TF BURGERS (1834-1881)
TF Burgers was ’n omstrede teoloog en president van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Thomas Francois Burgers is op 15 April 1834 op die plaas Langfontein in die distrik Graaff-Reinet gebore. Hy het sy skoolopleiding in Engels op Graaff-Reinet ontvang, waarna hy in die Nederlandse stad Utrecht in die teologie gaan studeer het. Hoewel sy van eintlik Burger was en dit as sodanig met sy doop opgeteken is, het hy voor sy vertrek na Europa op negentienjarige ouderdom sy van as Burgers geskryf.
Terwyl hy in Utrecht gestudeer het, het hy die “moderne” of meer liberale rigting in die teologie aanvaar. Hy is in 1858 met ’n Skotse dame, Mary Bryon, getroud. Altesaam tien kinders, waarvan drie vroeg oorlede is, is uit die huwelik gebore. In dieselfde jaar het hy teruggekeer na die Kaap en leraar van die NG Kerk op Hanover geword nadat hy doktorsgraad in teologie verwerf het. In sy eerste gemeente het hy betrokke geraak in ’n teologiese geskil op grond van sy beweerde liberalisme en ongeloof in die letterlike waarheid van die Bybel. Dit het gemaak dat die Sinode hom in 1862 as predikant geskors het. Hy het hom tot die Kaapse Hooggeregshof gewend. Die hof het hom gelyk gegee en nadat die Sinode se appèl ook by die Britse Geheime Raad misluk het, is hy as predikant herstel.
In 1871 het pres. MW Pretorius van die Zuid-Afrikaansche Republiek uit sy amp bedank as gevolg van die Keate-uitspraak oor die Transvaalse suidwestelike grens. Hoewel die Hervormde Kerk sy kandidatuur gesteun het, het die NG Kerk, veral ds. F Lion Cachet, asook die waarnemende president DJ Erasmus en kmdt-genl. SJP Kruger hom teengewerk. Dit het gebeur nadat pres. Brand van die Oranje-Vrystaat genader is om die presidentskap van die ZAR oor te neem en ’n federale unie tussen die twee susterrepublieke tot stand te bring. Daarvan het egter niks gekom nie; daar is ’n behoefte aan ’n “geleerde” president, wat op ’n kritieke tydstip in die betrekkinge met Groot-Brittanje sterk en bekwaam sou optree, gevoel. Burgers is met ’n oorweldigende meerderheid tot president verkies en op 1 Julie 1872 in sy amp beëdig.
Hy was ’n idealis wat in ’n nasionale idee en ’n verenigde Suid-Afrika onder ’n federale stelsel geglo het, hoewel dit nie bewys kon word dat hy dit onder een vlag bedoel het nie. Dit was aanvanklik sy oogmerk om die republiek uit sy ekonomiese, geestelike en politieke afsondering te verlos deur vooruitgang te bevorder in finansies, onderwys en handel, onder meer deur nuwe wetgewing en ’n spoorlyn tussen Pretoria en Delagoabaai en om te voorkom dat die republiek deur die ongunstige Keate-verslag grondverliese aan sy suidwestelike grense sou ly.
In 1874 het hy die eerste Burgers-ponde van Transvaalse goud waarop sy beeltenis en die landswapen gepryk het, laat slaan. Hy was in daardie tyd gereeld uit die hoofstad afwesig en dikwels oorwerk en siek. Hy het die kulturele lewe in Transvaal bevorder deur die stigting van die blad De Volksstem, met JF Cilliers as eerste redakteur en deur ’n museum, biblioteek en botaniese tuin waar sy standbeeld staan.
Nogtans het Burgers te veel op eie houtjie opgetree sonder om die volk genoegsaam in sy handelinge te ken. Die publiek was van mening dat sy onderwyswetgewing in sy aanvanklike vorm die Bybel uit die skool sou neem en kinders aan die kerk sou ontruk. In 1874 het hy die Vierkleur en Transvaal se wapen vervang deur ’n oorhoekse kruis op ’n blou veld wat, volgens hom, die ou Potgieter-vlag was. Die volk het teen die verontagsaming van die tradisie in opstand gekom en die vlag op verskeie plekke neergehaal. Die volgende jaar het die volksraad die vlagwysiging in Burgers se afwesigheid herroep, en dit het tot bitterheid en teenkritiek aan sy kant aanleiding gegee.
Intussen was daar ’n breuk tussen hom en die burgers wat hom met so ’n groot meerderheid verkies het; hulle was teleurgesteld in sy taktlose en oorhaastige optrede. Hy wou hoër vlieg as wat sy republikeinse vlerke toegelaat het en sy oorskatting van die land se potensiaal het tot teleurstelling gelei. Pleks daarvan om mense te verenig soos wat pres. Brand gedoen het, het Burgers sy veroordeling en geringskatting van die Transvaalse burgers nie verberg nie. Sy liberale godsdienstige opvattinge, die beleid om homself met liberale Nederlandse amptenare te omring, sy minagting vir tradisie en gebrek aan kennis van die volk en sy omstandighede het al hoe meer verdeeldheid veroorsaak sodat hy afgesonderd geraak het en die vertroue van sy mense verbeur het.
Op 12 April 1877 het die Britse magte Transvaal geannekseer en Burgers is uit die kussings gelig. Dit was vir hom ’n diplomatieke nederlaag wat die einde van sy politieke loopbaan beteken het. y HBy sy vertrek na Kaapstad in Mei 1877 was hy verarm, veral omdat sy persoonlike vermoë in belang van die staat verpand is. Daar sou ’n jaarlikse pensioen van £ 500 van Britse kant uit die Transvaalse staatskas aan hom uitbetaal word op voorwaarde dat hy uit Transvaal wegbly, maar as hy ’n ander betrekking sou aanvaar, sou dit verval. Allerlei gissinge en onplesierige verwyte het hieroor ontstaan en uit Transvaal is beskuldigings van verraad gehoor wat by Burgers ’n diepe verbittering teenoor die Transvalers, wat hy van ondankbaarheid, onkunde en agterlikheid beskuldig het, gewek het. In 1878 het hy aanraking met die tweede deputasie, wat uit Kruger en Joubert bestaan het, ontwyk, hoewel Joubert self hom genooi het om as derde lid aan te sluit. Hy het advies en hulp in belang van Transvaal van die hand gewys, Kruger verkleineer en die Boerevoormanne aangeraai om hulle by die anneksasie te berus en hul “denkbeeldige” griewe teen Brittanje te laat vaar. Hy het verklaar dat hy ’n federasie onder die Britse vlag as die oplossing vir die Transvaalse probleem gesien het en sy twyfel uitgespreek oor of die Transvalers verdien het om ’n onafhanklike republiek te wees. In 1881 het hy skepties gestaan teenoor die herwinning van vryheid van die republiek.
Later het hy op die plaas De Dammen in die distrik Hanover in die Karoo hoofsaaklik met volstruise geboer, maar nadat hy in 1881 ernstig siek geword het en aan ’n pynlike en ongeneeslike siekte gely het, is hy op 9 Desember 1881 in die ouderdom van 47 jaar onder armoedige omstandighede oorlede. Die dorp Burgersfort in Mpumalanga is na hom vernoem.
deur Daantjie Badenhorst