TWEE AFRIKAANSE TAALKONGRESSE

Die gebeurtenisryke 1896 het naas rampe darem ook vordering vir Afrikaans opgelewer. Die eerste Afrikaanse tydskrif het tot stand gekom op aanbeveling van die eerste Afrikaanse taalkongres in die geskiedenis wat op 15 en 16 Januarie 1896 in die Paarl gehou is. Sowat honderd mense van oor die hele land het dit bygewoon. Baie Transvalers en Vrystaters wat wou kom, is deur die Jameson-inval verhinder.

Die belangrikste besluit van die kongres was om ’n tydskrif uit te gee. Die naam Ons Klyntji is aan die hand gegee deur prof. Jan Lion Cachet van Burgersdorp, wat saam met sy kollega, prof. S Postma, die kongres bygewoon het. Cachet het die aand van 16 Januarie op luimige wyse ’n heildronk op die blad ingestel. “Di Kleintji wat vandag gebore is, is ’n Kleintji wat hy al lang verwag het (gelag); want hy het die noodsakelikheid ingesiin dat ons Afrikaanse volk ook Afrikaanse leesstof moet hê.” Op die gesellige byeenkoms het hulle volgens Du Toit byeengekom “om ’n bitji Perlse vrugte te eet en ’n bitji Perlse wyn te drink”. Laasgenoemde is verskaf deur die Paarl Berg Wyn en Brandewyn Maatskappy. Cachet was een van dié wat die lewendigste aan die besprekings deelgeneem het.

Van die sprekers het dit beklemtoon dat spelling deur ’n kommissie gereël moet word en nie deur ’n stemming nie, maar ’n “adviserende stemming” is gehou oor ’n paar woorde waaroor daar verskil was. So het baing 42 stemme gekry en banja 19; ek 38 en ik 23; hom 53 en hem 3; ook 19, ok 35 en oek 10; biki 25 en bitji 45; d in woorde soos hond en mond “grote neerderheid” en t 3; ho’er en la’er ensovoorts sonder g 55 en met g 3. Later is ook gestem oor die vraag of jy en jou in plaas van U en uw gebruik moet word “waar tot God en meerdere gespreek word”. Die meerderheid was ten gunste van U.

Ná die sukses van die eerste taalkongres is ’n tweede op 27 en 28 Januarie 1897 in die Paarl gehou. Dié het besluit dat Afrikaans as skryftaal “en selfs as offisiële taal, op staatkundig sowel as maatskappelik gebiid” erken en beoefen moet word, “insonderhyd op di skole”. Verskeie mense het gepraat oor Ons Klyntji, waarvan die eerste nommer in Maart 1896 verskyn het. In die eerste nommer is verklaar: “Myn doel is: die lus en liifde fer ons moedertaal op te wek en an te kweek. Ek kan nie anders praat ni as ek geleer het, en dit is Afrikaans.” Die blad het begin met ’n oplaag van 500, wat volgens Du Toit op die kongres gestyg het tot “omtrent 3000”. Du Toit se vervolgreeks Di koningin fan Skeba was so gewild dat party lesers wou hê die tydskrif moes twee maal per maand verskyn.

Ander werke wat in dié tyd in Ons Klyntji was, was die laaste twee van J Lion Cachet se Sewe duiwels, GR von Wielligh se Jakob Platji en SJ du Toit se Magrita Prinsloo of Liifde getrou tot in di dood. Hierdie drama uit die Voortrekkertyd is by die taalkongres in die Paarl opgevoer. Volgens sy seun JD du Toit (Totius) was dit ’n heerlike aand. “Die stadsaal was propvol en g’n een het onbewoge vandaar gegaan nie.”