JACK HINDON (1874-1919)

Kaptein Jack Hindon was ’n Boereverkenner tydens die Anglo-Boereoorlog.

Oliver John Hindon, bekend as Jack, is op 20 April 1874 in Stirling in Skotland gebore en het op veertienjarige ouderdom by die weermag aangesluit. Hy het na Suid-Afrika gekom toe sy regiment na Zoeloeland verskuif is, maar hy en ’n paar seuns het gedros nadat ’n sersant-majoor hulle sleg behandel het. Hulle het daarna in Transvaal in die myne gaan werk. Later het hy ’n suksesvolle boer en bouer in Middelburg, Mpumalanga, geword.

Nadat Hindon die Zuid-Afrikaansche Republiek tydens die Jameson-inval bygestaan het, is burgerskap aan hom as erkenning vir sy diens toegeken en hy het hom by die Republikeinse Berede Polisie aangesluit. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hy hom by die Boeremagte aangesluit, waar hy saam met Danie Theron gewerk het, en sy waaghalsigheid en dapperheid het van hom ’n legende gemaak. Saam met Henri Slegtkamp en Albert de Roos het hy genl. Buller se magte tydens die Slag van Spioenkop teruggehou. Hy was later in bevel van sy eie korps en het groot skade aangerig deur onder meer Britse spoorlyne op te blaas. Op 28 Junie 1901 het hy die spoorlyn naby die Uitkyk-stasie in die Balmoral-omgewing opgeblaas. Op 4 Julie 1901 het hy ’n trein suid van Naboomspruit ontspoor en in 31 Augustus daardie jaar het hy een tussen Waterval en Hammanskraal ontspoor. Net voordat die oorlog tot ’n einde gekom het, is hy met ’n koors platgetrek. Hy is nooit gevang nie en is vir ’n Bittereinder gereken.

In 1970 het die destydse Suid-Afrikaanse staatspresident Jim Fouché die Jack Hindon-medalje vir voortreflike diens aan die kommando’s van die Suid-Afrikaanse Weermag ingestel. Dit het drie burgers, naamlik Hindon, Slegtkamp en De Roos, wat die Transvaalse Vierkleur na aanleiding van die oorwinning tydens die Slag van Spioenkop geplant het, uitgebeeld. Die toekenning van hierdie medalje is in 1975 gestaak.

Hy is op 19 Maart 1919 in die ouderdom van 44 jaar oorlede.

deur Daantjie Badenhorst