’N DEMOGRAFIESE KRISIS

Die dreigende demografiese krisis van voor 1994 het vir wit mense en veral die Afrikaners in die jare daarna ’n wrede werklikheid geword. Veral twee faktore dra daartoe by: misdaad en drakoniese transformasie-maatreëls. Misdaad laat wit en in mindere mate ook bruin en swart mense emigreer. Daarby laat maatreëls soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging baie wit mense voel dat daar vir hulle geen toekoms in die land is nie. Regstellende aksie tref veral wit mans en soms moet hul vroue as broodwinners optree, wat uiteraard gevolge het vir die grootte van gesinne. Wit mense voel al hoe meer dat hulle tweedeklasburgers in hul eie land is. Dit skep ook groter polarisasie tussen groepe; regstellende aksie het ’n strafkarakter gekry – deel van die politiek van vergelding.

Getalsgewys verkeer die Afrikaanssprekendes in ’n benarde posisie. Volgens die 2011-sensus is 79,2% (meer as 41 miljoen) swart, gevolg deur 8,9% (4,6 miljoen) bruin, 8,9% (4 586 838) wit, 2,5% (1,12 miljoen) Indiër en 0,5% “ander”. Die persentasie wit mense het gedaal van 9,6% in 2001. Die wit mense het die vervangingsvlak (gemiddeld 2,1 kinders per vrou) teen die laat 1980’s bereik, die Indiërbevolking teen die laat 1990’s, en die bruin bevolking waarskynlik omstreeks 2010. Die wit geboortesyfer het in die afgelope 50 jaar gedaal van 3,5 in 1960 tot 1,8 in 2001 en 1,7 in 2010.

Misdaad was ná 1994 ’n belangrike rede vir die emigrasie van wit mense in die ouderdomsgroep 25 tot 45. Volgens party skattings beloop die aantal emigrante meer as 1,2 miljoen. Die Instituut vir Rasseverhoudinge stel dit egter op tussen 500 000 en ’n miljoen. Dit is veral hoogs opgeleide jong mense wat die land verlaat.

So opvallend het die emigrasie geword dat die internasionale nuustydskrif Newsweek in Februarie 2009 ’n artikel daaroor gepubliseer het. Daarin word ’n mening van die SA Instituut vir Rassebetrekkinge aangehaal dat wit mense die land verlaat teen ’n koers wat mens verwag wanneer ’n algemene siekte, ’n groot natuurramp of grootskeepse burgeroorlog op pad is. Meer as vyftig mense word elke dag vermoor, en Suid-Afrika het een van die hoogste per capita-moordsyfers ter wêreld. Ook die verkragtingsyfer is hoog – dieselfde as in konflikgebiede soos Sierra Leone, Colombia en Afghanistan. Newsweek noem ook plaasaanvalle; sommige daarvan word met ’n rassemotief uitgevoer.

Die tyd sal moet leer of twee waarnemings in die jaar 2019 aanduidings is van ’n klein maar belangwekkende nuwe tendens. Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit-Navorsingsentrum (SNI), toon sensussyfers dat daar meer wit en bruin Afrikaanse kinders gebore word. Dr. Dirk Hermann, hoof van Solidariteit, bring dit in verband met ’n “onderbewuste” gevoel in gemeenskappe wat in ’n onsekere tyd leef: “Moet ons ontbind, of moet ons oorleef? Dit is in tye van onsekerheid dat mense meer kinders kry om oorlewing te verseker.”

’n Tweede tendens wat uit navorsing van die SNI blyk, is ’n groter konsentrasie Afrikaanssprekendes in bepaalde dorpe en stede. Terwyl baie klein dorpe weens swak dienste leegloop, brei sowat dertig groter dorpe en stede se wit Afrikaanssprekende bevolking sodanig uit dat die Solidariteit Beweging hulle as “ankerpunt-dorpe” geïdentifiseer het. Dit kan groter getalle vir byvoorbeeld Afrikaanse skole verseker. Die dertig plekke in volgorde van geprojekteerde Afrikanerbevolkings in 2030 is Pretoria, Ekurhuleni, Kaapstad, Gqeberha (Port Elizabeth), Bloemfontein, Krugersdorp, Klerksdorp, Rustenburg, Middelburg (Mpumalanga), Secunda, Mbombela (Nelspruit), Durban, Welkom, Potchefstroom, George, Pietersburg (Polokwane), Paarl, Meyerton, Sasolburg, Mookgopong (Naboomspruit), Bela-Bela (Warmbad), Modimolle (Nylstroom), Heidelberg (Gauteng), Richardsbaai, Ermelo, Bethlehem, Margate, Upington, Tzaneen, Kathu en Orania.