WIT EN SWART

Prof. Fransjohan Pretorius haal die mening van P Warwick aan dat die Indiër-, swart en bruin elite geglo het dat ’n Britse oorwinning hul saak sou bevorder. Dié elite het dus Brittanje gesteun. ’n Uitsondering was John Tengo Jabavu, eienaar en redakteur van die Oos-Kaapse koerant Imvo Zabantsundu (“Beskouinge van die Bantoevolk”). Dit was vir hom moreel onregverdigbaar om die republieke te vernietig om Britse heerskappy te vestig. Swart teenstanders het hom onpatrioties genoem en party uitgawes van sy blad is verbrand. Dit is tussen Augustus 1901 en Oktober 1902 verbied.

Chamberlain en Milner het in September 1899 besluit dat die oorlog “a white man’s war” sou wees. Die regular army en wit vrywilligers sou maklik die Boere kon onderwerp en geen plaaslike swart stam se bystand sou die uitslag van die oorlog bepaal nie. Die Britse regering het met reg verwag dat die deelname van swartes skerp kritiek sou ontlok van die Kaapkolonie en Natal.

Tog het die Britte bruin en swart mense in diens geneem, eers in nie-vegtende hoedanigheid. Nadat Kitchener die bevel oorgeneem het, is hulle al hoe meer bewapen. In die tweede helfte van 1901 het die meeste swart verkenners gewere ontvang – iets wat die Britse liberale opposisie hewig gekritiseer het. In Maart 1902 het Kitchener op vrae in die Britse parlement oor die getal gewapendes in Britse diens geantwoord dat daar in die Kaapkolonie 2496 swart en 2939 bruin mense was en in Natal, die Vrystaat en Transvaal 4618 gewapende swart mense. Volgens Pretorius het dit nie totale aantal swart mense in die Britse militêre diens verteenwoordig nie. David Lloyd George het beweer dat daar tot 30 000 gewapende gekleurdes in Britse militêre diens was – meer as die aantal bittereinder-Boere in Mei 1902. Ná die oorlog het die Britte meer as 50 000 vuurwapens van swart mense in Transvaal gekonfiskeer.

Die Boere was baie teen die gebruik van gewapende gekleurdes. Hulle het in die reël gewapende swart mense in Britse diens doodgeskiet, al het dié optrede die Boere soms erg ontstel.

Daar bestaan talle verslae oor die wyse waarop swart mense, soms onder toesig van joiners, Afrikanervroue en kinders behandel het wat van hul brandende woonhuise na die konsentrasiekampe weggevoer is. Die wegvoering uit veilige huise, wat verwoes en aan die brand gesteek is, was reeds traumaties, en omdat swart mense so dikwels by die wandade betrokke was, is dit nie verbasend dat die slagoffers nie net bitter teenoor “die Britte” sou voel nie, maar ook teenoor hul medepligtiges. Die republikeinse leiers het telkens by die Britte beswaar gemaak teen die gebruik van swartes en voorbeelde verskaf van moorde en ander wandade. Botha het aan Kitchener melding gemaak van moorde aan die Swazilandse grens, en genl. De la Rey van ’n vrouelaer wat op 29 September 1901 in die distrik Rustenburg deur ’n swart kommando aangeval is.

Maar baie swart mense het op plase en as “agterryers” lojaal aan die Boere gebly. ’n Vrystaatse generaal, genl. GJ Joubert, sê dat, hoewel daar oorlopers was, die meeste “wonderlik diensvaardig was en getrou aan die Boeresaak – in baie gevalle tot die dood toe, selfs waar sommige se werkgewers na die vyand oorgeloop het.” Party het die vee van hul werkgewers opgepas terwyl dié op kommando en in die konsentrasiekampe was. In Moeder Poulin gee GH Franz ’n mooi beskrywing van die oorlog en die tradisionele wit-swart verhoudings op die platteland, soos vertel deur ’n swart vrou.

Baie swart mense was ook in konsentrasiekampe. Party het uit hul eie hul stamgebiede verlaat en beskerming by die Britse owerheid gaan soek. Toe Kitchener in 1901 met sy dryfjagte begin het, is swart mense van plase, ook hul eie krale en selfs sendingskole verwyder en na kampe geneem. Die bedoeling daarmee was dat die Boere nêrens enige bystand kon kry nie. Swart en wit mense was in afsonderlike kampe. Teen die einde van die oorlog was daar sowat 115 000 swart mense in meer as sestig kampe. In September 1901 is 110 000 Boervroue en -kinders in 34 konsentrasiekampe gevange gehou.

Die swart weerstand teen die Boeremagte en die swart mense se gewapende samewerking met die Britte was ’n belangrike faktor in die besluitneming van die Boere-afgevaardigdes by die vredesonderhandelinge. Die onderhandelinge was reeds aan die gang toe daar gevegte tussen Boere en gewapende swart mense plaasgevind het.