DIE NASIONALE PARTY WORD GESTIG

Hertzog het steun ontvang van mense soos pres. Steyn, ds. Kestell, JHH de Waal en genl. CR de Wet. De Wet het op 28 Desember 1912 op ’n groot vergadering in Pretoria om Hertzog as taalstryder te huldig, gesê hy staan “liewer op ’n mishoop met sy volk as in die paleise van die Britse Ryk”. In November 1913 het die Suid-Afrikaanse Party (SAP) finaal geskeur op die “Room”-kongres; Botha het gesê hy is bly om te sien dat die “room van die volk” teenwoordig is. Aan die einde het die kongres Botha met 131 teen 90 stemme gesteun. Hertzog en sy manne het die saal onder indrukwekkende stilte verlaat. De Wet het met sy hoed geswaai en die agterblywendes “Adieu!” toegeroep.

Die verdeeldheid was duidelik by die plegtige onthulling van die Nasionale Vrouemonument op 16 Desember 1913. Die Hertzog- en Botha-manne het weerskante van pres. Steyn gesit. Die twee leiers het mekaar nie gegroet nie. Genl. De la Rey het Bloemfontein toe gekom met ’n Vierkleur en serp wat die vroue van Wes-Transvaal hom in die oorlog gegee het. Hy wou daarmee by die monument verskyn, maar die reëlingskommissie het hom oorgehaal om dit nie te doen nie. Emily Hobhouse wat uit Engeland gekom het om die plegtigheid waar te neem, moes weens swak gesondheid haar reis by Beaufort-Wes staak. Mev. pres. Steyn het die Monument namens haar in die teenwoordigheid van 20 000 mense onthul. Die onthulling is voorafgegaan deur ’n prosessie van 1600 berede burgers en ’n optog van 400 meisies in wit klere.

By die gedenknaald, 34 meter hoog, is ’n beeldegroep met twee vroue en pas gestorwe kind. Die woorde op die gedenknaald lui: Aan onze heldinnen en lieve kinderen/ “Uw wil geschiede”/ Dit nationaal monument is opgericht ter nagedachtenis aan de 26 370 vrouwen en kinderen die in de concentratiekampen zyn omgekomen en aan de andere vrouwen en kinderen die elders tengevolge van den oorlog 1899-1902 zyn bezweken/ Onthuld 16 December 1913.” Op een van die suile is die Bybelteks “Ik zal u niet begeven, Ik zal u niet verlate” (Hebreërs 13 vers 5) aangebring.

Drie weke ná die onthulling het Hertzog se ondersteuners van 7 tot 9 Januarie 1914 in Bloemfontein byeengekom om hul beginsels te formuleer – Hertzog die nasionale en ds. Willem Postma die Christelike beginsels. Die kongresgangers het besluit om nie dadelik van die Suid-Afrikaanse Party af te skei nie, maar hom tot 1 Julie kans te gee om die nuwe program te aanvaar. Dit het nie gebeur nie, en van Julie 1914 af is Nasionale Party-takke gestig. Die NP was bedoel as die Afrikaner se politieke wapen om sy taal, kultuur, tradisies en nasionale identiteit te handhaaf. Postma het nasionalisme kort ná die kongres omskryf as die gehegtheid aan “iemands land, landstaal, sedes en gewoontes”. Nasionalisme “van onse kant” beteken dan “gehegtheid aan onse land, die enige land van die ware Afrikaner, onse landstaal (vir die Boer die Hollandse taal in verskillende vorme; vir die Engelse Afrikaner Engels), onse suiwer Afrikaanse sedes en gewoontes in onderskeiding viral van die ander volke die enigste suiwer nasionaliteit en nasionalisme wat hier is, is die van die Hollandse Afrikaner. Die Engelse se nasionalisme is Brits en sij nasionalisme staan gelyk aan imperialisme.” (Hollands is hier Afrikaans en Nederlands en sowel Afrikaans- as Engelssprekende is hier Afrikaners.)

Die stigting van die NP was een van ’n paar gebeurtenisse in 1914 wat die posisie van Afrikaans sou bepaal. Die ander was die wetlike erkenning daarvan as onderwystaal, die uitbreek van die Rebellie en die eerste stappe om die Nasionale Pers, tans Naspers, op te rig. Daaroor meer in die volgende paar stukkies.