RYKDOM, ARMOEDE EN ANC-WETTE HET GEVOLGE VIR AFRIKAANS

Hoewel Afrikaners nooit hul agterstand teenoor Engelssprekendes kon uitwis nie, het tientalle deur harde werk, inisiatief en vindingrykheid uitgeblink. Die kykNET-reeks Megaboere vestig die aandag op ’n beskeie groep wat ondanks teenslae in ’n onvriendelike omgewing kon presteer. Onder die heel rykes van die land is mense soos Koos Bekker, die miljardêrs waaroor Pieter du Toit in The Stellenbosch Mafia skryf soos Johann Rupert en Jannie Mouton, asook Christo Wiese, wat saam met sy medewerkers verseker het dat Shoprite in veertig jaar die grootste kleinhandelgroep in Afrika word. Daar is talle ander ryk Afrikaners. Naspers wat in 1915 begin het as ’t ware as ’n kind “van de smart en van de hoop”, is tans een van die grootste ondernemings in die land en is ook bedrywig elders in Afrika besuide die Sahara, Griekeland, Ciprus, Nederland, Thailand en China.

By party histories Afrikaanse maatskappye soos Sanlam en Absa is Afrikaans nie meer die werktaal nie. Die digter en oudredakteur van Sarie en Rapport, IL (Izak) de Villiers, het op ’n Naspers-geleentheid ’n vraag gestel wat ook ander gevestigde instellings hulleself kan afvra: “Hierdie maatskappy is gebore uit ons mense se nood. Naspers is gestig met min geld en baie idealisme. Vandag het ons baie geld, maar het ons nog die idealisme?”

Instellings wat hul besigheid op Afrikanersentiment gebou het, het volgens Flip Buys ná 1994 gerieflik hul wortels vergeet, en nie meer Afrikaans vir opleiding gebruik nie. Die naskoolse beroepsopleiding van die privaat sektor het net soos dié van die staat heeltemal verengels. Die afskaling van Afrikaans het volgens Buys ’n rol gespeel in die toename van armoede onder Afrikaners. Die demograaf Flip Smit skat in 2010 die aantal arm Afrikaners op ongeveer 600 000. Buys konstateer dat die armoede waarin baie Afrikaners verval het, hoofsaaklik die gevolg is van “uitsluiting”: onbillike diskriminasie, transformasie en gebrek aan opleidingsgeleenthede vir jong mense. In arm gesinne is daar min geleentheid vir kinders om verder te studeer.

Transformasie: dit is een van die woorde en frases wat die openbare lewe sedert 1994 oorheers en baie individue se lewe vergal. Ander terme is regstellende aksie (affirmative action), verteenwoordigendheid (representativity) en swart ekonomiese bemagtiging (black economic empowerment). Die wet wat regstelling van aangewese groepe soos vroue en swartes reguleer, is die Wet op Billike Indiensneming. Indien ondernemings nie vinnig genoeg “regstel” nie, kan hulle swaar boetes opgelê word, of kan hulle staatskontrakte geweier word. Transformasie is die sambreelterm vir al die soort maatreëls. Een gevolg van transformasie was die aanstelling van swak gekwalifiseerde en onervare mense in die plek van kundige en ervare mense, en swak dienste was die gevolg.

Mettertyd het die fokus van regstelling verskuif na verteenwoordigendheid. Die demografie van die land moet in die werkplek en in organisasies weerspieël word. ’n Vergelyking van die persentasies staatsamptenare uit die verskillende bevolkingsgroepe in 1994 met dié in 1996 toon hoe vinnig die proses verloop het. In 1994 was 52% van die werknemers in die staatsdiens wit, 42% swart, 4% bruin en 2% Indiër. In 1996 was 65% swart, 23% wit, 9% bruin en 3% Indiër. In 2013 het die staatsdiens se werkmag bestaan uit 852 223 swart mense, 27 823 Asiate, 88 771 bruin en 85 960 wit mense.

Die verlies van vaardighede waarop Johnson (kyk by 19 Desember) en ander al gewys het, het tot byna ’n krisis in die lewensgehalte van baie mense gelei. Selfs ná die einde van die Zuma-bewind kon die verval van staatsinstellings en ANC-bestuurde munisipaliteite nie gestuit word nie. Talle dorpe is vir lang tye sonder water; riool oorstroom strate; beurtkrag kom gereeld voor. Die ANC toon dat hy doeltreffender met aftakeling is as met opbou.

Nog ’n gevolg van transformasie is ’n ingrypende inkorting van die funksies van Afrikaans. In die staatsdiens en die staatskorporasies is Afrikaans as werkstaal en kommunikasiemedium prakties uitgeskakel, omdat daar min mense oorgebly het wat Afrikaans kon gebruik.

Ook die regspleging word geraak. Die plaaslike taaldemografie en die behoeftes van gemeenskappe word geïgnoreer. Die gevolg is dat personeel aangestel word wat nie in staat is om die publiek in die taal of tale van daardie omgewing te kan bedien nie. In talle gevalle word landdroste, staatsaanklaers, staatsadvokate, polisie en ander amptenare aangestel wat nie Afrikaans magtig is nie en daarom die Afrikaanse publiek nie daarin kan help nie.

Dit bring mee dat pleitstukke in siviele sake waarby uitsluitlik Afrikaanse persone betrokke is, in Engels vertaal moet word sodat die voorsittende beampte dit kan verstaan. Om dieselfde rede moet getuienis vir voorsittende beamptes in Engels getolk word. Die betrokke partye moet self die koste van die vertaal- en tolkwerk dra. In strafsake dra die staat wel die koste van tolke. Waar die strafhowe nog al die jare goed gerat was om tussen Engels of Afrikaans en die Afrikatale tolkdienste te verskaf, was en is die howe nie ingerig vir tolkwerk tussen Engels en Afrikaans nie. Sulke dienste is óf nie beskikbaar nie óf is van so ’n swak gehalte dat Afrikaanse getuies en beskuldigdes liewers verkies om in Engels te getuig, dikwels tot hul eie nadeel.