20 APRIL

GEBEURE

1900 – Anglo-Boereoorlog: Beleg van Jammersbergdrif

Genl. Piet de Wet plaas ongeveer 2000 burgers met drie Krupps en twee pom-poms op ’n heuwelrand op die plaas Wakkerstroom, sowat agt kilometer buite Dewetsdorp. Teen 10:00 begin die burgers Rundle se naderende troepe op ’n afstand van byna 1200 meter onder skoot neem. Al die troepe se pogings om die stelling te bestorm of te omvleuel, misluk en hulle moet platval. In die laatmiddag trek ’n vasberade aanval deur die Worcestershires tot so ’n mate die aandag van die Republikeinse skutters en artillerie dat dit die vasgepende voetsoldate toelaat om terug te val.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Moosrivier, Tvl.

 

GEBOORTES

1874 – Jack Hindon, Boereverkenner tydens die Anglo-Boereoorlog († 19 Maart 1919)

Oliver John (Jack) Hindon is in Skotland gebore waar hy in diens van die Britse leër getree het. Hy kom op jeugdige leeftyd na Suid-Afrika om in Zoeloeland diens te doen, maar dros weens swak behandeling. Baie gou het hy hom met die boere in die ZAR vereenselwig en verkry volle burgerreg deur sy vrywillige deelname aan die veldtog teen Jameson (1895). Hy tree daarna in diens van die ZAR-polisie en neem sodoende deel aan talle veldslae tydens die Anglo-Boereoorlog. Sy onverskrokkenheid het onmiddellik opgeval en in Junie 1900 word hy lid van Danie Theron se verkennerskorps. Na sy bevordering tot hoof van sy eie Veg- en Verkennerskorps wat belas was met die ontwrigting van die vyandelike verbindingsweë, ingesluit van hul spoorweglinies, het hy en sy manskappe ’n verskrikking vir die Britte langs die Ooster-spoorlyn geword. Hulle het ook talle suksesvolle klopjagte uitgevoer op Bantoes wat Boeregesinne aangeval het. Sy vernuf en vreeslose meelewing in die Afrikaner se stryd het aan hom ’n ereplek in die volk se heldegalery besorg. Met die aanvang van die vredeskonferensie in April 1902, het hy op advies van lede van die Regering om hom met die vyand te versoen ten einde Britse onderdane in sy korps van vervolging onthef te kry, na die Engelse oorgeloop wat aan sy eise toegee en hom bowendien ’n loon van 12 sjielings (ongeveer R1,20) per dag betaal het. Die Boere het hy nogtans geen kwaad berokken nie. In 1970 word die beroemde Boereverkenner vereer met die instelling van die Jack Hindon-medalje vir buitengewoon ywerige en voortreflike diens in vredes- en oorlogstyd deur manskappe van kommando’s van die SA Weermag. Op die voorkant van die medalje is daar ’n reliëfafbeelding van Hindon en twee van sy makkers waar hulle die Vierkleur tydens die slag by Spioenkop hys. Op die keersy verskyn die versierde wapen van die RSA in reliëf. Na die Anglo-Boereoorlog vestig hy hom as bou-aannemer in die VSA, maar keer later terug na die Republiek waar hy op 19 Maart 1919 in Pretoria sterf.

1922 – Nicolaas Georg (Klaas) Steytler, skrywer en voormalige redakteur van Die Huisgenoot († 27 Augustus 1998)

Klaas Steytler was ’n skrywer, wat veral misdaad- en speurverhale geskryf het. Hy debuteer onder die naam NG Steytler, maar verskeie van sy werke verskyn onder die skuilnaam Jan Harmse.

1927 – Jan Christiaan (Chris) Heunis, politikus en hervormer († 27 Januarie 2006)

Chris Heunis was ’n regter, politikus, lid van die Nasionale Party en kabinetslid in die regering van John Vorster en PW Botha.

1940 – Nic Swanepoel, radio-uitsaaier en TV-nuusleser († 29 September 1998)

 

STERFTES

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/