SPRINGBOKKE SPEEL TEEN DRIE RUGBYLANDE

Paul Roos se toerspan na Engeland in 1906 (kyk by 25 Augustus) het die grondslag gelê vir Suid-Afrika se roem as rugbyland. In alle toetse teen Engeland sedert daardie jaar het Suid-Afrika ’n geringe voorsprong geniet tot 1974. In ’n Engelse toer na Suid-Afrika was in 1924: drie toetsoorwinnings vir die Springbokke en een toets gelykop, maar die Britte is in daardie toer erg geteister deur beserings. In die toer van 1938 is die Britse span die eerste keer Lions of Leeus genoem – hulle het met twee toetse teen een verloor.

Die Springbokke se gedugste teenstanders was die All Blacks. In 1921 het die eerste span – onder Theo Pienaar – in Nieu-Seeland gaan speel. Nieu-Seeland het die eerste toets gewen, Suid-Afrika die tweede en die derde was gelykop. Die eerste All Black-toer na Suid-Afrika was in 1928 en die span is beskou as die beste wat ooit ’n toer onderneem het.

Die skrywer ID du Plessis, wat ook sportjoernalis by Die Burger was, vertel van die eerste toets in Durban. Bennie Osler het die eerste veertien punte met skoppe aangeteken en toe het Jack Slater die telling afgerond “met ’n sierlike duikslag in die hoek”. “Daardie aand het die All Blacks druipstert die onthaal ter ere van die besoekers bygewoon. En toe het hulle die tweede toets gebuit en nadat Suid-Afrika die derde toets gewen het, die Springbokke in die vierde op ’n sopnat Nuweland geklop.” Bennie Osler was ook kaptein van die span wat Engeland in 1931 besoek het.

Die eerste Australiese span het Suid-Afrika in 1933 besoek. In 1921 was die Suid-Afrikaners wel in Australië, maar rugby was toe nog nie daar so sterk nie en daar is geen toetswedstryde gespeel nie. Die Wallabies het in 1933 twee van die vyf toetse gewen. Die kaptein van die Springbokspan wat Australië en Nieu-Seeland in 1937 besoek het, was Philip Nel. Dit was glo een van die bes gebalanseerde spanne in die geskiedenis. Hulle het 26 van die 28 wedstryde gewen en twee verloor. Hulle het die twee toetse teen Australië gewen en vir die eerste keer is Nieu-Seeland in ’n toetsreeks verslaan met twee wedstryde teen een.

Die rugbytaal was aan die begin Engels en dit het die Afrikaanse koerante moeite gekos om goeie terme te vind. Lesers het al meer in sport belang gestel, en die koerante was van die vernaamste skeppers van sportterme. JJ Smith, eerste redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, het baie daarmee gehelp.

Vir half-back het die joernaliste lank gesukkel met die onbevredigende half agter, wat nog die onderskeid tussen fly-half en scrum-half onopgelos gelaat het. Op ’n dag sit ’n Burger-joernalis, Herman Steytler, saam met Paul Roos langs die Wilgenhof-veld op Stellenbosch en kyk. Steytler peins hardop: “Wat kan ons tog sê vir daardie man wat agter die skrum staan en daardie man wat agter hóm staan?” Paul Roos antwoord: “Ja, weet jy, hulle is eintlik die skakels tussen die voorlyn en die agterlyn.” “Daar’s hy mos!”, roep Steytler uit. Van toe af was dit skrumskakel en losskakel.