’N BAANBREKER MET AFRIKAANSE BOEKE
Totius se gedigte is gedruk by ’n drukkery wat so ’n baanbreker was as DF du Toit & Co voor 1900. Hendrik de Graaf, ’n gebore Nederlander, wat vrywilliger in die oorlog was, is by Elandslaagte gevang en na Sint Helena gestuur. Voor die oorlog was De Graaf aan die staatsdrukkery in Pretoria verbonde, en het ná sy terugkeer in diens van De Volksstem getree. In 1904 het hy saam met BP Landa, ook ’n oudkrygsgevangene, ’n drukkery op Potchefstroom begin. Genl. Smuts het nog daardie jaar opdrag gegee dat De Graaf gehelp word uit die fondse wat Leyds uit Nederland na Suid-Afrika gestuur het, en daarmee het De Graaf begin met Het Westen (eerste nommer 18 November 1904). Die koerant is in ’n arm gemeenskap versprei en het met moeite oorleef. In 1908 het die blad gekla dat party intekenaars al drie jaar se intekengeld skuld. Hulle het die reg gekry om die intekengeld of ’n deel daarvan te betaal met eiers, pluimvee, mielies, veevoer of aartappels teen markpryse. Verskeie van die eerste redakteurs was ook oud-Nederlanders en -krygsgevangenes op Sint Helena.
Toe die teologiese skool van Burgersdorp na Potchefstroom verskuif, het De Graaf bevriend geraak met leidende figure van dié Kerk, soos proff. J Lion Cachet, J Kamp en Totius. In 1907 het De Graaf boeke begin uitgee, onder meer verskeie drukke van Sewe duiwels en wat hulle gedoen het van “Ou Oom Jan”, skuilnaam van Cachet. Van die 33 Afrikaanse poësie- en prosawerke wat tussen 1907 en 1915 verskyn het, het “Het Westen”-Drukkerij sewentien uitgegee. Die res was van sewe ander uitgewers. Een van die boekhandels en uitgewerye wat van 1914 af al meer belangrike werke begin uitgegee en versprei het, is JL van Schaik, ook ’n gewese Nederlander. Hy het later talle skoolboeke uitgegee.
Al was die “eerstelinge van onse litteratuur” geen groot kunswerke nie, het hulle die houding teenoor Afrikaans as skryftaal laat verander. De Waal het in 1910 gesê dat waar opgevoede jong mense vóór 1906 feitlik alle briewe in Engels geskryf het, ’n menigte jongmense dit al “in ongekunstelde Afrikaans” doen. “Hulle het ontwaak tot die besef van die verdienstelikheid van hul eie omgangstaal, en, nietteenstaande dat hulle gin Afrikaans op skool geleer het nie, val dit hulle gemakkelik”.
NP van Wyk Louw vertel dat sy dorpsonderwyser uit radeloosheid met sy verveelde leerlinge die Bloemen uit de Nederlandsche tuin toegeklap en gesê het dat hy vir hulle ’n “ander soort versie” gaan lees. Dit was “Die Vlakte” van Jan Celliers. “Ons het nie eens geweet daar bestaan so iets soos Afrikaans nie, en wat ons toe gehoor het, was vir ons die oopgaan van ’n nuwe wêreld.”