21 MEI – TRANSVAAL WORD MODERNE STAAT

Dit was heelwat moeiliker om spoorweë in Transvaal aan te lê as in die Vrystaat. Delagoabaai, tans Maputo, was die hawe naaste aan Pretoria en die Rand, en ’n spoorlyn daarheen sou vir die grootste afstand oor Transvaalse grondgebied loop. Met hul besoek aan Nederland het die deputasie van Kruger, genl. NJ Smit en ds. SJ du Toit in 1884 ’n konsessie toegeken aan ’n Nederlandse groep. Die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij (NZASM) het in 1887 tot stand gekom met ’n werkkapitaal van £200 000 wat in 1895 tot £1 500 000 gestyg het.

Die belangrikste taak van die NZASM sou die bou wees van die Oosterlyn, die spoorweg na Delagoabaai. Van moerassige strand moes die roete gaan deur digte bosveld tot by Komatipoort aan die grens, en daarvandaan deur ’n ruie vallei tot aan die voet van die bergreeks wat die lae- van die hoëveld skei. Die werk aan dié deel van die spoor is vertraag, en die eerste lyn wat gebou is, was tussen Johannesburg en Boksburg, bekend as die Randtram. Dit is gebou vir die vervoer van steenkool. Dit is in 1890 geopen en dieselfde jaar verleng tot in Springs.

In Mei 1890 het die Nederlandse ingenieurs en arbeiders by Komatipoort met die bou van die Oosterlyn begin. Hulle moes bosse uitkap en brûe bou oor vinnig stromende riviere en spruite en teen steil berghange op. Dit was ’n woeste en wilde wêreld; snags kon die werkers die leeus hoor brul. Talle het gesterf aan malaria. Die verbinding tussen Pretoria en Johannesburg was in 1892 gereed en in 1894 het die werk begin aan Johannesburg-stasie, wat nog altyd Park-stasie genoem word na ’n vroeëre spoorweghalte. Pres. Kruger het die laaste bout van die Delagoabaailyn op 2 November 1894 ingedraai en die gereelde diens tussen Pretoria en die huidige Maputo het op 1 Januarie 1895 begin.

Die amptelike opening van die Oosterlyn was in Julie 1895. Die goewerneurs van die Kaapkolonie, Natal en Mosambiek het spesiaal na Pretoria gekom. Daarna is die feestelikhede in Delagoabaai voortgesit. Die president is soontoe, vergesel van vooraanstaande Transvalers soos Carolus Tregardt, wat as jong man die Tregardt-trek van die Soutpansberg na die Portugese gebied meegemaak het. As ou man het hy die voorreg gehad om in enkele ure die afstand af te lê wat vir die trekkers maande geduur het. Die ou Voortrekker-ideaal van ’n verbinding met ’n seehawe, vry van Britse beheer, was verwesenlik. Transvaal het vinnig vooruitgegaan. Omstreeks 1895 was die wit bevolking sowat 245 000, van wie sowat 70 000 uitlanders was, veral Engelse, en die swart bevolking sowat 625 000. Pretoria met sy elektriese ligte en breë strate het ’n wit bevolking van sowat 6000 gehad, en Johannesburg, ook met elektriese krag en selfs trems, meer as 100 000 mense, van wie die helfte wit mense was.

Die netwerk van spoorlyne wat binne enkele jare aan die Rand gebou is, het tot die snelle ontwikkeling van Johannesburg bygedra. Weswaarts is die lyn gou verleng na Roodepoort en Krugersdorp (1891), Randfontein (1896) en daarvandaan na Potchefstroom (11 Januarie 1897) en Klerksdorp (3 Augustus 1897). Eers ná die Anglo-Boereoorlog, op 6 April 1906, is die lyn tussen Klerksdorp en Veertien Strome geopen. Germiston het gou die knooppunt geword vir die lyne na Johannesburg, Vereeniging en Pretoria. Die Pretoria-Germiston-lyn is op 1 Januarie 1893 vir verkeer oopgestel. Ritte van Park-stasie in Johannesburg tot in Pretoria het 3 uur 2 minute geduur en die terugreis 3 uur 52 minute omdat laasgenoemde hoofsaaklik opdraand was.

Van 1893 af was dit moontlik om per trein van Johannesburg en Pretoria deur die Vrystaat na Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen te reis en van 1895 af ook na Durban. Die skrywer MER, wat in Johannesburg was, herinner haar dat die passasierswaens geen gange of waskamertjies gehad het nie. Elkeen het in Johannesburg in sy kompartement geklim, en weer op Worcester afgestap. “Maar daar was al slaapbanke, baie hard, maar jy kon jou tog uitstrek.” Hulle het groot kosmandjies saamgeneem. Daar was altyd ’n groot brood, met ’n bakkie botter en ander smeergoed; borde, messe en vurke; koek, lekkers en vrugte as dit verkrygbaar was. Verder was daar ’n seilwatersak en ’n spirituslampie; koffie en tee en gekookte melk wat ondanks die kook tog nie langer as die eerste lang dag gehou het nie. Elkeen het sy koffie in die trein gemaak, en nooit het iets aan die brand geraak nie. By stasies soos Springfontein en Beaufort-Wes kon die reisigers uitklim en ’n goeie warm maaltyd gaan nuttig. So baie reisigers het dit gedoen dat daar nie tyd of plek vir almal was om te gaan aansit of bedien te word nie. Daarom moes hulle maar frikkadelle of hoender in die kosmandjie pak.

Intussen het ’n nuwe era in die vervoerwese aangebreek. Pres. Kruger het die eerste motor in Suid-Afrika verwelkom. Twee inwoners van Pretoria, JP Hess en AE Reno, het in Duitsland ’n Benz Velo gekoop en na dié stad gebring. Dit is op 4 Januarie 1897 op die Bereapark-skouterrein vertoon. Al die belangrike mense in die republiek was teenwoordig, ook die eregas pres. Kruger. Hy het ’n spesiale gedenkpenning vir die geleentheid laat slaan. Hess het ’n entjie met die Benz gery en Kruger genooi om op te klim, maar hy het grappenderwys geantwoord: “Nee, dankie. Netnou blaf ’n hond en skrik hy en gooi my af!” ’n Koffiehandelaar, AH Jacobs, het hierdie motor gekoop en enigiemand wat ’n pond koffie (sowat 500 gram) koop, kon gratis na die motor gaan kyk.

Van 1892 was dr. Nicolaas Mansvelt superintendent van onderwys. Hoewel ’n Nederlander van geboorte, was hy al lank in Suid-Afrika, sedert 1874 as dosent by Stellenbosch. Onder hom het die onderwys gevorder; in 1899 was daar 17 523 kinders op skool. Daarby was dit op hoë peil – gebaseer op wat in Nederland aan die Christelike skole onderrig is. In die Kolonie en Natal was dit die strewe om die Afrikanerkind van sy volk te vervreem, in Transvaal was dit die strewe van Mansvelt om van die Afrikanerkind ’n nuttige lid van sy volk te laat word, sê GD Scholtz. Die Staatsgimnasium in Pretoria was in standaard en onderwysmetodes sonder gelyke in Suid-Afrika, het ’n Britse onderwysman, Fabian Ware, erken. Mansvelt het heelparty teenstanders gehad – onder andere sekere NG predikante wat bang was vir die Hollandse “modernisme”, en meer Engels wou hê.