir sy burgers ’n voorbeeld toe hy besluit om die rivier eerder deur te swem as om op sy perd Scott te ry. Sy waentjie het in die rivier omgekantel en hy was onder die eerstes wat dit weer staangemaak het.

Tydens die veldtog het Steyn se perd ’n keer tot by die saalklappe in die modder weggesak. Sy swaar liggaam het hom gedwing om af te klim en met die hulp van Du Preez is Scott met ’n groot gesukkel uit die modder getrek. Steyn het besef dat hy nie weer sy perd kon bestyg nie, en moes die hele nag soos vele ander burgers voetjie vir voetjie deur die modder aansukkel.

Met hul terugkeer op 27 Februarie moes Steyn al sy besittings agterlaat, ook sy perdewa. Hy moes die folteringe van ’n volskaalse guerrilla-oorlog deurmaak. “In die veld met sy ondraaglike somerhitte en snerpendkoue winternagte, stofbelaaide winde en gietende reën sou hy onder geweer- en kanonkoeëls voortdurend moes vlug en sy taak bly vervul om die burgers tot volharding aan te spoor en verraad en ontrou af te keur,” skryf Van Schoor.

Onder ’n seil, gespan tussen twee waens, of selfs saans met ’n vetkers op die naaf van ’n wiel, het hy sy amptelike briewe aan sy sekretarisse gedikteer, onder meer ’n antwoord (op ’n proklamasie van Kitchener) wat in die Europese en Britse pers verskyn het.

Voortdurend moes hy saam met die kommando’s rondswerf en het nie twee nagte ná mekaar op dieselfde plek vertoef nie. Soms was hy teen tweeuur in die nag al weer in die saal om die vyand se spioene te mislei. Onderdak het hy selde geslaap. Saans het hy onder ’n seiltjie met sy stewels aan gaan lê en sy saal of ’n klip het as sy kopkussing gedien.

Die daaglikse lewe van Steyn was soos dié van enige ander offisier of burger te velde. Hy het wel besondere beskerming geniet maar geen ander voorkeurbehandeling ontvang nie. “Wel almal se vriend was hy tog nie almal se maat nie, want uit hoofde van sy rang is altoos agting en respek teenoor hom betoon. In wind of weer in sy veldkleredrag bly hy hul waardige President,” skryf Van Schoor.