REPUBLIEKWORDING EN “DIE DRIE VAN MANNETJIES ROUX”

Te midde van die debatte van 1960 was daar ’n verkiesingsveldtog aan die gang. Op 5 Oktober 1960 is ’n referendum gehou oor die vraag of die land ’n republiek moet word. Met 850 458 stemme teenoor 775 878 het die kiesers ten gunste daarvan besluit. Op 15 Oktober het 70 000 mense ’n dankfees, gereël deur die FAK, in die Amfiteater van die Voortrekkermonument bygewoon.

Die ou grondwet is in hoofsaak behou, maar die goewerneur-generaal (verteenwoordiger van die Britse koning) is deur ’n staatspresident vervang. Afrikaans en Engels het amptelike tale gebly. Die regering wou dat die land binne die Statebond hou, maar toe dit in 1961 op ’n konferensie van Statebondspremiers bespreek is, was daar soveel teenkanting dat Verwoerd ’n aansoek om behoud van lidmaatskap teruggetrek het. Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n republiek geword, met die Vrystater Charles Robberts Swart as eerste president.

Hoewel dit nie deel van dieselfde proses was nie, het ook die Britse geldstelsel verdwyn. Op 14 Februarie 1961 het desimale geld die óú ponde, sjielings en pennies vervang. Die radio het die publiek help opvoed met die liedjie “Daan Desimaal, die Rand-sent-man”. Suid-Afrika se geslaagde oorskakeling het momentum gegee aan desimale geldstelsels in Statebondslande soos Australië (1966) en Nieu-Seeland (1967). Ook die duim-voet-jaart-myl-lengtemate, die ons-pond-gewigte asook die pinte, kwarte en gellings is ná enkele jare deur die metrieke stelsel vervang. Met dié proses is op 1 April 1971 begin.

Betrekkinge tussen Afrikaners en Engelssprekendes het verbeter. Verwoerd het die klem al sterker op blanke eenheid as op Afrikanernasionalisme geplaas. Sommige Afrikaners het hulleself eerder (Afrikaanssprekende) Suid-Afrikaners genoem as Afrikaners. Ook die Engelssprekendes was toenemend krities teenoor Brittanje weens sy optrede in Afrika.

Tog is daar op die rugbyveld ’n stukkie Anglo-Boereoorlog geveg tydens die toer van die Britse Leeus in 1962. Hierdie toer is afgesluit met ’n toets in Bloemfontein. Dis waar Mannetjies Roux die beroemde drie gedruk het waarvan Laurika Rauch sing in die liedjie van haar oom wat koffie drink met die een oog toe en weer praat oor “die drie van Mannetjies Roux”. Louis Bothma beskryf in Huilwater daardie toer in sy politieke konteks. Die eerste toets op Ellispark het gelykop geëindig: 3-3, en die Springbokke het die tweede en derde gewen: 3-0 in Durban en 8-3 in Kaapstad. Vir die tweede toets moes ’n advertensiebord met die Down a Lion verwyder word. Die vierde toets was op 25 Augustus. Spesiale treine het die geesdriftiges gebring: 700 uit Kimberley, 400 uit Kroonstad en 450 uit Vryburg. Dan het ’n “jollie klomp” ook nog met die “wyntrein” uit die Kaap aangekom. Daar was ondersteuners tot sover as Otjiwarongo.

Op daardie koue wintersmiddag het 60 000 toeskouers gesien hoe die Springbokke die Leeus met 34-14 verslaan. Louis Bothma vertel verder: “Minute voor die eindfluitjie het Mannetjies ’n lang aangee min of meer op die middellyn gekry. Die skare het na hul asems gesnak. ’n Verslaggewer Herman Steytler, het die drie só beskryf: Roux is in sy eie helfte van die veld weggestuur. Vir Brophy het hy met ’n buiteswenk lug i.p.v. sy bene laat gryp, die oorstormende Rogers met ’n binneswenk heeltemal geklop, ingeswaai en veldaf op Wilcox afgepeil. Met fyn oorleg het hy Wilcox grenslyn toe getrek en toe met ’n rigtingverandering na binnetoe die heelagter treë aan sy linkerkant laat staan en wonder wat van Roux geword het. Alleen-alleen het hy oorgenael en naby die pale gaan druk.”

Dit was dan die legendariese drie van Mannetjies Roux.