21 OKTOBER

GEBEURE

1899 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Elandslaagte

Genl. JHM Kock, met die Johannesburg-kommando en die Duitse en die Hollandse korps onder hom, het op 19 Oktober daarin geslaag om die Britse spoorverbinding tussen Ladysmith en Glencoe gedeeltelik te ontwrig. Daarna het Kock so oormoedig geraak dat hy besluit het om die spoorwegstasie Elandslaagte, sowat 24 km noord van Ladysmith, te beset. Dit was ’n growwe flater want sy mag was hiervoor veels te swak. Lt-genl. sir George White, bevelvoerder van die Britse mag by Ladysmith, het na ontvangs van die tyding van Kock se aantog ’n sterk afdeling onder genl-maj. JPD French gestuur om die Boeremag tegemoet te gaan. By die aanskoue van die Britse oormag, het die hardkoppige Kock nietemin besluit om in plaas van terug te trek, vas te skop en te veg. Dit was ’n rampspoedige besluit. Slegs sestig persent van sy mag het ontkom terwyl die res óf gesneuwel óf gewond óf krygsgevange geneem is. Onder die gesneuweldes was dr. HJ Coster, voormalige Staatsprokureur van die ZAR en stigterslid van die Hollanderkorps, ’n man wat hom buitengewoon dapper gedra het in die veldslag. Genl. Kock self het, swaar gewond, in die hande van die Britte geval en is tien dae later op Ladysmith oorlede.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Kruger vertrek na Europa

Paul Kruger vertrek met die oorlogskip Gelderland na Europa; die skip is oorspronklik deur koningin

Wilhelmina na Lourenço Marques gestuur.

1914 – Afrikanerrebellie

Ongeveer op hierdie datum ontmoet generaal Louis Botha op sy eie versoek vir kommandant Alberts in Pretoria om by hom uit te vind wat in sy omgewing gaande was wat die opstandigheid betref. Alberts het destyds op die plaas Damhoek, naby Hekpoort, gebly en was die vrederegter in daardie gebied. Alberts het geantwoord dat hy nie seker was nie, omdat hy vir ’n paar dae vir besigheid in Krugersdorp was. Botha het vir Alberts ingelig dat Christiaan Beyers hom met ’n gewapende kommando in die Skeerpoort-omgewing bevind het. Hy het voorts vir Alberts gevra om terug te keer na sy plaas en die burgers te gaan oorreed om huiswaarts te keer en hul opstandigheid te laat vaar.

 

GEBOORTES

1884 – Johan Bernard Zulch Keet, stigter en lewenslange leier van die Asafkoor († 31 Julie 1965)

Johan Bernard Zulch Keet het, as stigter en lewenslange leier van die Asafkoor, op musiekgebied ’n leidende rol onder die Afrikaners van Johannesburg gespeel. Aanvanklik het hy gemeentelike en streekkore in verskeie voorstede van Johannesburg, met die hulp van sy vrou as orrelis en begeleidster, gestig. In die vroeë twintigerjare het die kore, wat mettertyd tot ’n sentrale koor saamgesnoer is, aan die Johannesburgse Afrikaners ’n belangrike kultuurinstrument gebied. Die eerste uitvoerings van Die Messias en verskeie operas in Afrikaans is deur die medewerking van die koor moontlik gemaak. Hulle het onder verskeie beroemde buitelandse dirigente gesing en ook in ander dorpe en stede opgetree. Hy is op 31 Julie 1965 oorlede.

1894 – Irma Stern, kunsskilder († 23 Augustus 1966)

Irma Stern was een van die belangrikste en mees dinamiese Suid-Afrikaanse kunstenaars en ofskoon haar kuns nie aanleiding gegee het tot die ontstaan van ’n bepaalde skool of ’n groot aantal navolgers nie, is haar invloed wel te bespeur, veral in die vroeëre werk van Alexis Preller. Sy was ’n stimulerende invloed in die ontwikkeling van die skilderkuns en kunswaardering in Suid-Afrika en die grootste eksponent van die ekspressionisme in hierdie land.

 

STERFTES

1806 – Marthinus Adrianus Bergh, leier van die Kaapse burgerlike petisie na Nederland (* 9 Julie 1747)

1924 – Elsie Francina Eloff-Kruger, dogter van pres. Paul en mev. Gezina Kruger (* 19 Maart 1853)

Elsie Eloff-Kruger was ’n dogter van pres. Paul en mev. Gezina Kruger, ’n weldoener en gesiene inwoner van Pretoria.

1952 – Hans Merensky, geoloog, prospekteerder, wetenskaplike, omgewingsbewaarder en weldoener (* 16 Maart 1871)

Hans Merensky was ’n Suid-Afrikaanse geoloog, prospekteerder, wetenskaplike, omgewingsbewaarder en weldoener. Hy was die ontdekker van: (a) ryk alluviale diamantneerslae by Alexanderbaai in Namakwaland; (b) reuse platinum- en chroomriwwe by Lydenburg, Rustenburg en Potgietersrus wat gelei het tot die oprigting van die wêreld se grootste platinummyne; (c) fosfate en koper by Phalaborwa in die Transvaalse laeveld; (d) goud in die Vrystaat en (e) die grootste chroomneerslag ter wêreld by Jagdlust naby Pietersburg.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/