20 JUNIE
GEBEURE
1848 – Andries Pretorius as kommandant-generaal verkies
1850 – Ladysmith kom tot stand
’n Aantal Voortrekkers wat in die laat 1830’s die Drakensberge oorgesteek het, het hulle in die waterryke vallei aan die oewers van die Kliprivier in KwaZulu-Natal gevestig. In Desember 1847 is ’n nuwe dorp gestig. Die dorp was aanvanklik vernoem na George Windsor, ’n plaaslike handelaar. Die dorp se naam is verander na Juanasburg en op 20 Junie 1850 is die naam weer verander na Ladysmith, ter ere van Lady Juana Maria de los Dolores de Leon Smith, die Spaansgebore vrou van sir Harry Smith, Goewerneur van die Kaapkolonie van 1847 tot 1854.
1879 – Stigting van die Afrikanerbond
Ds. SJ du Toit, ’n predikant van die NG Kerk en leier van die Eerste Taalbeweging, het in Junie 1879 in ’n hoofartikel van Die Afrikaanse Patriot die stigting van ’n “Afrikaner Bond” om die Afrikaners politiek bewus te maak, bepleit. Die Bond het die vereniging onder een beherende liggaam van alle persone, wat Suid-Afrika as hulle tuisland aanvaar, beoog. Sy tweede oogmerk was ’n verenigde Suid-Afrika onder Britse kusbeskerming, maar met ’n eie vlag en ’n eie regeringsvorm wat uiteindelik op ’n Suid-Afrikaanse republiek moet uitloop. Ds. SJ du Toit het die Afrikanerbond op 20 Junie 1879 in die Paarl in die lewe geroep om aan hierdie oogmerke gevolg te gee. Die seëvierende Vryheidsoorlog in Transvaal het geesdrif vir die oogmerke van die Bond hoog laat vlam. Die Bond het spoedig in die Kaapkolonie naas die gematigde Boeren-Beskermingsvereeniging van JH Hofmeyr (Onze Jan), wat slegs beperkte ekonomiese oogmerke gehad het, ingang gevind. Takke van die Bond is ook in Transvaal en die Vrystaat gestig. JH Hofmeyer, ’n uitnemende taktikus, het afskeiding van die Britse Ryk nie as praktiese politiek beskou nie. Hy het in die verengelste atmosfeer van Kaapstad grootgeword. In Mei 1883 het hy daarin geslaag om op ’n kongres van die Bond in Richmond, Kaap, die Bond en sy eie Boere-Beschermingsvereeniging te amalgameer. Die aanvaarding van ’n gematigde “Program van Beginsels” in 1889, wat na groter ekonomiese eenheid in Suid-Afrika en samewerking tussen Afrikaans- en Engelssprekendes gestreef het, veral in die Republikeinse noorde, het die Hofmeyr-seksie in beheer van die Afrikanerbond geplaas. Teen 1890 was dit egter duidelik dat die Afrikanerbond nie bestem was om ’n al-Afrikanerorganisasie te wees nie, maar boereparty vir die Kaapkolonie.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Genl. De Villiers word oorval
Die Kaapse rebelleleier, Generaal PJ de Villiers, word deur die Britse mag van Sir C Warren oorval. Sowat 220 man, asook 280 perde, 18 ossewaens en meer as 100 000 rondtes ammunisie beland in Britse hande. Generaal De Villiers slaag egter daarin om met 30 man te ontvlug.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Boeregeneraals kom naby Standerton byeen
Pres. MT Steyn saam met pres. TF Burgers (waarnemend) asook die meerderheid Boere-generaals kom naby Standerton, Waterval, bymekaar. Pres. Steyn staan vas. Hy stel dit onomwonde dat die ander maar kan vrede maak, maar dat hy die stryd sal voortsit. Pres. Paul Kruger, wat ’n telegram aangestuur het, bemoedig ook al die aanwesiges. Konsensus word daarna bereik dat die stryd voortgesit sal word.
GEBOORTES
1885 – Barend Bartholomeus (Bennie) Keet, predikant en een van die vyf vertalers van die 1933-vertaling van die Bybel († 21 Junie 1974)
Barend Bartholomeus Keet is op Alice, Kaap, gebore. Hy het in dogmatiek aan die Vrye Universiteit van Amsterdam gepromoveer. As student op Stellenbosch het hy hom saam met dr. Tobie Müller beywer vir Afrikaans. Van 1916 tot 1919 was hy predikant op Graaff-Reinet. In die Sinode van die Kaapse kerk in 1919 word sy voorstel aanvaar dat die Bybel in Afrikaans vertaal moet word, en dat leraars Afrikaans op die kansels mag gebruik. Vanaf 1919 het hy professor aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch geword, waar hy aangebly het tot sy aftrede. Hy was ook baie jare lid van die Raad van die Universiteit van Stellenbosch, waar hy aangebly het tot sy aftrede. Hy is aangewys as een van die vyf eindvertalers van die Bybel in Afrikaans. Hier het hy belangrike werk verrig op die Ou en Nuwe Testament. Nadat die Afrikaanse Bybel in 1933 verskyn het, is hy en Totius (prof. dr. JD du Toit) aangewys om revisie van die vertaling te doen. Hierdie revisie het in 1953 verskyn. Op die gebied van die Afrikaanse teologiese literatuur het hy baanbrekerswerk verrig. In 1945 publiseer hy bv. die eerste teologiese etiek in Afrikaans, nl. Sedelike vraagstukke. Prof. Keet is op 21 Junie 1974 op Stellenbosch oorlede.
STERFTES
1930 – John William Jagger, kabinetsminister en sakeman (* 20 September 1859)
John William Jagger was ’n Suid-Afrikaanse sakeman en kabinetsminster. Hy kom in 1880 na Suid-Afrika en word ’n klerk in ’n sakeonderneming in Kaapstad. In 1883 stig hy sy eie onderneming as invoerder van weefstowwe en lê die grondslag vir die latere bekende firma met sy naam. Hy het ywerig in die ekonomie belang gestel en word ’n woordvoerder vir die handel. In 1902 of ’03 word hy lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering (waar hy ’n groot voorstander van vrye handel was) vir Kaapstad, later vir Kaapstad-Sentraal in die Unie-Volksraad. Van 1908 tot 1909 is hy lid van die Nasionale Konvensie wat die Suid-Afrika-wet opstel en die weg baan vir Uniewording. Hy word in die verkiesing van 1915 herkies as Unie-Volksraadslid. In 1921 word hy minister van spoorweë in genl. Jan Smuts se kabinet. Hy moes die ongewilde beleid van afleggings uitvoer. Hy het ruim bygedra tot die opvoedingsaak en die Jagger-biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad is na hom genoem. Hy sterf in 1930 in die Moederstad.
2015 – Jan Scholtz, draaiboekskrywer, regisseur en rolprentvervaardiger (* 20 Oktober 1938)
Jan Scholtz was ’n Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger van rolprente en verskeie TV-reekse. Hy was die skrywer en/of regisseur van 20 vollengte rolprente.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.